Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Volksblad’ sal aanhou skouers oopmaak met die nuus

Die Volksblad-gebou in Nelson Mandelarylaan 79, Bloemfontein . . . waar derduisende koerante oor dekades uitgegee is. Foto: Mlungisi Louw
‘Volksblad’
se laaste papieruitgawe verskyn vandag ná 116 jaar. Gert Coetzee, redakteur, beantwoord 10 vrae van Charles Smith.

1. Saterdag 8 Augustus 2020 is die heel laaste gedrukte uitgawe van Volksblad. Hoe voel jy daaroor?

As “lens” op Volksblad praat ek graag. Ek “voel” hartseer, maar realisties.

Vanoggend (Donderdag) omstreeks 11:00 het ek die templaat geskep en begin skryf aan Volksblad se laaste hoofartikel op papier ooit, “Van papier na digitaal: Oplaas dank vir 116 jaar se genade”. Ek begin tik “Vanaand skuins voor middernag, wanneer die Goss-rolpers in die Volks­- blad-gebou . . .”. Gelukkig kon niemand die trane sien nie.

Hartseer vir die einde van ’n tydvak. Vir die ouer lesers wat papiergedrewe is en nie noodwendig die gladde oorgang gaan meemaak nie. Van oom August Beckman in Warden en tannie Hettie Coetsee in Bethlehem tot die aftreeoorde Mooihawe, Serenitas, Westerbloem en al die ander in Bloemfontein, Stillerweë in Kimberley en al die ander oral in die Vrystaat en Noord-Kaap. Henry Ford het glo gesê: “As ek vir mense moet gee wat hulle wil hê, moet ek vinniger perde ontwerp.” Dis nie moontlik nie, en ons ouer lesers word die slegste getref.

Realisties. Sonder om weer uit te wei oor die redes vir die besluit. Daar’s drie goed in die lewe: Realiteite; bestuur van realiteite; en die uitkoms (wat deur bestuur van realiteite bepaal word). As jy realiteite wil beveg, val jy in ’n gat. Bestuur dit, al gaan daar verlies wees. Short-term sacrifice, long-term gain. Ons bepaal ons toekoms nóú. Ek sê dit met deernis.

En ons het ons lesers vir Volksblad Digitaal op Netwerk24 nodig. Dankie.

2. Hoe lank was jy deel van Volksblad? Wat is jou beste oomblikke by die koerant?

Volksblad se lewe (want Volksblad lééf) en my lewe is verweef, nes almal wat ooit by Volksblad gewerk het.

Van Desember 1986 tot Desember 1988 in die sportkantoor onder Piet Theron en saam met Frikkie van Rensburg en Georg van Eck. Weer van 1 Junie 1996 as hoof van die Kimberleyse buitekantoor tot nou. Die basiese dinge van nuus en joernalistiek wat ek in drie jaar in Kimberley geleer het, ook by monde van Mike van Rooyen, rig my. Hou jouself uit die storie uit. Jy onderhandel nie oor nuus nie. Maak skouers oop met die nuus. Skryf kort. Asook hoe om druk te weerstaan van diegene wat wil hê ons moet oor iets berig (wat hulle laat goed lyk) en van diegene wat nie wil hê ons moet oor iets skryf nie (wat hulle laat sleg lyk).

In Kimberley het ons langs die pad gestaan en motors voorgekeer om kamerafilms Bloemfontein toe te neem. As ’n ridder van die tikmasjien hou ek van die romantiek van die joernalistiek.

Die kameraderie – net ’n joernalis sal die bloedbande verstaan wat in die nuusloopgrawe gesmee word. Soos Charles Smith, Volksblad-woordsmid, in ’n werkonderhoud vir Netwerk24 gesê het: “Dis wie ek is.”

Wel, dis wie ek ook is.

volksblad-blad
volksblad

Ek hou van die lawaai van die nuuskantoor. En ons makabere humor, soos wanneer ons spotprente bedink, en ons wisselwerking met Niël van Vuuren, spotprenttekenaar (in Centurion).

Wat my boei, is goed soos die Berlyn-muur, terreuraanslag op Israeli-atlete tydens 1972 se Olimpiese Spele, Watergate-skandaal en Westdene-busramp; stede soos Washington DC (as cradle of power), Londen, Dresden en San Francisco en (as politieke skrywer) ook die dinamika van mag (met Watergate as gevallestudie), wat integriteit werklik maak en spraakvryheid versus selfsensuur.

My beste oomblik, is nie ’n oomblik nie, maar dekades. My fokus, ook as redakteur, is op nuus as ’n meesleurende fenomeen. En op nuusbesluite, media-etiek en ook mediareg (met kollegas en Meyer Volschenk, prokureur, as vertroude klankbord). Ek’s ’n joernalis wat laat in my loopbaan redakteur geword het, en nie ’n bestuurder nie. Ek was tevrede om projekte aan senior kollegas oor te laat om dit in belang van Volksblad te bestuur. My liefkooskind (wat ek by oom Joe Venter oorgeneem het), was Volksblad Sportsterre. Vir vanjaar was Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, se vliegkaartjie al gekoop.

Toe tref die koronakiem ons.

Ook spesiaal is die groter span – saam met ons sakespan, advertensie-afdeling, produksie-afdeling, die drukkery (daar’s te veel name, maar Petro Jordaan, sekretaresse, en Jacobus “Toorie” Smith, advertensie-opmaker, volbloed-Volksbladders) is ons familie. Die werkverhouding is duur gekoop en kosbaar. As dit nie daarvoor was nie, het ons nie Volksblad sover gekry nie.

Jeannine van Zyl, hoofbestuurder, aanvaar aanspreeklikheid vir moeilike besluite en is nie ’n gemaklike kantlyn-kritikus nie. Saam met haar gaan ek oorlog toe.

Die werkverhouding met Meyer van Phatsoane Henney Prokureurs oor taai besluite is heerlik. Meyer verstaan dat ’n mens met nuus nie oorversigtig kan wees nie, maar jy moet jouself nie in die voet skiet nie.

Die laaste jare se samewerking met Die Burger (Willem Jordaan), Beeld (Barnard Beukman), Henriëtte Loubser (hoofredakteur van Netwerk24) en hul spanne is spesiaal. Ons is in dieselfde nuusloopgraaf.

3. En moeilike oomblikke?
“My kantoor lyk soos ’n orkaan nadat ons die gebou weens Covid-19 ontruim het. Mlungisi en ek was daar sodat hy foto’s vir die gedenkbylaag kon neem.” Foto: Mlungisi Louw

Vreemd genoeg was hierdie laaste taai jare, met herstrukturerings en afleggings waarvan ek seker 12 of 13 moes deurstuur vir oorlewing en planne beraam om met al hoe minder mense te werk, nie net die moeilikste nie, maar ook moes dit ék wees wat dit dryf. Die weg van die minste weerstand, gemaksones en eiebelang werk nie. Hendrik Cronjé, sportskrywer, het een keer gesê, “Gelukkig het jy nie ’n groot ego nie”.

Ek verstaan wat hy bedoel het. En hoe Emile Hendricks, fotograaf van Kimberley, destyds sy aflegging hanteer het, dra my agting (al was dit verskeurend).

Moeilik is nie die regte woord nie. Onvermydelike, deurslaggewende nuuskeuses en oordeelkundige besluitneming is deel van die interessante werk. Die Ace Magashule-verslaggewing oor jare (daar was ’n onderonsie in sy kantoor) was belangrik; ’n dispuut met die vorige Beeld-bedeling oor beriggewing oor die Noordwes-Universiteit was nie lekker nie; die vorige rektorstermyn by die Universiteit van die Vrystaat was onaangenaam, maar nie moeilik nie – ons het as spieël bly berig. Die onlangse Grey-beriggewing was belangrik en ek dink ons het dit 99,9% reggekry. Beriggewing oor geweldsmisdaad en plaasmoordtonele is sleg. Die Griekwastad-moorde en -hofsake was belangrik en Charné Kemp het puik werk gedoen.

4. Is daar een gebeurtenis of storie wat in die tyd vir jou uitstaan?

Ek het dit op RSG Monitor op 8 Julie, dink ek, die dag ná die aankondiging oor Volksblad, ook gesê: Die Tempe-skietery in 1999; die wyse waarop ons daardie (baie slegte) storie hard geslaan het; die roerende mensenuus daaraan, en hoe ons dit 20 jaar later ook steeds opvolg. Jou boek, Nuusmakers: Stories oor mense, nuus en gebeure oor 30 jaar, wat ons verlede jaar kon uitgee, was soort van ’n Charles-stempel daarop. Hoe dit (die Tempe-skietery se beriggewing) Volksblad-mense as ’n span saamgesmee het, ook oor ’n paar biere later. Uit die Rovic-mynramp, tussen Boshof en Hertzogville, in 1996 het ek baie oor basiese nuusskryfwerk geleer.

5. Ons het almal mooi Volksblad-stories, iets wat agter die skerms gebeur het toe ons nuus versamel het. Het jy so ’n storie wat jy graag wil vertel?

Daar lê tienduisende stories te wyd en diep om als te onthou.

My nuus-heugenis as kind begin in die vroeë 1960’s by die saak in die internasionale geregshof in Den Haag waar Liberië en Ethiopië die Suid-Afrikaanse mandaat oor Suidwes-Afrika betwis het. Dekades later woon ek as Panorama-joernalis in 1990 Namibië se onafhanklikwording in Windhoek by en staan enkele treë van Sam Nujoma wat ingehuldig word.

In 1966 was daar die sluipmoord op dr. Verwoerd. Daardie middag van 6 September kanselleer hulle die Voortrekkers by Laerskool President Brand teen Seinheuwel in Bloemfontein. Ek hardloop huis toe waar my ma met haar oor teen die radio luister. Twee uur later dra Volksblad se middagkoerant die dramatiese nuus vanuit die parlement.

Van Londen kon ek oor alles van die Suid-Afrikaanse gemeenskap se prestasies en sondes en ’n Ingrid Jonker-scoop tot oor Wimbledon-tennis en St Andrews-gholf berig. As politieke beriggewer, was dit my twyfelagtige voorreg om die Nasionale Party, met die finale doodskoot vanuit die Vrystaat, in te spit.

6. Wat is die mooiste storie wat jy vir Volksblad geskryf het?

Die dag in ’n plaaskombuis in die distrik Ritchie toe ’n jong knaap op volle vaart ingeskaats kom, sal ek nie vergeet nie. Hy was sonder oë – letterlik. Voorheen het ’n donkiekar op hom geval en die rand het sy skedel laat oopbars – waar sy oë was wat verwyder moes word.

Jare later sit ek in die sitkamer van ’n gastehuis in Bloemfontein en hoor die onewe klank van krukke die gang afkom. Om die hoek kom die madonna-agtige, jong Kovsie-student met haar pragtige groot oë. Sy het ’n week tevore haar linkerbeen verloor toe ’n motor haar getref het terwyl sy joolblaaie op straat verkoop het. Volksblad het die saak tot die uiteinde in die hof gevolg.

Daar was ook die klein gryskop-kêrel wat my in ’n straat in Victoria-Wes ingewag het. Ek het oor hom gaan skryf. Sy naam was Mannetjies Roux.

Ek hou van kort, humoristiese, woordspelende indrukstories deur die joernalis se oë. Nie almal kan dit skryf nie. En diegene wat nie basiese skryfreëls bemeester het nie, en dit probeer doen, mors dit effens op.

Uit die parlement het ek ’n berig geskryf oor Sandra Botha, DA-LP, wat per ongeluk in haar BMW by die nasionale vergadering se trappe afgery het. Ek kry nou nie die berig in die argief nie, maar dit het iets begin soos “Kaplaks, kaplaks, kaplaks . . .”.

Ook vanuit die parlement het ek berig oor Thabo Mbeki en sy vrou, Zanele, se wegbreekvakansie by Witsand, Noord-Kaap nadat hy Jacob Zuma ge-“release” het waarin ek “Pappie” en “Mammie” met mekaar laat praat het. Albei was scoops. Die Burger het albei op hul voorblad gedra. Volksblad het dit iewers binne weggesteek. Ek was afgepis.

Name-dropping: Ek was in die Oval Office in die Withuis (saam met FW de Klerk se mediagroep) en as Londen-korrespondent in Downingstraat 10 en op ’n teeparty van die Queen in Buckinghampaleis se tuin. George H.W. Bush, Tony Blair en die Queen sal dit net nie onthou nie.

Dankie, Volksblad!

7. Dit is die einde van ’n gedrukte dagkoerant in die Vrystaat en die Noord-Kaap, maar nie die einde van Afrikaanse nuus in die streek nie?

En ’n nuwe begin. Dit gaan taai wees, soos dit hoort. Dis waar groei lê.

Die fokus bly op nuus – met die span van Netwerk24 in die Vrystaat en Noord-Kaap wat dit bly lewer. En twee Volksbladders, ek inkluis, wat die daaglikse digitale blad, vyf keer per week, gaan saamstel. Ingevolge die tydbeproefde beginsels van nuus en joernalistiek. Dit was my keuse om te bly. Henriëtte Loubser, Netwerk24-hoofredakteur, verstaan nuus – sy is ’n oud-Volksbladder. Charles se werk as nuusredakteur en die waghondjoernalistiek van Marietjie Gericke (wat ’n knap spesialis-verslaggewer!), Alet van der Walt in die Vrystaat en Anena Burger in die Noord-Kaap raak al belangriker.

Nes die werk van sportredakteur, Johann de Jager, en die sportskrywer wat oorbly.

8. Die bylaag oor Volksblad wat Vrydag verskyn het, is baie spesiaal. Jy het nou daarmee gewerk. Vertel meer daaroor.

Soos dit met oud-Volksbladders is, het Constant Steyn (Volksblad-geskiedenis) en Frikkie van Rensburg dadelik bydraes aangestuur.

Ook Hennie van Deventer, Sarel Venter en Piet Theron – ongelukkig kon ons nie als dra nie.Volksblad-vriende soos Francis Petersen, Henk de Jager, Harold Verster, Johann van Heerden en andere was ’n oproep ver. Dat ons kantore steeds weens Covid-19 gesluit is en die argiewe onbereikbaar, het die verkryging van materiaal gekompliseer.

Die hands-on werk met die bylaag (skryf, seleksie, kombinasie en nuusheulery) was heerlik.

Siska Martin, samesteller, het haar kreatiewe juices laat vloei.

Die bylaag spreek vanself.

Dis seer dat Siska en kollegas soos Christo van Staden en Annalize Dedekind onder diegene is wie se voltydse joernalistieke loopbaan nou eindig.

9. Jy gaan steeds baie nou met Volksblad in digitale formaat werk. Vertel meer hoe dit gaan werk teenoor die papierkoerant?

Die insameling, keuring en aanbieding van nuus op die digitale blaaie gaan voort. Net met minder mense. Jy gaan klik daar en blaai deur Volksblad. Dieselfde toewyding, adrenalien, kaffeïen, weiering om in te gee, spertye, kameraderie en diensgerigtheid sal ons lei.

10. Hoe dink jy, wat jou hele lewe nou met nuus te doen gehad het, gaan die media in Suid-Afrika oor ’n dekade lyk? Soms voel dit die media is die enigste dun lyn tussen orde en korrupsie in die land.

Ja, ons is die snykant van die wig. Die laaste vingertjies vir te veel gate in die dyk. Ons kan nie bekostig om waghondjoernalistiek af te skeep nie.

Die nuusmodel gaan veelfasettig en kruisbestuiwend wees. ’n Belangrike stroom is die ondersoekende werk van News24 (wat nou ’n betaalmuur kry) en Daily Maverick (ek sien hulle kry ’n weekkoerant) vermeng met vars nuus (“breaking news”), tesame met hul ondersoekende boeke – soos Pieter-Louis Myburgh, Adriaan Basson, Pieter du Toit en Pauli van Wyk. Waar drukkoerante genoeg steun kry (lesers én adverteerders), dalk in metrogebiede, kan hulle bly voortbestaan in samehang met digitale tuistes, soos Netwerk24.

Groot oorsese nuusmodelle se koerante bly staande danksy hul kopersmark van miljoene.

Plaaslike koerante gaan al hoe meer waghonde moet wees. Inkomste moet die middel en nuus die doel wees, maar sonder die middel is daar nie ’n doel nie.

Die banaliteit dat nuus verniet moet wees – ek verstaan nie dié lewensbeskouing nie. Regte nuus, spraakvryheid en seggenskap kom teen ’n prys. In Afrikaans het Netwerk24 al 70 000 intekenare wat bereid is om vir beproefde, objektiewe nuus te betaal. Jou bydrae kos net R99 per maand. Dit gaan bly groei – en Volksblad dra graag by.

Die toekoms – en Suid-Afrika – gaan joernaliste verg wat joernaliste wíl en móét wees. En nie net mooi storietjies wil doen nie.

Ek is bekommerd oor die platteland en verval daar en die veiligheid. Drie naweke gelede kuier ek by my hartsvriende op hul Hartswater-perseel. Ons gaan pluk suurlemoene by die buurperseel, soos die reëling is.

Die Sondag daarná ontvoer aanvallers dié bure (die Brands) en gaan vermoor hulle. Plaasveiligheid moet bly belig word. Soos wat Anena Burger van Netwerk24 in die Noord-Kaap gedoen het.

Intekenare help om daardie voete op die grond en insig en geesdrif in die nuusveld moontlik te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.