Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip: Pa ‘oorweeg opsies, dankbaar vir ondersteuning’

Ettienne Scheepers van Heroldsbaai oorweeg sy opsies en is dankbaar vir die ondersteuning wat hy in dié verband kry ná die tragedie verlede maand toe sy vrou en twee kinders in hul motor oor ’n afgrond by Voëlklip gestort het.

Etienne en Heidi Scheepers met hul kinders, Hugo en Cuzette. Foto: Facebook/Heidi Scheepers

Netwerk24 het Donderdag berig Scheepers beoog regstappe teen die administrateurs van ’n Facebook-groep, Murder She Wrote Investigations & Discussion, wat glo lasterlike opmerkings oor hom op die groep se blad toegelaat het. ’n Regskennisgewing is in dié verband uitgereik.

Scheepers se vrou, Heidi (35), en hul kinders, Hugo (2) en Cuzette (6), het op 22 Oktober in hul Volkswagen Caravelle verdwyn nadat hulle vroeër saam met hom op die strand by Heroldsbaai was.

Die voertuig is die volgende dag met laagwater in die see by Voëlklip buite Heroldsbaai gevind en het vermoedelik die vorige dag oor ’n afgrond gestort.

Hugo se lykie is op 24 Oktober gevind en Scheepers s’n twee dae later. Cuzette word nog vermis.

’n Voorlopige lykskouingsverslag het getoon Heidi en Hugo het verdrink. Dit is onbekend waarom hulle op daardie pad was. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en volgens die polisie word geen misdaad vermoed nie.

Volgens ’n brief van die regsfirma A Chimes & Van Wyk Ing. in George oor ’n dringende kennisgewing vir die verkryging van ’n interdik en ’n dagvaarding vir skade, word onder meer geëis dat elke inskrywing of kommentaar wat na Scheepers, sy vrou of kinders verwys, permanent verwyder word. Die administrateurs moet ook skriftelik aandui dat daar geen lasterlike of ander verklaring gepubliseer sal word, hetsy deur hulle of ’n derde party, wat na hom, sy vrou of kinders verwys nie.

Die groep is tot Donderdagmiddag om 17:00 kans gegee om aan die vereistes te voldoen.

Donald Curtis, ’n prokureur van die regsfirma wat namens Scheepers optree, het Vrydag by navraag gesê die kliënt (Scheepers) het kennis geneem van die verwydering van die meeste lasterlike inskrywings en kommentaar van die Murder She Wrote-Facebookblad, maar daar was geen onderneming om enigiets verder te publiseer, of geen vorm van verskoning nie. ’n Klomp mense hou aan (en die administrateurs hou aan om dit toe te laat) om verdere lasterlike kommentaar te lewer oor Scheepers se regstappe om sy oorlede familie se eer en reputasie te beskerm.

“Hy oorweeg sy opsies en is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hy in dié verband ontvang het ná die afgelope dae se gebeure,” het Curtis gesê.

* Netwerk24 het die administrateurs van die Facebook-blad probeer kontak. Sodra daar reaksie van hulle ontvang word, sal dit bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.