Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Volle militêre begrafnis vir vermoorde soldaat

Die volle militêre begrafnis van die vermoorde brig.genl. Motlhokomedi Kenneth Petso, bevelvoerende generaal van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria, is Saterdag om 10:00 in die Burgersentrum van Mahikeng in Noordwes.

Hy word daarna in die Matlalong-begraafplaas begrawe.

Brig.genl. Motlhokomedi Kenneth Petso

Brig.genl. Hilton Smith, direkteur korporatiewe personeeldienste van die Suid-Afrikaanse lugmag, sê hy is in beheer van die begrafnis van brig.genl. Petso, wie se familie nog geskok en in rou is.

Hy sê sy pos sluit seremoniële dienste soos dié in.

Intussen sê brig. Mathapelo Peters, hoof van kommunikasie van die polisie in Gauteng, niemand is nog in verband met Petso se dood in hegtenis geneem nie en die saak word steeds ondersoek. Sy motor is ook nog nie teruggevind nie.

’n Lykskouing moet ook nog gedoen word.

Peters het vroeër aan Netwerk24 gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat Petso vermoor is voordat sy lyk na Garankuwa, noord van Pretoria, geneem is.

Peters het vroeër gesê die 53-jarige Petso se lyk is Dinsdag gevind en dat ’n familielid hom uitgeken het. ’n Voetganger het blykbaar Dinsdag op Petso se lyk in uitbreiding 11 in Garankuwa afgekom en die polisie in kennis gestel.

Petso se wit Jeep Cherokee word steeds vermis. Die voertuig se opspoormeganisme is in Brits gevind.

Peters kon nie bevestig of Petso enige sigbare beserings gehad het nie.

“Die oorsaak van sy dood moet bepaal word. Dis nie seker wanneer hy laas lewend gesien is nie, maar hy is Dinsdag (die dag waarop sy lyk gevind is), as vermis aangemeld.”

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en ander hooggeplaastes soos genl. Solly Shoke, hoof van die SANW, en lt.genl. Fabian Zimpande Msimang, hoof van die lugmag, het hul meegevoel met Petso se familie, kollegas en vriende betuig.

Kol. Eugéne Motati, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse lugmag, het Sondagaand gesê terwyl die ondersoek nou in die polisie se hande is, wil hulle nie bespiegel nie. “Dis egter baie verdag wanneer iemand se lyk nié in sy natuurlike omgewing gevind word nie. Ons vermoed dus hier is ’n misdryf gepleeg.”

Smith het gesê die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) is hartseer oor Petso se dood.”

Petso het ’n lang loopbaan in die weermag gehad. Hy het in 1987 by die voormalige Bophuthatswana-weermag aangesluit en in 1993 as vlieënier gekwalifiseer. Met die aanbreek van die nuwe bedeling in 1994 is hy as ’n tweede luitenant in die lugmag geïntegreer. Hy is in 1995 tot luitenant bevorder.

In 1997 is hy na 41 eskader ontplooi om die Cessna 208- (C-208) en Pilatus-vliegtuie (PC-12) te vlieg. Petso het in 1998 kaptein geword. Hy is in 2000 gekies om ’n vlieënier-instrukteurskursus te volg.

Drie jaar later is hy na die lugmagbasis by Langebaanweg oorgeplaas. Petso is dieselfde jaar, terwyl hy nog by die vliegskool was, tot majoor bevorder.

In 2007 het hy bevelvoerder van 41 Eskader geword en is nog dieselfde jaar tot luitenant-kolonel bevorder. In 2008 het hy sy senior personeelkursus in die VSA by die Lugoorlog-kollege in Alabama voltooi.

Petso het in 2010 bevelvoerder van die Langebaanweg-lugmagbasis geword en is dieselfde jaar tot kolonel bevorder. Hy is vyf jaar later tot brigadier-generaal bevorder en het toe ook bevelvoerende generaal by Waterkloof geword.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en ander hooggeplaastes soos genl. Solly Shoke, hoof van die SANW, en lt.genl. Fabian Zimpande Msimang, hoof van die lugmag, het hul meegevoel met Petso se familie, kollegas en vriende betuig.

Meer oor:  Waterkloof-Lugmagbasis  |  Pretoria  |  Misdaad  |  Moord  |  Polisie-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.