Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip-tragedie: Soektog na meisie (6) ‘heeltemal afgeskaal’

Die soektog na die vermiste Cuzette Scheepers (6) van Heroldsbaai in die Suid-Kaap is nou heeltemal afgeskaal.

’n Foto van Cuzette Scheepers wat op die begrafnisbrief vir haar, haar boetie, Hugo (2), en hul ma, Heidi, verskyn. Foto: Verskaf

“Daar is nog geen teken van die vermiste meisie nie,” sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, by navraag. “Die soektog is nou heeltemal afgeskaal. Daar vind nog sporadiese patrollies langs die kuslyn plaas en ons vra steeds vir mense om op die uitkyk te wees vir enige drywende voorwerpe in die see.”

Volgens die polisie word ’n geregtelike doodsondersoek gedoen.

’n Diens vir Cuzette, haar boetie, Hugo (2), en hul ma, Heidi Scheepers (35), is Saterdag in die ouditorium van die Eden-gemeente in George gehou. Slegs Heidi en Hugo se lyke is reeds gekry.

Hulle het op 22 Oktober in hul Volkswagen Caravelle verdwyn nadat hulle op die strand by Heroldsbaai was.

Die kinders se pa, Ettienne, eienaar van die Heroldsbaai-kafee, was saam, maar het Heidi-hulle glo verlaat om sy motor by die winkel te gaan kry. Heidi-hulle het nooit by die huis opgedaag nie en hy het hulle as vermis aangemeld.

Die Caravelle is op 23 Oktober met laagwater in die see by Voëlklip, ’n hengelplek net buite Heroldsbaai, gevind. Dit het vermoedelik die vorige dag tussen 100 m en 120 m (volgens die polisie) oor die afgrond gestort.

Hugo se lyk is op 24 Oktober in sy motorstoeltjie gevind waar dit in die see naby die motorwrak gedryf het.

Hugo Scheepers (2) Foto: Facebook/In Memory of Heidi Scheepers and Children
Heidi Scheepers en Hugo. Foto: Facebook/In Memory of Heidi Scheepers and Children

Die wrak is dieselfde aand uit die see opgehys. Heidi se lyk is op 26 Oktober by Heroldsbaai uit die see gehaal. Dit is nog onbekend waarom Heidi-hulle op daardie pad was.

AfriForum se tak in George, wat die moontlike beveiliging van die Voëlklip-gebied ondersoek, sê by navraag sensitiewe gesprekke met belanghebbendes is aan die gang. Meer inligting sal eers later beskikbaar wees.

Die George-munisipaliteit het vroeër by navraag gesê die Voëlklip-pad draai uit die R404, wat ’n Wes-Kaapse provinsiale pad is. Die eiendom en die pad daarheen (dit wil sê die pad en die deel aan die R404 se kant) is in private besit. Die munisipaliteit het nie jurisdiksie daaroor nie.

Intussen stroom huldeblyke vir Heidi en die twee kinders steeds in op die Facebook-groep In Memory of Heidi Scheepers and Children, wat verlede Maandag begin is. Die groep het reeds meer as 700 lede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.