Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip: Rowwe see verhinder soektog na meisie (2)

Ná vier dae se soektog na die lyk van ’n tweejarige dogtertjie by Voëlklip by Heroldsbaai het die owerhede haar nog nie gevind nie.

Die meisie was in die motor saam met haar ouer boetie (8) en hul 34-jarige ma toe die voertuig oor die afgrond by Voëlklip gery en in die see geval het.

Die seuntjie het vermoedelik toe die kar gerol het, uit die voertuig geval voordat dit met sy ma en sussie oor die afgrond is.

Hy het na die pad geloop waar ’n gesin hom gesien het en gehelp het. Die seuntjie het gesê sy ma is in die see, waarna hulle hom opgelaai het en na die toneel gery het. Die owerhede is dadelik ontbied. Die gesin wat hom gehelp het, woon in Pacaltsdorp, George.

Vier dae vermis

Die ma se lyk is dieselfde middag uit die see gehaal, maar die dogtertjie word steeds vermis nadat hul Fiat-motor omstreeks 12:15 oor die kranse in die see gestort het.

Die polisie se duikspan asook die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is sedertdien op die toneel op soek na die meisie. Hommeltuie en ’n helikopter word ook ingespan.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die seuntjie is in die sorg van sy pa en familielede het van Pretoria na George gekom om ondersteuning te bied.

Seun ontslaan

Die seuntjie is Donderdagaand uit ’n plaaslike hospitaal ontslaan. Hy was erg geskok.

Die familie het versoek dat hul privaatheid gerespekteer word en dat hul identiteit nie bekend gemaak word nie.

Die pa was ook Vrydag op die toneel van die voorval.

Pojie het gesê die polisie se duikspan was Saterdag in die see om na die dogtertjie te soek, maar dat die seetoestande Sondag te rof was.

Pojie sê die polisie neem aan dat sy verdrink het, juis omdat haar liggaam vroeër gesien is waar dit in die water gedryf het.

“Dit is baie hartseer, maar ons sal Maandag die soektog voortsit,” het hy gesê.

Vorige tragedies

Die voorval was op dieselfde plek waar Heidi Scheepers (35) van Heroldsbaai en haar kinders, Hugo (2) en Cozette (6), op 22 Oktober 2019 in hul Volkswagen Caravelle oor die afgrond gestort het, asook waar drie jong inwoners van George, Werner Finger (20), MarNic Els (20) en Luandro Jansen (21), op 15 November 2015 in die vroeë oggendure dood is toe die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het, oor die afgrond is. In Desember 2019 is nog ’n vrou hier oor die afgrond in ’n voertuig, en nog ’n man in Januarie 2020.

Jandrè Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het gesê ná die voorval verlede jaar is bykomende waarskuwingstekens langs die pad opgerig. Die pad is veiliger verklaar en bestuurders word gevra om versigtig hier te ry.

Bakker sê die departement ondersoek die jongste voorval.

Meer oor:  Heroldsbaai  |  Voëlklip  |  See  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.