Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip-tragedie: Facebook-groep moet verskoning publiseer

Die Facebook-groep Murder She Wrote Investigations & Discussion moet ’n verskoning aan Ettienne Scheepers van Heroldsbaai publiseer en onderneem om geen verdere inskrywings en kommentaar oor hom en sy gesin te plaas nie, anders kan ’n dagvaarding moontlik uitgereik word.

Dit het Maandag geblyk uit ’n brief van Scheepers se regsfirma aan die blad se administrateurs ná die tragedie verlede maand toe sy vrou en twee kinders vermoedelik in hul motor oor ’n afgrond by Voëlklip gestort het.

Etienne en Heidi Scheepers met hul kinders, Cuzette en Hugo. Foto: Facebook/Heidi Scheepers

Netwerk24 het Donderdag berig Scheepers beoog regstappe teen die administrateurs van die Facebook-groep Murder She Wrote Investigations & Discussion wat glo lasterlike opmerkings oor hom op die groep se blad toegelaat het.

’n Regskennisgewing is toe in dié verband uitgereik.

Scheepers se vrou, Heidi (35), en hul kinders, Hugo (2) en Cuzette (6), het op 22 Oktober in hul Volkswagen Caravelle verdwyn nadat hulle vroeër saam met hom op die strand by Heroldsbaai was.

Die voertuig is die volgende dag met laagwater in die see by Voëlklip buite Heroldsbaai gevind en het vermoedelik die vorige dag oor ’n afgrond gestort.

Hugo se lykie is op 24 Oktober gevind en Scheepers s’n twee dae later. Cuzette word nog vermis.

’n Voorlopige lykskouingsverslag het getoon Heidi en Hugo het verdrink. Dit is onbekend waarom hulle op daardie pad was. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en volgens die polisie word geen misdaad vermoed nie.

Luidens ’n brief van die regsfirma, A Chimes & Van Wyk Ing. in George, wat Maandag gestuur is, het Scheepers kennis geneem dat alle inskrywings en kommentaar wat na hom en sy gesin verwys van die blad verwyder is.

’n Skermgreep van die inskrywing op die Facebook-groep Murder She Wrote Investigations & Discussion onder die aanhef “Apology” Maandagmiddag 16:49 op die groep se blad. Foto: Facebook/ Murder She Wrote Investigations & Discussion

Geen onderneming is egter ontvang dat geen verdere inskrywings en/of kommentaar toegelaat sal word nie. Verdere lasterlike kommentaar oor Scheepers het Donderdag op die blad verskyn nadat die regsfirma sy eerste regskennisgewing (vir die verkryging van ’n interdik en ’n dagvaarding vir skade) uitgereik het, luidens die brief.

Geen verskoning is ook aangebied nie. Daarvolgens is ’n dagvaarding gefinaliseer wat deur die hooggeregshof uitgereik sal word sodat formele litigasie vir skadevergoeding kan begin.

Luidens die brief sal Scheepers enige toekenning aan hom aan die Up with Downs-skool in George vir kinders met spesiale behoeftes skenk omdat hy nie, volgens kommentaar op die blad, “geld uit die tragedie wil maak” nie.

Volgens die brief moet Scheepers en ander mense wat slagoffers van aanlyn misbruik is, ’n duidelike boodskap uitstuur dat wetgewing dit duidelik maak dat die administrateurs van enige Facebook-blad in hul private hoedanigheid gedagvaar kan word en potensieel aanspreeklik is vir die versuim om inskrywings en/of kommentaar op hul blaaie te modereer.

Luidens die brief is die kliënt nie wraaksugtig nie en sal hy nie geredelik met jare se duur en stresvolle litigasie begin nie. Indien nodig, sal hy voortgaan, maar in ’n finale poging om die saak op ’n vriendskaplike wyse op te los, het hy gevra dat die brief gestuur word.

Die regsfirma moet oor die onderneming ingelig word, en die volgende verskoning moet op die Facebook-groep geplaas word:

“Aan mnr. Scheepers en sy familie en vriende. Ons, die administrateurs van die blad, vra hiermee onvoorwaardelik verskoning vir die skade aan jul goeie naam en reputasie, en die angs en stres wat veroorsaak is deur lasterlike inskrywings en kommentaar op die blad toe te laat. Daar is geen objektiewe getuienis hoegenaamd van enige owerheid dat die gebeurtenis iets meer was nie as ’n verskriklike tragedie vir jou en jou familie.

"Ons erken dat wanneer iemand se opinie, ongegronde bespiegeling of eenvoudige ‘skindery’ verder gaan as vrye spraak en inbreuk maak op ’n ander persoon se waardigheid en reputasie, dat hulle, asook die Facebook-blad se administrateurs wat hulle toelaat om dit te doen, deur substansiële regsaanspreeklikheid in die gesig gestaar word. Ons sal ons toekomstige moderering van die blad dienooreenkomstig lei.”

Wanneer die verskoning geplaas word, moet kommentare daarvoor afgeskakel word en ’n skermgreep daarvan per e-pos, Facebook of WhatsApp gestuur word. Die verskoning moet ook tot aan die einde van die week op die blad bly.

Indien die verskoning nie Maandag om 17:00 op die blad verskyn nie, sal aangeneem word dat daar geen bedoeling is om die verskoning te plaas nie en sal met die dagvaarding voortgegaan word.

Die brief word te goeder trou, maar met vooroordeel, gestuur en sal gebruik word in daaropvolgende regstappe indien enige. Die kliënt se regte word streng voorbehou, lui die brief.

’n Inskrywing is teen 17:00 op die Facebook-groep, ’n geslote groep, geplaas, onder die aanhef, “Apology”, maar die inhoud daarvan was nie vir almal beskikbaar nie. Die skakel om kommentaar op die inskrywing te lewer is ook afgeskakel.

* Netwerk24 het die administrateurs van die Facebook-blad probeer kontak. Sodra reaksie van hulle ontvang word, sal dit bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.