Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vir dood agtergelaat in die koue
Daleen van der Hoven
Nie die nagmerrie-aand in Julie óf die twee daaropvolgende breinoperasies wat sy moes ondergaan, het die ystervrou van Zastron, Daleen van der Hoven (80), verhoed om terug te keer plaas toe nie. Foto: Deon Raath

Sy is op ’n wintersaand vroeg in Julie wreedaardig met ’n ploeg se tand aangerand, ontvoer, oor die Lesotho-grens geneem en in temperature van -5 °C vir dood agtergelaat.

Nie dié nagmerrie-aand óf die twee daaropvolgende breinoperasies wat sy moes ondergaan, het die ystervrou van Zastron, Daleen van der Hoven (80), verhoed om terug te keer plaas toe nie.

“Die boere en die plaaslike swart mense is almal ewe ontsteld oor hoe erg hulle my verniel het,” vertel Van der Hoven die afgelope week op die familieplaas, Wanatha, vir Rapport.

“Swart en wit lewe na aan mekaar hier, maar die gebrek aan ’n ordentlike grens maak dinge moeilik.”

Sy was op 2 Julie alleen op die plaas en het voordat sy gaan slaap het oudergewoonte seker gemaak al die deure en vensters was gesluit.

“Omtrent 01:00 het ek wakker geword toe hulle die veiligheidshek in die gang oopgebreek het. Hulle het die buitenste veiligheidshek met ’n draagbare gasvlam in stilte oopgebrand. Die binneste veiligheidshek het hulle met geweld oopgebreek. Asof hulle geweet het dis die laaste struikelblok,” sê Van der Hoven.

Toe sy by haar positiewe kom, het ’n vreemde man langs haar bed gekniel. “Hy het my arm vasgegryp terwyl nog drie mans aan die voetenent gestaan het.”

Sy het instinktief probeer om regop te sit, toe klap die eerste hou. “Een man het my met al sy mag met ’n ploeg se tand teen die voorkop geslaan. Ek het nog nooit soveel sterre gesien nie – sulke groot geel sterre.”

Die mans het haar uit die bed opgetrek.

Die ploeg se tand waarmee die aanvallers vermoedelik ’n veiligheidshek in die huis oopgebreek het.

“Toe ek regop is, het die man my weer geslaan, maar hierdie keer teen my agterkop.”

Sy raak stil en byt op haar onderlip. “Later, by die hospitaal in die hoësorgeenheid, vra die suster my: ‘Mevrou weet jy hoe lyk jou rug?’ Dit was soos blou swamme my hele rug vol. Ek kan daardie houe nie eens onthou nie.”

Sy sê op die plaas is al die verskillende bossies sleutels duidelik genommer.

“Die mans het spesifiek gesê hulle soek die nommer 1-sleutel. Dit is my Audi se sleutel. Hoe hulle dít geweet het, kan ons net raai.”

Haar aanvallers het haar toegelaat om ’n japon oor haar dun nagrokkie aan te trek.

“Hulle het my sentimentele erfstuk-juwele gevat en my selfoon, geld, klere, twee windbukse, ’n skyfskietgeweer en ’n ou stompneus-.303.”

Die mans het haar beveel om by die voordeur uit te gaan, maar sy het haar voet neergesit.

“Daar was oral glasstukke by die voordeur. Ek het vir hulle gesê ek kan nie sonder skoene daardeur loop nie, toe vat hulle my agterdeur toe,” sê Van der Hoven.

Buite het nóg ’n aanduiding gewag dat haar aanvallers oor binnekennis beskik het. “Ons motorhuis se deur het ’n trick. Een van die slotte het gebreek en daar is net ’n ysterpennetjie ingedruk. As jy die deur net oopmaak, gaan jy hom breek. Hulle het die deur reg oopgemaak.”

Die aanvallers het die gesteelde goedere in haar kar gelaai en haar tussen twee van hulle maak sit.

Daleen van der Hoven
Daleen moes twee breinoperasies ná die aanval ondergaan. Foto: Marietjie Gericke

“Hulle het met die kar gesukkel. Ek moes die ligte aanskakel.”

Onderweg na die Lesotho-grens moes hulle ’n steil bergpad uit.

“Die kar het begin terugrol, toe dwing hulle my om te bestuur. Brilloos en met blou geslaande oë het ek grens toe bestuur.”

Anderkant die grens moes sy stop en uitklim.

“Die een man het om die kar na my toe geloop terwyl hy sy hand in sy sak steek. Ek onthou ek het net gedink: Wat nou nog? Wat nóg in hierdie seermaak-proses? Maar toe hy sy hand uithaal, was ons bakkie se sleutels daarin.”

Dit was omtrent ses kilometer se stap plaas toe en sy kon dit nie maak nie.

“Naby my was ’n hut wat met doringdraad omhein is. Ek ken die vrou wat daar woon. Sy is een van ons werkers se ma. Ek het al vir haar kos deur die grensdraad gegee,” sê Van der Hoven.

Met haar hande het sy die doringdraad om die hut losgewoel gekry en aan die venster geklop.

“Die vrou het dadelik gevra of ek water of tee wou hê. Ek het net vir water gevra. Ek het hulle gevra of ek my seun Wally kon bel, toe sê sy vir my: ‘Maar Mevrou, Wally is dan vanaand in Bloemfontein. Jy moet vir Tommy bel,’ wat jou wys hoe goed ons mekaar ken.”

Omstreeks 03:20 het hulle die Van der Hovens se buurman Tommy Rautenbach gebel.

Daleen van der Hoven
Wally van der Hoven is woedend omdat die uitleweringsproses van een van sy ma se vermeende aanvallers sloer. Foto: Deon Raath

“Vier vroue en twee mans het in stilte by my gesit en my opgepas totdat Tommy gekom het.”

Sy raak vir ’n oomblik emosioneel. “Ek het ’n zip-geluid gehoor, toe sien ek die vrou haal twee nuwe komberse uit en draai dit om my, so bebloed soos ek was.”

Haar dogter Lize het haar uiteindelik komberse en al na Bloemfontein gejaag.

Wally van der Hoven is woedend. “Die polisie het later twee verdagtes positief aan vingerafdrukke op die toneel geïdentifiseer. Albei het vorige veroordelings,” sê Wally.

Die twee verdagtes is later deur die Lesotho-polisie in hegtenis geneem.

“Die mans was met draad vasgebind en agterop ’n oop bakkie gelaai, toe spring een af en hardloop. Hy is steeds op vrye voet.”

Die ander verdagte is steeds in aanhouding in Lesotho.

Vir ’n oomblik breek die Van der Hovens se sin vir humor deur die aakligheid. “Hulle wou nie kos hê nie, net geld en vuurwapens. Daar was drank ook wat hulle nie gevat het nie. In lockdown, dís selfbeheersing,” sê Wally laggend.

Brig. Vish Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het aan Rapport bevestig ’n verdagte word in Lesotho aangehou.

“Ons wag nou vir die nodige prosesse om in Lesotho afgehandel te word voordat ons sal weet of die verdagte uitgelewer sal kan word,” het Naidoo gesê.

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven  |  Zastron  |  Lesotho  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.