Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlerke nog sterk ná 50 j. in die lug

Lugwaardin wil nog nie aftree, mis net geselsies met passasiers in die dae voor oorfone, flieks op vlugte...

Na ’n halwe eeu as lugwaardin het Marion Fernandes (67) omtrent alles gesien: kollegas wat sterf in vliegongelukke, ’n amperse noodlanding in die oseaan en ’n befoeterde Pik Botha wat sy bekoor het om een van haar grootste aanhangers te word.

Marion Fernandes (67) vier vanjaar 50 jaar as ’n lugwaardin. Foto: Edrea du Toit

Fernandes vier vanjaar haar 50ste jaar in die lug – selfs nadat daar 30 jaar gelede ’n vereiste ingestel is dat lugwaardinne nie “die fleur van hul jeugdigheid” mag verloor nie.

Trouens, toe sy in 1969 begin werk het as lugwaardin by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het sy gehoor lugwaardinne se rakleeftyd is niks meer as 35 jaar nie.

Fernandes onthou hoe sy as vyfjarige al besluit het sy wil ’n lugwaardin word.

Sy het die pragtige, stylvolle vroue met hul byekorf-haarstyle op die destydse Jan Smuts-lughawe gesien toe sy haar pa, Douglas, gaan afsien het op ’n sakereis.

“Ek vra toe my pa wat doen hierdie meisies, en in plaas daarvan dat hy hul werk as onbelangrik afmaak, verduidelik hy toe vir my watter wonderlike werk hierdie vroue op die vliegtuig verrig,” sê Fernandes.

I was hooked!

“Ek onthou nog hoe ek my arme gesin in rye laat sit het, en ek dan vir hulle kos en koffie aangedra het.”

Soos die jare aangestap het, wou die base met ’n voorliefde vir jong lugwaardinne hoor of sy nie liewer ’n instrukteur op die grond wil word nie, maar Marion het vasgeklou.

“Ek wonder wel of iemand ooit so ’n briefie moes kry om te vra oor die jeugdigheid? Dit sou darem moes aaklig wees.”

Marion Fernandes in haar eerste jaar as ’n lugwaardin in 1969.
Fernandes by die monument vir die passasiers wat in die Helderberg-ramp dood is.

Ná 29 jaar by die SAL het sy kortliks by SA Express gewerk, voor sy haar in 1998 by Comair, wat British Airways en Kulula.com bedryf, aangesluit het. Sy vlieg elke week tussen Johannesburg en Durban, of Johannesburg en Kaapstad.

In die beginjare het sy so baie oorsese reise gedoen dat sy nie eens kan sê hoeveel lande sy al besoek het nie.

Lissabon in Portugal, haar land van herkoms, was haar gunsteling omdat die mense so vriendelik is.

Van haar bekendste passasiers was die Grease-akteur John Travolta, wat sommer ingespring het om te help koffie en tee uitdeel op ’n vlug vanaf New York, asook oudminister Pik Botha.

“Pik het my een keer ná ’n aankondiging geroep en gesê ek praat die swakste Afrikaans wat hy nog ooit gehoor het.”

Ná die vlug het Botha egter versoek dat sy moes diens doen op al sy vlugte.

“Verlede jaar by sy begrafnis, toe begin hulle die diens met ’n gedig van hom wat begin: “Ek is ’n passasier.””

“Dit was vir my so mooi.”

Die keer wat sy die grootste geskrik het, was op pad na Rio de Janeiro in Brasilië toe die vlieëniers skielik hul kaarte uitgehaal het.

Marion Fernandes (68) vier vanjaar 50 jaar as ’n lugwaardin.Foto: Edrea du Toit

“Ek het dadelik geweet daar was ’n probleem, en toe ek vra wat aangaan, word daar vir my gevra of ek kan swem.”

Toe vertel hulle so ewe rustig dat ons nie moet bekommerd wees nie, hulle gaan lekker rustig op die see land dat die branders ons kan inbring strand toe

Die vliegtuig het winde van voor af begin tref, en die vlieëniers was nie seker of daar genoeg brandstof sou wees om die lughawe te haal nie.

“Toe vertel hulle so ewe rustig ons moenie bekommerd wees nie, hulle gaan lekker rustig op die see land dat die branders ons kan inbring strand toe.” Dié vliegtuig het dit net-net maar darem gemaak.

Van haar kollegas was minder gelukkig.

Op 28 November 1987 is 19 van haar kollegas en 140 passasiers dood toe ’n Boeing 747, die Helderberg, op pad vanaf Taiwan in die see neergestort het. Daardie aand, op pad na Lissabon, was die personeel in ’n somber bui.

“Maar toe was die passasiers so mooi met ons, dat selfs daardie dag ’n mooi herinnering is. Ek het aan die begin van die vlug vir die passasiers gevra of ons maar die koerante weggebêre kan hou, want ons vriende se gesigte pryk daarop, en elke liewe een het ons versoek gerespekteer.”

Fernandes het die oorsese reise laat vaar toe haar suster in 1998 dood is.

“Ek moes skielik ’n ma vir haar drie kinders word, en ek besluit toe om maar liewers net plaaslike vlugte te doen.”

Sy mis nie die lang reise nie.

“In die ou dae wou mense nog met jou geselsies maak. Deesdae sit almal net hul oorfone in en begin musiek luister of flieks kyk, so ek verdra dit liewer op korter vlugte as op ’n ellelange vlug na wie weet waar.”

Sy hoop om eendag net so lank soos haar heldin, die Amerikaanse lugwaardin Bette Nash, in die lug te bly. Nash is al 62 jaar in die lug, maar Fernandes vrees haar vlerke sal een van die dae geknip word. Maar self sal sy nie aftree nie, want selfs ná 50 jaar voel dit steeds nie soos werk nie.

“Hoe gaan daai gesegde nou weer? As jy iets doen waarvoor jy lief is, dan hoef jy nooit ’n dag in jou lewe te werk nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.