Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlugteling-krisis verander attraksie ‘in ’n hool’
Vlugtelinge woon reeds sedert einde 2019 op die historiese Groentemarkplein. Foto: Jaco Marais

Met haar boksie met slaai en melktert in die hand het ’n Kaapstadse prokureur dit Woensdag oor ’n stinkende vuil Groentemarkplein gewaag – net sodat ’n hawelose man dit uit haar hande gryp en doodluiters daarmee wegstap.

Dit is die werklikheid waarmee sakeondernemings en werknemers deesdae in die Kaapse middestad gekonfronteer word.

Die historiese Groentemarkplein – voorheen ’n belangrike toeristeattraksie – het in ’n “hool” vol “plasse urine en rioolvuil” verander sedert honderde vlugtelinge hul intrek verlede jaar hier geneem het.

Die 40 on Burg-hotel deel ’n muur met die Metodistekerk waar die vlugtelinge ingetrek het. Die ingang na die hotel is heel links op die foto. Foto: Jaco Marais

Die metroraad sê sy hande is afgekap nadat die hof verlede jaar nie ’n dringende interdik aan hom toegestaan het om die vlugtelinge te verwyder nie. Die partye gaan einde vandeesmaand terug hof toe nadat die regter hulle verlede jaar beveel het om ’n “werkbare langtermynoplossing” te vind.

Die 37-jarige prokureur vertel sy is Woensdag omstreeks 14:00 na die Food Lover’s Market by die Groentemarkplein om middagete te kry toe sy besteel is.

“ ’n ‘Bergie’ het skielik met uitgestrekte hande na my aangestap gekom.” Sy het gedink hy gaan vir haar kos vra, maar het nie verwag sy sou besteel word nie.

“Hy het die boksie gegryp. Ek het nog vasgeklou, maar toe ruk hy die boksie. Ek het maar laat los. Hy het doodluiters met sy buit weggeloop asof niks gebeur het nie.”

Sy sê sy was beslis nie van plan om naby haar werk met ’n hawelose man in die straat oor ’n boksie melktert te staan en baklei nie.

Vlugtelinge oorkant die Food Lover’s Market op die Groentemarkplein. Foto: Jaco Marais

Foto’s ‘vang nie die reuk vas nie’

Jaco Marais, Netwerk24-fotograaf wat Donderdagoggend op die toneel was en foto’s geneem het, sê ’n mens kan nie “daardie reuk van urine en riool op die Groentemarkplein in ’n foto vasvang nie. Die mense maak van ’n emmerstelsel gebruik. Hulle sê hulle doen hul besigheid in die emmers, waarna hulle dit in die oggende in die toilette op die Groentemarkplein uitgooi.”

Die vlugtelinge het die plein en die Metodistekerk hier in Oktober verlede jaar ingeneem nadat die polisie hulle by die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir vlugtelinge (UNHCR) uitgesit het.

Kerkdienste in die kerk is intussen ook weens geweld en voortgesette vyandigheid opgeskort.

Die Groentemarkplein was eens ’n gewilde toeristeattraksie, maar word nou as ’n “hool” beskryf. Foto: Jaco Marais

Lees ook: Kerk keelvol vir strydende vlugtelingleiers

Marais vertel die vlugtelinge slaap binne en buite die kerk terwyl kinders buite rondsit en klaarblyklik geen skoolonderrig ontvang nie.

Ondernemings in die gebied kry ook swaar sedert die vlugtelinge ingetrek het.

Die hotel 40 on Burg, wat reg langs die kerk geleë is en selfs ’n gemeenskaplike muur het, sê hy het al kansellasies gehad sedert die vlugtelinge ingetrek het.

’n Straatwerker maak voor die Groentemarkplein skoon. Foto: Jaco Marais

Tosca Korver, hoofbestuurder van die hotel, sê die probleem lê nie by die vlugtelinge nie, maar by hoe die situasie gehanteer word.

“Die gasvryheidsbedryf speel ’n groot rol in werkskepping en ons lok toeriste. Die stad het ’n finansiële inspuiting nodig, maar dit is nie meer die Kaapstad wat almal ken nie.”

Sy sê die boodskap wat aan die wêreld uitgestuur word, is dat hierdie probleem nie opgelos kan word nie. “Ons kan nie die vlugtelinge help nie. Dit is kommerwekkend dat ons nie die probleem kan oplos nie,” sê sy.

Korver sê 40 on Burg is maar net ’n jaar en ’n maand oud en hulle het reeds kontrakte vir 2021 verloor.

“Mense kla oor die lawaai. Ons kan nie mense in die voorste kamers plaas nie omdat hulle op die situasie uitkyk.

“Ons verloor nie geld nie, maar ons maak nie geld nie. Ek moet aan ons werkers dink, want as ons nie geld maak nie . . . Wat word dan van ons werkers?”

Honderde vlugtelinge het einde Oktober by die Groentemarkplein “ingetrek” nadat die polisie hulle uit die kantore van die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir vlugtelinge (UNHCR) gesit het. Foto: Jaco Marais

Rotte hardloop rond

Food Lover’s Market voel ook die impak.

“Die Groentemarkplein was nog altyd ’n toeristeattraksie en nou is dit ’n hool,” sê Marco de Abreu van Food Lover’s by die Groentemarkplein.

Hy sê die vlugtelinge gebruik die toilette in die gebou waarin Food Lover’s is.

Dié Food Lover’s maak van ’n R2-betaalstelsel gebruik vir sy toilette, maar volgens De Abreu glip die vlugtelinge agter klante in en gaan was hulself of slaap selfs in die kleedkamers.

“Mense is ontevrede oor hoe die situasie gehanteer word. Daar is urine en riool op die strate. Daar is letterlik plasse urine. Daar hardloop hordes rotte buite rond. Die mense woon op die straat en hulle was op straat.”

Hy sê die situasie raak hul verkope. “Toeriste het altyd die Groentemarkplein besoek, maar is hulle regtig nou nog welkom?”

Dit is hoe die Groentemarkplein gelyk het voordat die vlugtelinge stelling voor die Metodistekerk ingeneem het. Foto: Argief

Kaapstad ‘verloor beheer’ oor situasie

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit van die Kaapstadse metro, sê ernstige misdaad is steeds skaars in die middestad en die syfers vergelyk goed met hoe dit voor 2000 was.

“Ons erken egter dat die situasie agteruitgaan en dat ons beheer oor die situasie verloor,” sê Smith.

Hy sê hawelose mense en misdadigers wat die middestad binnekom, is ’n groot bydraende faktor.

Smith meen dié gedrag word aangemoedig omdat toeriste nie noodwendig klein misdade aanmeld nie.

“Misdaad is die Suid-Afrikaanse polisie, die Kaapstadse metro en provinsie se probleem, maar ek het nou al aanvaar dat hulle nie oplossings gaan bied nie en het daarom die bronne in die middestad begin aanpas,” sê Smith.

’n Lugfoto wat vroeër van die Groentemarkplein geneem is. Foto: Argief

Hy sê Dan Plato, burgemeester, het verlede jaar 18 ekstra beamptes aan die middestad toegeken, terwyl David Maynier, LUR vir toerisme in die Wes-Kaap, nog 20 bykomend toegeken het.

Die beamptes in die middestad het ook elektriese fietse gekry sodat hulle meer sigbaar kan wees.

Smith sê die metro se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit het sedert 2019 toegeslaan op mense wat op straat slaap en boetes aan hulle begin uitdeel, totdat die hof ’n stokkie daarvoor gesteek het. Dié uitspraak word op appèl geneem.

“Die kwessie met die vlugtelinge is effektief amper dieselfde.” Die hooggeregshof in Kaapstad het einde verlede jaar nie ’n dringende interdik aan die stad toegestaan om die vlugtelinge uit te sit nie en het die partye opdrag gegee om ’n langtermynoplossing te vind.

Smith sê hulle is in gesprek met die polisie en die departement van binnelandse sake oor die situasie.

“Die mense wat kla dat die situasie skandalig is, is reg. Maar die metro is nie bo die wet verhewe nie. Ons moet die hof se wense nakom, al is dit problematies,” sê Smith.

Hy sê dié hofbeslissing berokken skade aan die metro se reputasie.

“As ons werk weens dié besluite begin verloor, hoop ek daardie regters gaan doen introspeksie oor hoe hul besluite die ekonomie en die mense van ons stad raak.”

Meer oor:  Jp Smith  |  Kaapstad  |  Vlugtelinge  |  Asielsoekers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.