Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vliegramp: Vlugingenieur sterf, vlieënier kritiek

Netwerk24 het betroubaar verneem die vlugingenieur, Christo Barnard, is die persoon wat Dinsdag dood is in die Wonderboom-vliegramp.

Hy was 54 jaar oud.

Die vlieënier, wat in ’n kritieke toestand in die hospitaal is, se naam is nog onbekend.

'n Facebook-inskrywing oor Christo Barnard wat in die Wonderboom-vlilegramp dood is.


Die vliegtuig het Dinsdagmiddag neergestort. Foto: Deaan Vivier

Die vliegtuig waarin hulle was, het Dinsdagmiddag laat op ’n oop stuk veld van ’n sakeperseel by die Molotopad neergestort nadat ’n gedeelte daarvan glo vlamgevat het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), kon Woensdagoggend nog nie veel meer besonderhede van die ongeluk bekend maak nie. Hy sê hul ondersoekspan was reeds vroeg op die toneel.

Volgens Ledwaba sal nog inligting deur die loop van die dag bekend gemaak word.

Jana Marx berig vir Netwerk24 uit Nederland dat die vliegtuig bestem was vir die Aviodrome-lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe.

Aviodrome het Woensdag in ’n verklaring gesê dié Convair 340, “ ’n besonderse vliegtuig”, het neergestort terwyl dit besig was om op te styg vir ’n toetsvlug voor die lang vlug na Nederland.

Lisette Kars, woordvoerder van Aviodrome, het aan Netwerk24 gesê hulle probeer nog uitvind wie almal op die vliegtuig was.

“Ons skakel nog met die plaaslike owerhede in Suid-Afrika om die besonderhede van die passasiers te kry. Ons het tot dusver nog net kontak gehad met die Aviodrome-personeel wat ook op die vliegtuig was, maar dit is nou ons eerste prioriteit om uit te vind wie nog daar was. Die personeel is darem nou almal uit die hospitaal.”

Sy bevestig dat Serena van Kammen, bestuurder van Aviodrome, reeds op ’n vliegtuig op pad na Suid-Afrika is om die betrokkenes by te staan. Volgens Kars het hulle nog geen verdere inligting nie.

Videomateriaal wat by die lughawe geneem is, wys ’n donker rookstreep agter die vliegtuig terwyl dit opstyg. Die vliegtuig het glo in ’n stadium omgedraai om na die aanloopbaan terug te vlieg, maar het onderweg daarheen neergestort.

Gerd Botha, wat naby die lughawe bly, het Woensdag gesê hy was nog op pad om iemand te probeer bel oor die rook wat by die linkerenjin uitkom, toe hy die slag hoor.

“Ek het gedink hulle is dalk net besig met ’n oefenlopie en sou omgedraai het,” sê Botha.

Volgens Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, was daar 19 mense aan boord. Hy het Dinsdagaand op die toneel bevestig dat een persoon dood en 18 beseer is. Die vliegtuig het ’n fabriek getref voordat dit neergestort het en twee mense in die fabriek is ook beseer.

Teen Woensdag het nooddienspersoneel nog nie die toestand van die ander beseerdes bekend gemaak nie.

Minstens drie helikopters het pasiënte wat in ’n kritieke toestand was, van die toneel na die hospitaal gebring.

Volgens inligting is die vliegtuig onlangs deur ’n Nederlander gekoop. Dit was die eerste vlug deur die nuwe eienaars. Al die passasiers was glo van Australië afkomstig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.