Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlieënier glo vroeër met minnares in swembad betrap

Die vlieënier van Botswana wat met ’n vliegtuig in die klubhuis van ’n vliegklub vasgevlieg het, is vroeër vanjaar glo saam met ’n minnares in die swembad by sy huis betrap.

Netwerk24 het van onberispelike bronne verneem dat ’n kollega van Charl Viljoen (37) se vrou, Natasha (32), hom by die egpaar se huis in die swembad saam met ’n ander vrou betrap het.

Charl Viljoen (37) Foto: Facebook

Dít is glo een van die redes waarom Viljoen op 17 Februarie uit die egpaar se huis getrek het. Hy en Natasha was nege jaar getroud en het ’n sewejarige seun.

Hulle was van bed en tafel geskei, maar geen amptelike skeiproses was aan die gang voor die vliegtragedie nie.

Viljoen het Saterdag teen skemer met ’n Beechcraft King Air B200-vliegtuig in die Matsieng-vliegklub se klubhuis in Rasesa, sowat 40 km noord van Gabarone, vasgevlieg. Die klubhuis, lugbeheertoring en 13 voertuie is in die vlammehel verwoes.

Natasha en hul seun moes saam met sowat 50 mense vlug toe haar man vyf keer lae verbyvlugte by die vliegklub gedoen het waar ’n ooievaarspartytjie gehou is.

Die vliegtuig het ’n springkasteel waar kinders baljaar het met enkele meters gemis voordat dit in die klubhuis ingeploeg het.

"Dit was verskriklik. Die kinders het gehuil en mense het geskree elke keer as die vliegtuig baie laag naby ons verbygevlieg het. Hy wou ons almal doodmaak," sê ’n ooggetuie.

Voertuigwrakke by die Matsieng-vliegklub in Botswana.

Viljoen het sedert die voorval in die swembad glo hard probeer dat sy vrou hom moet vergewe.

Volgens inligting het die Viljoen-egpaar glo ’n onstuimige huwelik gehad.

"Hy was besitlik en jaloers. Hy wou altyd weet waar sy is."

Daar was glo vorige kere dat die egpaar vir tye "uitmekaar" was, maar "sy het hom elke keer teruggevat want sy was bitter lief vir hom".

Hy het Natasha glo onlangs gebel en gevloek. Natasha was glo bang vir hom omdat "hy altyd gedreig het hy gaan iets doen".

Natasha het Woensdag alle foto’s van haar saam met haar man en seun van Facebook verwyder. Viljoen se Facebook-blad is ook Woensdag gesluit.

Charl en Natasha Viljoen in gelukkiger tye. Foto: Facebook

Koekies Koekemoer het Dinsdag op die blad geskryf: "Ai ou Charl. Jy was ’n yster op skool. Wie het nou gedink toe ek naweke by jou kom oorslaap het dat dinge so sou eindig? Gaan jou mis en die goeie tye altyd onthou. Rus sag, ou maat."

Natasha wil nie kommentaar lewer nie. Buks Viljoen, Charl se pa, sê die bewerings van ’n buite-egtelike verhouding is "snert".

Mense wat die egpaar geken het, sê hulle vermoed Viljoen het Saterdag "besef hy het haar (Natasha) vir altyd verloor".

Natasha was ontsteld toe Viljoen ongenooid by die vliegklub opgedaag het. Hulle het nié rusie gemaak soos mense kort na die voorval beweer het nie.

Hy is na die "doekebraai" vir die mans waar hy ’n bier gedrink en om 17:00 gery het. Veiligheidswagte het die vliegklub se hekke gesluit en is opdrag gegee om hom nie weer toe te laat nie.

Charl en Natasha Viljoen. Foto:Facebook

Viljoen het in sy bakkie na die Sir Seretse Khama Internasionale Lughawe in Gaborone gery, waar hy sonder toestemming die vliegtuig geneem het, wat aan Major Blue Air behoort en deur Kalahari Air Services, waar hy ’n vlieënier was, gebruik is.

Hy het ’n vriend uit die vliegtuig gebel en gevra waar Natasha is.

"Hy het gesê hy weet sy is daar en sy moet op die aanloopbaan gaan staan. Toe sê hy 'ek gaan julle almal nou iets wys' en sekondes later het hy in die gebou vasgevlieg," sê nog ’n ooggetuie.

Viljoen word Vrydag om 11:00 uit die Nederduits Hervormde kerk in Gaborone begrawe.

Meer oor:  Natasha Viljoen  |  Charl Viljoen  |  Botswana  |  Vlieënier  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.