Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip-tragedie: Ma, kinders gegroet
Heidi Scheepers en haar twee kinders se begrafnisbrief. Foto: Jackie Kruger

Hartseer tonele het hulle Saterdag in die ouditorium van die Eden-gemeente in George in die Suid-Kaap afgespeel waar ’n diens gehou is vir Heidi Scheepers en haar twee kinders van Heroldsbaai.

Heidi (35), Hugo (2) en Cuzette (6), het op 22 Oktober in hul Volkswagen Caravelle verdwyn nadat hulle op die strand by Heroldsbaai saam met haar man, Ettienne, die eienaar van die Heroldsbaai-kafee, was.

Hy is nie saam met hulle weg by die strand nie, maar het blykbaar winkel toe gestap om sy motor te kry. Toe hulle nie by die huis opdaag nie, het hy hulle as vermis aangemeld.

Die Volkswagen Caravelle is op 23 Oktober met laagwater in die see by Voëlklip, ’n hengelplek naby Heroldsbaai, gevind. Dit het vermoedelik die vorige dag tussen 100 m en 120 m (volgens die polisie) oor die afgrond gestort.

Hugo se lyk is op 24 Oktober in sy motorstoeltjie gevind waar dit in die see naby die motorwrak gedryf het.

Die wrak is dieselfde aand uit die see gehys. Heidi se lyk is op 26 Oktober by Heroldsbaai uit die see gehaal.

Die soektog na die vermiste Cuzette is sedertdien afgeskaal. Dit is nog onbekend waarom Heidi-hulle op daardie pad was. Volgens die polisie word ’n geregtelike doodsondersoek gedoen.

Die ouditorium was Saterdag vol familie, vriende en sakekennisse. Voor in die ouditorium het drie groot foto’s van Heidi en die kinders by wit blommeruikers gestaan.

Heidi en Hugo se kiste is die ouditorium ingedra toe die diens begin het. Ettienne was een van die draers. Foto’s van die gesin is ook deurentyd op skerms vertoon en talle mense het gehuil.

Hugo (heel links) en Heidi Scheepers se kiste Saterdag voor in die ouditorium van die Eden-gemeente in George. Foto: Jackie Kruger

“Ons onthou en ons koester . . . Ons sal julle nooit vergeet nie. Ons verlang en ons hoop. Ons weet ons sal julle weer sien,” lui die begrafnisbrief onder meer.

Op die diens het Ettienne in ’n huldeblyk in ’n stemboodskap onder meer gesê Heidi was in ekstase toe hulle die eerste keer gehoor het dat hulle ’n pienkvoet gaan kry. Cuzette het in ’n stadium baie siek geword en is met ’n seldsame afwyking, holoprosenkefalie, gediagnoseer. Hy het na Hugo as “Boeta” verwys. “Hy was die langhaar blonde-man van die huis.”

Hugo het volgens hom die huis oorheers, gesing en gedans en almal altyd gegroet. Hy het vertel hoe Hugo sou sê wanneer hy van die werk af kom, “kom sit, pappa, kom sit”.

Heidi was ’n liefdevolle ma en die stil een.

Die essay “Welcome to Holland” deur Emily Perl Kingsley, wat handel oor ’n kind met spesiale behoeftes, is ook op ’n skerm vertoon en voorgelees.

Koos van der Merwe, die Eden-gemeente se leraar, het gesê Ettienne het ’n spesiale versoek aan hom gerig om mense te bemoedig en te vra dat hulle voluit moet leef en mekaar waardeer.

“Die dood wag vir alle mense, al voer jy ’n sorgvrye bestaan,” het hy gesê. Volgens hom is Jesus ’n mens se lig in die donker en as jy na die kruis kyk, sal jy enduit kan gaan. Die dood was nie die einde nie, maar ’n ewige begin en eendag sal daar weer ’n ontmoeting wees.

“Kyk na Golgota en Voëlklip sal jou nie onderkry nie,” het hy gesê. Van der Merwe het ook die lied “Houtkruis” gesing.

Ná die diens is die familie eerste geleentheid gegee om wit veertjies op die kiste neer te sit en kerse aan te steek. Daarna kon mense wat vir Heidi-hulle geken het dieselfde doen.

’n Foto van Hugo Scheepers by sy kis in die ouditorium van die Eden-gemeente. Foto: Jackie Kruger
Mense staan tou om vere op Heidi Scheepers se kis neer te sit. Foto: Jackie Kruger
’n Ruiker blomme by ’n foto van Cuzette Scheepers (6) in die Eden-gemeente se ouditorium. Foto: Jackie Kruger
Kerse vir Heidi Scheepers en haar kinders in die Eden-gemeente se ouditorium in George. Foto: Jackie Kruger
Die binnekant van die begrafnisbrief. Foto: Jackie Kruger
’n Onbekende man (regs) doen Saterdag ’n gebed by Heidi Scheepers se kis. Foto: Jackie Kruger

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.