Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vir oulaas nostalgie vir Van Coke Kartel
Die oorspronklike lede van Van Coke Kartel is (van links) Jedd Kossew, Jason Oosthuizen, Francois van Coke en Wynand Myburgh. Foto: Craig Kolesky

Van Coke Kartel (VCK) kom tot ’n einde. Maar Francois van Coke pink nie ’n traan daaroor nie, want sy solo-loopbaan én Fokofpolisiekar doen goed.

Minder gelukkig is Dylan Hunt, die “nuwe trommer” van VCK wat spesiaal Kaap toe getrek het om hom by die rockgroep aan te sluit.

VCK toer nou vir oulaas, maar Hunt is nie deel hiervan nie. Hulle gebruik eerder Jason Oosthuizen, die vorige trommer van VCK wat destyds groener weivelde in Amerika gaan soek het.

Dylan Hunt het in 2014 spesiaal Kaap toe getrek om vir Van Coke Kartel te gaan speel. Foto: Mary-Ann Palmer

“Ek is teleurgesteld, want ek hou baie daarvan om saam met hulle te speel,” sê Hunt, voorheen die trommer van Petroy, ’n hardekwas metalgroep van Gauteng wat nie meer bestaan nie.

“Dis heeltemal verstaanbaar,” sê Hunt. “Jason het op al die CD’s se opnames gespeel. No hard feelings. Dis sy gig dié. Elke band het sy limiet.”

Van Coke se solo-loopbaan blom in wye rigtings. Hy sing vanjaar vir die derde keer in die ondergrondse supergroep Blood Brothers. Hy het ook vir Afrikaans is Groot se nuutste keurspelalbum, 40 grotes in Afrikaans, ’n splinternuwe weergawe van Johannes Kerkorrel se treffer “Hillbrow” opgeneem.

“VCK het meer as ’n jaar laas opgetree,” sê Van Coke. “Dit is nie die moeite werd om aan te gaan nie. Ons het besluit om dit eerder te stop, maar ons hou darem ’n laaste toer sodat ons met ’n bang kan uitgaan.”

Die nostalgie is ook daar.

“In die afgelope week kon ek vir oulaas die waardering van dié band opnuut ervaar,” sê Van Coke.

Jedd Kossew, VCK se kitaarspeler, speel nou saam met Van Coke in sy ­solo-projek, Die Gevaar. Wynand Myburgh, VCK en Fokofpolisiekar se baskitaarspeler, bestuur deesdae Jack Parow se sake en het vanjaar selfs in dié rapper se Europese konserte saamgespeel.

Intussen fokus Myburgh en Van Coke albei op hul eerste baba, Fokofpolisiekar. In hul onlangse geldinsameling om ’n nuwe album te maak, het hul aanhangers meer as ’n miljoen rand daarvoor geskenk.

Die album is al 80% klaar.

  • In 2014 het VCK se album Bloed, sweet & trane ’n Sama-toekenning vir rockmusiek gewen. Die noordelike deel van hul laaste toer is reeds verby, maar in die komende week tree hulle vir oulaas in Stellenbosch en Kaapstad op.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.