Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vol draadwerk, maar Fiona huppel weer
Haar brulpadda-hoogheid kry eerstehandse behandeling.Foto: Ashleigh Pienaar

Daar was eendag ’n padda-prinses wat die huppel in haar sprong verloor het.

’n Wrede kar het oor haar gery.

Gelukkig het haar brulpaddalyf nie gebars nie, maar haar kakebeen, pelvis en regterbeen en -voet was gebreek.

Fiona die brulpadda ontvang narkose voor die operasie.

Tog het sy haar so stigtelike soos ’n koninklike gedra, selfs nadat penne en drade in haar poot geplant is.

Sy het skaars ’n kwaak laat hoor, sê dr. Karin Lourens van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital.

Soné Louw, ’n veeartseny-verpleegster by die Voël- en Eksotiese-dierehospitaal van die Universiteit van Pretoria by Onderstepoort, het die bedreigde amfi-biese pasiënt later liefderyk Fiona gedoop.

Omdat sy koninklik is. En groen. Soos Fiona in die Shrek-flieks.

Die erg beseerde Fiona is op Nuwejaarsdag by die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital deur ’n motoris aangebring wat haar naby Kyalami in die pad gesien het.

“Brulpaddas kom uit as dit baie reën en sit in, of spring oor, die pad.

“Sommige word platgery, maar dit hang af van die padoppervlak, hoe die kar die padda tref en watter voertuig dit is,” sê Lourens.

Eers wou haar hoogheid-met-die-af-kaak nie rêrig weglê aan die krieke en wurms wat bedien is nie.
Die brulpadda sit soetjies vir haar X-straalfoto nadat haar breuke geheg is. Foto: Ashleigh Pienaar
Fiona, die padda-prinses.Foto: Ashleigh Pienaar
Fiona is reg om haar bedreigde spesie se voortbestaan in die natuur te gaan verseker. Foto: Ashleigh Pienaar

Fiona was seer en getraumatiseer toe Lourens die 400 g-lyf ondersoek.

“Haar onderkaak was in die middel stukkend. Haar pelvis, tibia en voet was gebreek. Ek het ’n goeie vriendin, dr. Dorianne Elliott, wat die hoof is van die Voël- en Eksotiese-dierekliniek, gevra of sy kan help en Fiona is na haar in Pretoria gestuur,” sê Lourens.

Elliott se X-strale het gewys dat die padda ’n bietjie draadwerk benodig.

“Fiona het baie soet gesit vir die X-strale,” spog Lourens.

Eers is ’n narkosemasker oor Fiona – weens haar grote en manier waarop paddas asemhaal – geplaas om haar ’n slapende prinses te maak.

X-straalfoto’s voor die operasie wys waar Fiona se regter-onderbeen en -voet, haar pelvis en haar onderkaak beseer is toe ’n kar oor haar gery het. Foto’s: Ashleigh Pienaar

Drie penne is in die tibia in: een binne-in en twee weerskante van daardie pen wat buite uitsteek.

Dit is buite met ’n eksterne hegmiddel bedek.

Die kaak is met ’n oplosbare middel geheg totdat dit self sou aangroei.

Die hele operasie was in minder as ’n uur afgehandel.

Die herstelproses sou langer duur.

Fiona is ook pynstillers ingespuit.

Eers wou haar hoogheid-met-die-af-kaak nie rêrig weglê aan die krieke en wurms wat bedien is nie.

Toe die gebreekte beendere egter weer aangegroei het en die penne uit is, het sy, terug by Lourens-hulle, weer haar mond aan kos gewaag.

“Ons het, so gou as moontlik nadat sy herstel het, haar op ’n private eiendom met baie mannetjies vrygelaat,” sê Lourens, tevrede dat Fiona haar huppel in haar sprong terug het.

Meer oor:  Veearts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.