Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip: ‘My ma lê in die see’

Sy ma wou nie meer lewe nie en sy het met sy tweejarige sussie in die see in gejaag. Só het ’n agtjarige seuntjie Donderdag in trane gesê nadat hy ’n verbyganger voorgekeer het naby die R404 tussen Heroldsbaai en die N2-snelweg na George.

Anton Gerber wys waar Edith Dlamini en haar dogtertjie oor die afgrond is. Tyler Janse van Rensburg (4), sy kleinseun, is saam met hom. Die kruis is opgerig ter nagedagtenis aan Heidi Scheepers en haar twee kinders. Foto’s: Deon Raath

Anton Gerber (67) van Heroldsbaai was omstreeks 12:00 met sy kleinkinders op pad na ’n uitkykpunt by Voëlklip toe die seuntjie langs die pad wys hy moet stop.

“Die kind het verskriklik geruk en gehuil en hy was angsbevange toe ek hom kry,” sê Gerber.

“Hy was papnat gesweet. Dit het gelyk asof hy gehardloop het, maar dit was ook ontsettend warm. Hy het my desperaat in Engels gevra om hom asseblief te help.

“Dit was duidelik ’n noodgeval. Sy gesig het gebloei en dit was vol krapmerke en stof. Hy het sy ribbes die heeltyd vasgehou en gesê dit is seer.

... op dieselfde plek as waar Heidi Scheepers se VW gestaan het voor sy oor die afgrond is.

“Hy het gesê sy ma en sy sussie is in die see, maar ek het nie verstaan wat hy bedoel nie. Ek het gedink hulle is dalk deur branders van die rotse afgeslaan. Ek het toe vir hom gesê om voor in die kar in te klim en vir my te wys waar hulle is.”

Die seuntjie het vir Gerber 2,2 km verder beduie na die uitkykpunt by Voëlklip wat 120 m bo die see uittroon. Plaaslike inwoners noem dit die krans van die dood.

Dis hier waar sy ma, Edith Dlamini (34), met sy sussie in haar motor oor die afgrond is, het die seun gesê. Hy het uit die motor geval. Sy pa, Mlungiseni Comfort Dlamini (34), ’n bedryfsbestuurder by South African Breweries se hopplaas by George, was by die werk.

Gerber se dogter, Charmaine Jansen van Rensburg, en haar seun Tyler.

Gerber kon die wrakstukke van ’n wit Fiat en Edith se lyk in die water sien. Hy het die polisie probeer bel en toe sy dogter, Charmaine Jansen van Rensburg.

Hy sê die seun het hulle gewys waar sy ma op die parkeerterrein parkeer het. Die spore van haar motor het in ’n reguit lyn oor die afgrond geloop.

“Die seun het gesê sy ma het baie vinnig gejaag. Dit is vir my ’n raaisel hoe die seun uit die kar geval het,” sê Gerber.

ER24 sê in ’n verklaring na wat verneem word het die motor gerol en die seun het ontsnap toe die voertuig omgerol het.

Die uitkykpunt waar Edith Dlamini en haar tweejarige dogtertjie 120 m ver in die see getuimel het.

Mlungiseni Dlamini het Vrydag by sy huis in George gesê hy is erg geskok oor sy vrou en sy dogter se dood en hy is nog nie gereed om met die media te praat nie. ’n Buurvrou het gesê hy het vir haar gesê sy vrou het die kinders vir ’n pretrit gevat en dat sy beheer verloor het oor haar voertuig.

Edith se motor het op presies dieselfde plek gestaan waar Heidi Scheepers (35) se Volkswagen Caravelle was voordat sy in Oktober 2019 met haar kinders, Hugo (2) en Cozette (6) oor die afgrond is.

Drie inwoners van George, Werner Finger (20), MarNic Els (20) en Luandro Jansen (21) het op 15 November 2015 op dieselfde plek met ’n Toyota Hilux-bakkie oor dieselfde afgrond gestort.

In Desember 2019 is nog ’n vrou hier oor die afgrond in ’n voertuig en nog ’n man in Januarie 2020.

Kenneth Field, voorsitter van die Heroldsbaai-huiseienaarsvereniging, het aan Julian Jansen gesê Voëlklip kry ’n slegte naam weens die tragiese voorvalle. Dit gebeur ook nie op Voëlklip self nie, maar by die uitkykpunt 1 km daarvandaan, sê hy. Dit staan bekend as Hansie se Bank.

“Voëlklip het die mooiste uitsig en plaaslike en buitelandse besoekers kom daagliks hierheen. Die pad is nie, soos mense beweer, ‘gevaarlik’ nie. As jy ordentlik ry, gaan jy altyd veilig wees. Die insidente gebeur oor mense besluite neem. Ons is nou in ’n lelike tyd, mense sukkel. Ongelukkig gaan sulke voorvalle nog baie gebeur.”

Chantal Edwards-Klose, ’n woordvoerder van George-munisipaliteit, sê die grondpad behoort aan die departement van openbare werke en die omliggende grond aan ’n private eienaar.

In gesprekke met die munisipaliteit en ander rolspelers was die mening dat die grondpad nie gesluit moet word nie. Jandré Bakker, woordvoerder van die departement, sê die pad bied toegang vir toeriste en het ontspanningswaarde. Die departement gaan Donderdag se voorval ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.