Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip: Draai beveilig waar motors oor afgrond is

Bykomende maatreëls om die pad by Voëlklip buite Heroldsbaai te beveilig sluit in werk aan die draai waar twee 75-jarige vroue van Krugersdorp op 20 Februarie in hul motor oor die afgrond gestort het.

Die George-munisipaliteit het verlede week gesê werk begin vandeesweek om bykomende veiligheidstrukture op die Voëlklip-pad aan te bring. ’n Taakspan is vroeër reeds saamgestel om te kyk na maniere om die pad te beveilig.

Toestemming is van die provinsiale regering verkry om die bykomende veiligheidsmaatreëls in te stel. Die munisipaliteit wou nie toe die aard daarvan bekend maak nie.

Netwerk24 het intussen verneem die maatreëls sluit in die beveiliging van die spesifieke draai waar drie motors sedert 2015 oor die afgrond gestort het: die Mazda waarin die twee 75-jarige vroue was, die Volkswagen Caravelle met Heidi Scheepers en haar twee kinders, Hugo (2) en Cozette (6), van Heroldsbaai in Oktober 2019, en die bakkie met drie jong inwoners van George, Werner Finger (20), MarNic Els (20) en Luandro Jansen (21), in November 2015.

Die owerhede op die toneel by Voëlklip in Heroldsbaai naby George waar die motorwrak waarin twee 75-jarige vroue van Krugersdorp was op 21 Februarie van die rotse verwyder is. Dit is op dieselfde plek as waar twee motors vantevore oor die afgrond gestort het. Foto: Twitter/@Bosbeer2006

Daar is blykbaar aanbeveel dat pale aangebring word om te verhoed dat motors oor die afgrond stort.

Chantel Edwards-Klose, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê dit is nie ’n munisipale pad nie. Weens kommer oor die veiligheid en welstand van George se inwoners het die munisipaliteit egter ’n taakspan saamgestel wat uit verskillende belanghebbendes bestaan. Die taakspan moes ondersoek instel en remediërende stappe voorstel, wat toe deur die provinsiale owerheid goedgekeur is.

Die munisipaliteit het reeds groot klippe by een van die informele parkeergebiede by Voëlklip geplaas en die oppervlak omgedolwe sodat voertuie nie daar kan parkeer nie.

• ’n Naasbestaande van die twee 75-jarige vroue kan hul oorskot eers ná 9 Maart kom uitken. Volgens die polisie is die naasbestaande in Gauteng opgespoor, maar die persoon sal eers ná 9 Maart kan help met die uitkenningsproses van die oorledenes. Tot dan gaan die polisie geen name bekend maak nie.

Die motor waarin die vroue verongeluk het, is op 21 Februarie kort ná 10:00 van die rotse verwyder nadat hul lyke vroeër uit die wrak gehaal is.

Meer oor:  Heroldsbaai  |  Voëlklip  |  Taakspan  |  Afgrond  |  Pad  |  Veiligheidsmaatreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.