Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vishoek-betoger in arres wat glo joernalis se masker afpluk
Een van die betogers was nog besig om sy broek aan te trek, toe sak joernaliste op hom toe. Foto: Jaco Marais

’n Groep betogers wat gekant is teen die dra van gesigmaskers en sê dit gaan oor beheer en nie ’n virus nie, se betoging Saterdagoggend by die Vishoek-hoofstrand het uiteindelik tot ’n inhegtenisneming gelei.

Een van die groep van sowat 20 betogers, wat nie glo dat gesigmaskers die verspreiding van die koronavirus verhoed nie, het volgens ’n plaaslike joernalis, Monique Mortlock, haar gesigmasker afgeruk toe sy met hom ’n onderhoud gevoer het.

Mortlock het gesê die man het aanhoudend gesê hy kan nie hoor wat sy sê nie, hy kan nie hoor as mense met f****n maskers aan praat nie. Hy het glo onverwags haar gesigmasker van haar gesig afgepluk. Sy het ’n klag van aanranding by die polisie gaan indien.

Die man het van die toneel weggery, maar weer later opgedaag met slegs sy onderbroek aan, waaroor hy ’n broek aangetrek het toe hy uit sy motor geklim het.

Die polisie het die man in hegtenis geneem en hy is agter in ’n polisievangwa daar weg.

Die groep sê hulle staan bekend as WAM oftewel die We are More-drukgroep.

Die groep sê die staat van inperking moet in sy geheel opgehef word en dat Suid-Afrika besig is om in ’n kommunistiese land te ontaard.

Een van die betogers het ’n wit T-hemp aangehad waarop daar op die rugkant geskryf is: “Die virus is vrees, dit word deur die media versprei.”

Op die voorkant staan: “Dit gaan nie oor ’n virus nie, dit gaan oor beheer.”

Nadat die polisie op die toneel opgedaag en die organiseerder in hegtenis geneem het, was die groepie betogers se fut ook uit en hulle het uiteengegaan.

Die We are More-drukgroep sê mense moenie vryheid vrees nie. Foto: Jaco Marais
Die polisie neem ’n betoger in hegtenis. Foto: Jaco Marais
Die betoger is in ’n vangwa van die Vishoek-hoofstrand se parkeerarea weggeneem. Foto: Jaco Marais
Op een van die betogers se T-hemde is die groep se boodskap duidelik: ‘Dit gaan nie oor ’n virus nie, dit gaan oor beheer.’ Foto: Jaco Marais
Nog ’n betoger se boodskap is dat ouetehuise oopgemaak moet word vir besoekers sodat mense met hul gesinne kontak kan hê. Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Vishoek  |  Kaapstad  |  Koronavirus  |  Betoging  |  Joernalis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.