Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlieënier ongedeerd, maar 'hartseer' oor 1946-vliegtuig
Pete Laatz (75) se Ryan Navion van 1946 in die “goeie ou dae”. Foto: Verskaf

’n Vlieënier van die Hekpoort-omgewing in Gauteng is ongedeerd ná ’n noodlanding, maar hy is baie hartseer daaroor dat sy veteraanvliegtuig nie so lig daarvan afgekom het nie.

Pete Laatz (75) het Donderdagoggend op sy plaas met sy Ryan Navion-vliegtuig van 1946 opgestyg, maar het nie ver gevorder nie toe die vliegtuig se enjin begin probleme gee.

“Dit was sowat 300 m tot 350 m bo die grond toe ek hoor dáár gee die motor in,” sê Laatz.

Dié gesoute vlieënier moes toe flink dink oor sy volgende skuif.

Lourie en Pete Laatz. Foto: Facebook

As vlieënier het Laatz meer as 27 000 vliegure agter die blad. Hy het ook Boeing 747’s en Airbus-vliegtuie gevlieg.

Met die motor wat stotterend tot stilstand gekom het net ’n halwe kilometer van Laatz se plaas af, het hy besluit om ’n noodlanding te doen.

Ongelukkig was daar heelwat groot bome in die veld en dit het geweldige skade aan die vlerke en romp van die vliegtuig veroorsaak.

Laatz was ongedeerd, maar sy hart is seer oor sy vliegtuig.

Hy het dié veteraanvliegtuig “baie jare terug al” gekoop by ’n persoon wat die vliegtuig opgebou het, maar sy vlieglisensie verloor het.

Laatz het elke jaar met sy Ryan Navion aan die Race for Rhinos in Botswana deelgeneem.

Die vlerke, onderkant en neus van Pete Laatz (75) se veteraanvliegtuig is tydens ’n noodlanding beskadig. Foto: Netcare911
Pete Laatz (75) moes Donderdagoggend ’n noodlanding uitvoer in ’n oop stuk veld nadat die vliegtuig se motor gestol het. Foto: Netcare911

Hy en sy vrou, Lourie, het ook die vliegtuig gebruik om vir vakansies Port Elizabeth toe te vlieg.

Lourie is hartseer oor die skade aan die vliegtuig, maar bly dat haar man ongedeerd is.

’n Deeglike ondersoek sal nog gedoen word om vas te stel hoekom die vliegtuig se motor gestol het.

* Die Ryan Navion is ’n Amerikaanse eenmotorige vliegtuig met vier sitplekke wat oorspronklik deur die Noord-Amerikaanse lugmag in die 1940’s ontwerp en gebou is.

Die Navion is spesifiek gebou vir die toenemende belangstelling in die burgerlugvaartbedryf ná die oorlog.

Die P-51 Mustang was die inspirasie vir die ontwerp van die Navion. (Bron: Wikipedia)

Meer oor:  Gauteng  |  Vliegtuigongeluk  |  Vlieënier  |  Noodlanding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.