Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlieënier dood toe ligte vliegtuig neerstort
Die uitgebrande vliegtuigwrak. Die vlieënier, die enigste persoon in die vliegtuig ten tyde van die ongeluk, is op die toneel dood verklaar. Foto: Deaan Vivier

’n Vlieënier is Dinsdag dood nadat ’n ligte vliegtuig, vermoedelik ’n Piper, waarin sy van die Wonderboom-lughawe noord van Pretoria opgestyg het, neergestort het.

Die vlieënier, verbonde aan die Professional Flight Centre-vliegskool, se naam is nog nie bekend gemaak nie.

Sy was volgens die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die enigste persoon in die vliegtuig.

Die vliegtuig het kort ná opstyging in ’n oop stuk veld langs die Onderstepoort- Veterinêre Akademiese Hospitaal neergestort. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

“Ek het gesien iets is nie lekker met die vliegtuig nie, hy het so grond toe se kant gevlieg,” sê Piet Moagi, terwyl hy met die hand beduie hoe die vliegtuig se neus grond toe gewys het.

‘n Polisiehelikopter vlieg oor die toneel in die noorde van Pretoria waar ’n vlieënier Dinsdagmiddag verongeluk het. Foto: Deaan Vivier

Hy werk as veiligheidswag by die hospitaal, en het op die kampus gestap toe hy die vliegtuig vanuit die lughawe se rigting opmerk.

“Dit was vir my vreemd, hoe die vliegtuig gevlieg het . . . hulle vlieg mos gewoonlik reguit op sodat hulle hoog kan gaan,” sê Moagi.

Dit was toe dat hy die slag hoor.

“Ek het net BOEM! gehoor . . . toe weet ek dit is daardie vliegtuig wat hier oorgekom het wat geval het,” sê hy.

Moagi het tot by die grensheining gehardloop om te sien wat gebeur het. Hy skat dit was omstreeks 12:00.

Die vliegtuig het toe reeds in ligte laaie gestaan. Moagi kon nie nader gaan nie, maar het dadelik op sy selfoon ’n kollega gebel om hulp te ontbied.

Ek kon sien hoe hulle iemand gryp en uit die vliegtuig sleep, weg van die vlamme af.
Dié ligte vliegtuig het Dinsdagmiddag in ’n oop veld agter die Onderstepoort- Veterinêre Akademiese Hospitaal in die noorde van Pretoria neergestort. Foto: Deaan Vivier

Terwyl hy op die foon was, kon hy sien hoe plaaswerkers vanuit die oorkantste veld nader hardloop om die persoon uit die vliegtuig te haal.

“Ek kon sien hoe hulle iemand gryp en uit die vliegtuig sleep, weg van die vlamme af,” sê Moagi.

Vlamme het van die vliegtuig af vinnig oor die droë gras versprei, en die vrou se liggaam moes weer haastig verskuif word.

Volgens Xander Loubser, Ambulink-ambulansdienste se woordvoerder, is die vrou deur nooddienswerkers op die toneel dood verklaar.

Professional Flight Centre het by navraag aan Netwerk24 bevestig die vliegtuig behoort aan hulle. Die skool wou egter nie verder oor die saak uitwei nie “omdat die voorval eers ondersoek moet word”.

Kabelo Ledwaba, BLO-woordvoerder, sê ’n ondersoekspan is omstreeks 13:30 na die toneel ontbied.

”Meer besonderhede oor die voorval sal ná die ondersoek bekend gemaak word,” sê Ledwaba.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.