Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vlugtelinge: Steeds min om oor te lag

Geen oplossing is nog in sig vir die sowat 500 vlugtelinge wat die afgelope drie maande in en om die Sentrale Metodistekerk in Kaapstad woon nie.

Mungo die nar Woensdag in die Sentrale Metodistekerk in die Kaapse middestad, waar hy ’n vertoning vir vlugtelingkinders gehou het. Foto’s: Edrea du Toit

Hul leier, JP Balous, mag die middestad slegs met spesiale verlof van die polisie binnekom, hul donasies droog op weens die metro se geskil met Gift of the Givers. En die Menseregtekommissie (MRK) sê een van sy kommissarisse is met die dood gedreig.

Tog was daar Woensdagmiddag honderde glimlagte, luidkeelse gelag en ’n paar honderd magies wat ’n bietjie voller as gewoonlik was.

Die Laugh-inisiatief (Love in Action United Giving Hope), ’n groep sirkuskunstenaars, tesame met die Ladles of Love-welsynorganisasie, het vir die sowat 260 kinders in die groep vermaak verskaf en kospakkies uitgedeel.

Mungo die nar (Mark Shelton) het vir die kleintjies kulkunsies gedoen en Mark Titus het op 3,5 m hoë stelte ballonne gevou en uitgedeel.

Die bietjie pret wat ons vir hulle kan bied, is ’n welkome afwisseling.

“Die bietjie pret wat ons vir hulle kan bied, is ’n welkome afwisseling van hul realiteit,” sê Shelton, wat al twee keer vir die kinders in die kerk kom optree het.

Die vlugtelinge woon sedert Oktober in die kerk. Hulle het aanvanklik die Kaapse kantoor van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap beset uit protes teen die departement van binnelandse sake, asook xenofobie.

Nadat ’n uitsettingsbevel toegestaan is, het die kerk hul tuiste geword. Regter Daniel Thulare van die hooggeregshof in Kaapstad gaan op 17 Februarie uitspraak lewer oor waarheen die vlugtelinge verskuif moet word.

Die Kaapstad-metro voer in sy aansoek daaroor aan hy kan sy ordonnansies nie op die Groentemarkplein, oorkant die kerk, toepas terwyl die vlugtelinge daar plak nie, en dat misdaad toegeneem het weens hul teenwoordigheid.

Lag ’n slag.

Adv. Con Joubert, namens die metro, het aan Thulare gesê die vlugtelinge was nie haweloos nie en dis nie ’n uitsettingsaak nie.

Die metro wil hê hulle moet terugkeer na waar hulle voorheen gebly het.

Die metroraad kan nie behuising of noodhuisvesting aan hulle verskaf terwyl ander inwoners op waglyste is nie, voer hy aan.

Intussen loop gemoedere hoog.

Eers is Gift of the Givers daarvan beskuldig dat hulle politieke munt uit die vlugtelinge wil slaan, en is hulle verbied om enige verdere skenkings te gee.

In November is Chris Nissen, kommissaris van die MRK, in die kerk beseer in ’n onderonsie met Balous.

Balous is ook vroeg in Januarie op aanklagte van diefstal in hegtenis geneem.

Die MRK het Dinsdag in die hof gesê Balous het Nissen met die dood gedreig, waarna die MRK alle steun aan die vlugtelinge onttrek het.

Balous het in November aan Rapport gesê die vlugtelingagentskap moet “eenvoudig net” vir die vlugtelinge ’n ander plek as Suid-Afrika kry om in te bly.

Meer oor:  Kaapstad  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.