Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip-tragedie: Pa beoog regstappe

Regstappe kan volg ná die tragedie verlede maand waarin Ettienne Scheepers van Heroldsbaai se vrou en twee kinders in hul motor oor ’n afgrond by Voëlklip gestort het.

Scheepers beoog regstappe teen die administrateurs van ’n Facebook-groep wat glo lasterlike opmerkings oor hom op die groep se blad toegelaat het.

Etienne en Heidi Scheepers met hul kinders, Cuzette en Hugo. Foto: Facebook/Heidi Scheepers

Scheepers se vrou, Heidi (35), en hul kinders, Hugo (2) en Cuzette (6), het op 22 Oktober in hul Volkswagen Caravelle verdwyn nadat hulle vroeër saam met hom op die strand by Heroldsbaai was.

Die voertuig is die volgende dag met laagwater in die see by Voëlklip buite Heroldsbaai gevind en het vermoedelik die vorige dag oor ’n afgrond gestort.

Hugo se lykie is op 24 Oktober gevind en Scheepers s’n twee dae later. Cuzette word nog vermis.

’n Voorlopige lykskouingsverslag het getoon Heidi en Hugo het verdrink. Dit is onbekend waarom hulle op daardie pad was, maar ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen en volgens die polisie word geen gemene spel vermoed nie.

Donald Curtis van die regsfirma A Chimes & van Wyk Ing. in George, het by navraag gesê hy tree namens Scheepers op.

Luidens ’n skrywe van die firma oor ’n dringende kennisgewing vir die verkryging van ’n interdik en ’n dagvaarding vir skade, het die Facebook-groep Murder She Wrote Investigations & Discussion sedert die tragedie meer as 2 000 lede bygekry.

Die blad is, volgens dié skrywe, niks meer as ’n openbare platform waar die kliënt (Scheepers) belaster word nie. Dit lei daartoe dat sy persoonlike reputasie en sakebelange skade ly.

Volgens die skrywe is daar op die blad van dié Facebook-groep onder meer beweer dat Scheepers sy familie vermoor het, dat hy die moord beplan het, dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het, dat sy sakeondernemings in die moeilikheid was en dat hy versekeringsuitbetalings gesoek het, dat hy koud, berekend en gevoelloos was en dat hy veroorsaak het dat sy vrou die kinders vermoor en/of selfmoord gepleeg het.

Luidens die skrywe is die blad se administrateurs wetlik aanspreeklik en verantwoordelik vir die skade wat die kliënt gely het deur hul magte en verantwoordelikheid as administrateurs en meer spesifiek, om inskrywings op die blad goed te keur en te modereer.

Volgens die skrywe het die kliënt opdrag gegee dat dagvaardings uitgereik word vir finansiële skadevergoeding vir laster.

Bykomend word daar geëis dat elke inskrywing of kommentaar wat na Scheepers, sy vrou of kinders verwys, permanent verwyder word. Die administrateurs moet ook skriftelik aandui dat daar geen lasterlike of ander verklaring gepubliseer sal word, hetsy deur hulle of ’n derdeparty, wat na hom, sy vrou of kinders verwys nie.

Die groep is tot Donderdagmiddag om 17:00 kans gegee om aan die vereistes te voldoen.

* Netwerk24 het die administrateurs van die Facebook-blad probeer kontak. Sodra daar reaksie van hulle ontvang word, sal dit bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.