Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vodacom vra geld ‘vir flieks wat niemand wil hê’
Richard van der Westhuizen
Theuns Eloff

’n Hele klomp kliënte van Vodacom soek hul geld terug nadat hulle glo onwetend vir vermaakdienste van dié selfoonverskaffer betaal het.

Onder die klaers is Theuns Eloff, direkteur van die FW de Klerk-stigting, wat meer as R1 000 opgedok het, en Richard van der Westhuizen, sanger en Binnelanders-akteur.

Die voormalige televisie-aanbieder Rita van den Heever sê haar selfoonrekening het verdubbel tot R1 400 weens aftrekkings. Vodacom het op haar aandrang die diens gestaak, maar sy het nie haar geld teruggekry nie.

Vodacom erken hulle het klagtes ontvang, maar kan nog nie verduidelik wat skeefgeloop het nie omdat hulle eers elke geval individueel moet ondersoek.

Die doring in die kliënte se vlees is aftrekkings wat op die rekenings beskryf word as Vodafone Live.

Vodafone Live is ’n webblaaier waarmee jy liedjies, speletjies en flieks kan aflaai. Die webblaaier is gratis, maar volgens Vodacom kan betalings vir sekere inhoudsdienste soos NetFlix of inhoud op Google Play Store van jou Vodacom-rekening verhaal word.

Kliënte met wie Rapport gepraat het, sê almal hulle het nooit bewustelik die diens geaktiveer of gebruik nie.

Eloff sê hy stel nie die minste daarin belang om liedjies, speletjies of flieks op sy selfoon af te laai nie en hy het beslis nooit toestemming gegee om Vodafone Live op sy selfoon te aktiveer nie. Tog het Vodacom sedert November elke maand R287, amper R10 per dag, van sy rekening afgetrek.

Hy het daaroor gekla en ’n onderneming gekry dat die aftrekkings gestaak gaan word. Maar toe kry hy dié week ’n rekening wat wys dat die bedrag wéér afgetrek is. Hy eis sy geld terug, maar het dit nog nie gekry nie.

Toe Rapport by Vodacom ’n navraag rig oor Eloff se rekening, het Byron Kennedy, woordvoerder, gesê hulle “gaan beslis” sy dienste kanselleer en sy geld aan hom terugbetaal.

Kennedy sê Vodacom het die laaste tyd ’n toename gesien van klagtes van kliënte wat gevra het dat betalings vir dienste soos Netflix op hul Vodacom-rekenings aangedui word. “In die verlede is dié betalings op die rekenings aangetoon onder die opskrif ‘V Live’. Ons het dit reggestel sodat hulle voortaan duidelik op hul rekenings sal kan sien waarvoor hulle ingeteken het en betaal,” sê hy.

Hy het egter nie gesê wat spesifiek in Eloff se geval skeefgeloop het nie. Dit sal eers duidelik wees “wanneer die ondersoek afgehandel is”, het hy gesê.

Van der Westhuizen sê sedert verlede jaar is bedrae van tussen R45 en R67 op sy rekening afgetrek. Hy het nie ’n benul waarvoor nie. “Dit alles is goed waarvoor ek glad nie toestemming gegee het nie. Ek wil van die str*** ontslae raak, maar wanneer ek daaroor kla, trek mense hul skouers op.

“Ek weet nie eens wat Vodafone Live is nie of waar om dit te kry nie, maar ek betaal daarvoor. Ek wil my geld terugkry.”

Daar is ook geen bewyse van wat hy kastig op sy foon afgelaai het nie, sê hy.

Werner Frost (35), ’n bemarkingsbestuurder in Johannesburg, sê hy het Vodacom gevra vir ’n bewys dat hy die diens op sy foon geaktiveer het, maar hulle kon dit nie vir hom gee nie. Hulle kan selfs nie die datum bevestig nie.

Candice Potgieter (55) van Sandton, sê dit voel asof sy besteel is.

“Al van Januarie af verskyn daar aftrekkings op my rekening, party vir meer as R300,” sê sy. Sy het altesaam meer as R2 000 betaal vir dienste waarvoor sy nie toestemming gegee het nie, sê sy. Sy het nog geen verduideliking gekry nie.

Op die klagtediens Hello Peter en op Vodacom se eie webwerf is daar ook verskeie klagtes.

Kennedy sê: “Ons ondersoek elke individuele saak. Sodra ’n ondersoek in die regte rigting beweeg, sal ons terugvoering gee.”

Hy sê kliënte moet by Vodacom navraag doen sodat dit ondersoek kan word.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Vodacom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.