Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voor sonop al agter foto’s aan

Doug Lee, baie jare lank een van Rapport se mees ervare fotograwe, is verlede Sondag oorlede.

Lee, wat in 2009 afgetree het, het die afgelope paar jaar op Bela-Bela gebly.

’n Foto van die grapmaker Al Debbo by ’n borsbeeld van homself wat Doug Lee vir Rapport geneem het.

Sy Rapport-kollegas, asook kollegas by die destydse Sunday Express en The Citizen, waar hy gewerk het voordat hy hom in 1990 by Rapport se redaksie aangesluit het, onthou Lee as ’n groot man met ’n klein hartjie. Hulle sê daar was geen beter mens om saam met jou te hê as jy die groot storie jaag nie danksy sy uitgebreide netwerk van vriende en kontakte.

“Om saam met Dougie deur die land te ry was ’n les in joernalistiek. Daar was nie ’n dorp in die noordelike provinsies waar Doug nie iemand geken het nie. Oral moes gestop word om gou die plaaslike haarkapper of die kroegman te gaan opsoek vir die jongste skindernuus in die dorp en te hoor of daar nie ’n lekker Rapport-storie rondlê nie.

“Jy het altyd met meer teruggekom as waarvoor jy gehoop het as jy saam met Doug gery het,” sê Pieter Malan, wat in die vroeë 2000’s baie saam met hom gewerk het.

Die Olimpiese marathonkampioen van 1996, Josia Thugwane, draf verby die smous Joseph Kelebetse en sy gesin op hul donkiekar naby Rooibokkraal by Thabazimbi. Doug Lee het dié foto in 1999 geneem.

Maar om saam met Lee te werk, moes jy vroeg opstaan. Malan sê hy sou voor sonop al aan jou deur kom klop met die vermaning om “van die nes af te klim” sodat julle die pad kan vat.

“Jy was altyd passasier, want Doug het niemand anders as hyself vertrou om die wiel te vat nie.”

Kollegas onthou hom ook as die koning van die steelfoto. Talle bedrieërs en verneukers wat hul lyf probeer skraal hou het, het oor die jare eers Sondagoggend tot hul skok besef dat die Rapport-man toe wel ’n kiekie van hulle gekry het.

Sy vrou, Rhona, onthou hom as ’n “stoute mannetjie, grapperig en opreg” en absoluut versot op die Krugerwildtuin en Kalahari-Gemsbokpark, waar hy graag foto’s geneem het.

Doug Lee, veteraan-fotograaf van Rapport.

“In die wildtuin kon hy my teen die mure uitdryf. As ek saam met hom diere gekyk het, mag ek nie lees nie. Hy’t gesê as ek omblaai, jaag ek diere weg.”

Sy sê hy is verlede Sondag dood aan ’n hartaanval nadat sy toon kort tevore geamputeer is weens diabetes-verwante komplikasies.

“Hy het langs sy kar ineengestort,” sê Rhona, “heel gepas omdat sy rooi Ford Kuga sy ander groot liefde in die lewe was. Almal in die dorp het die oom met die rooi Ford geken.”

Hy word oorleef deur Rhona, drie kinders uit ’n vorige verhouding, Rhona se drie kinders wat hy as sy eie grootgemaak het en tien kleinkinders.

  * Douglas Charles Lee, 15 November 1947 – 10 Februarie 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  Fotograaf  |  Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.