Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlieënier was ‘goeie en gawe mens’

Die Suid-Afrikaanse vlieënier wat Saterdag met ’n vliegtuig in ’n vliegveld se klubhuis en lugbeheertoring in Botswana vasgevlieg het, was ’n goeie en gawe mens.

Dit is hoe vriende van Charl Viljoen (37) hom beskryf.

Wrakstukke van die vliegtuig by die Matsieng-vliegklub in Botswana. Foto: FACEBOOK
Charl en Natasha Viljoen in gelukkiger tye. Foto: FACEBOOK

Rochelle du Plessis was saam met Viljoen in die Hoërskool Zeerust in Noordwes. “Rus in vrede Charl, jy was ’n goeie ou,” het sy op Facebook geskryf.

’n Kennis van Du Plessis wat in Lichtenburg woon, maar nie sy naam genoem wil hê nie, sê hy het onlangs met hom sake gedoen. “Hy was ’n smart ou. Dit is baie hartseer wat gebeur het.”

Celesté Brümmer skryf op Facebook: “Rus in vrede, Charl, die oordeel kom ons nie toe nie.”

Die voorval maak wêreldwyd opslae en internasionale mediahuise het Maandag daaroor berig

Viljoen en sy vrou, Natasha (32), wat ook van Zeerust is, het Saterdag glo rusie gemaak by die Matsieng-vliegklub in Rasesa, sowat 40 km noord van Gaborone.

Natasha het ’n ooievaarspartytjie van ’n vriendin daar bygewoon.

Luidens ’n verklaring van die vliegklub het Charl as ’n “ongenooide gas” by die ooievaarspartytjie opgedaag.

Die Matsieng-vliegklub se klubhuis in ligte laaie nadat die vliegtuig dit getref het. Foto: FACEBOOK
Die spoedmeter van die vliegtuig wat Saterdag in die Matsieng-vliegklub se klubhuis ingeploeg het. Foto: FACEBOOK

Mark Mansfield van die Matsieng-vliegklub sê gerugte wil dit hê dat Viljoen en sy vrou rusie gemaak het. Dit is nie duidelik waaroor die beweerde rusie was nie.

Ek dink nie enigiemand sal ooit weet wat deur sy kop gegaan het op daardie oomblik nie. Sy familie vat dit baie swaar.

Naruschka Winter, Natasha se suster, ontken dit. “Ek dink nie enigiemand sal ooit weet wat deur sy kop gegaan het op daardie oomblik nie. Sy familie vat dit baie swaar.”

Die egpaar het ’n sewejarige seun en woon die afgelope tien jaar in Botswana.

Viljoen was ’n kommersiële vlieënier by Kalahari Air Services in Gaborone waar hy in Oktober 2018 begin werk het.

Ná die beweerde rusie het mense by die partytjie hom gevra om te gaan. Hy het toe in sy motor na die Sir Seretse Khama Internasionale Lughawe in Gaborone gery waar Kalahari Air Services gesetel is.

Mansfield sê Viljoen het minute voordat hy met die Beechcraft King Air B200-vliegtuig in die Matsieng-klubhuis ingeploeg het, verskeie kere uit verskillende rigtings baie laag naby die klubhuis en die lugbeheertoring verby gevlieg. Volgens hom het Viljoen nie toestemming gehad om met die vliegtuig te vlieg nie.

In ’n video wat van een van die verblyvlugte geneem is kan gehoor word hoe iemand in Engels sê "f*k hom".

Viljoen het ’n vriend van hom, wat by die klubhuis was, uit die vliegtuig gebel en gevra waar Natasha is. Die vriend het onraad vermoed en vir die sowat 50 mense in die klubhuis gesê om dit te ontruim.

Die Beechcraft King Air B200-vliegtuig. Foto: FACEBOOK
Die toneel van verwoesting by die Matsieng-vliegklub in Botswana. Foto: FACEBOOK
Uitgebrande voertuie naby die klubhuis. Foto: FACEBOOK

Oomblikke later het die vliegtuig die klubhuis getref.

Die lugbeheertoring en 13 voertuie is ook in die vlammehel verwoes waarin Viljoen dood is.

Niemand is beseer nie. Die Kgatleng-distriksraad se nooddienste is na die toneel ontbied. Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Meer oor:  Charl Viljoen  |  Botswana  |  Vliegongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.