Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voortrekker-monument steeds ‘hoendervel-ervaring’

Talle mense, sommige van Benoni, Germiston en so ver soos Marble Hall, het die Voortrekkermonument in Pretoria Maandag op Versoeningsdag besoek.

Lienta Roelofse, van Pretoria-Noord, besoek die Voortrekkermonument die afgelope tien jaar saam met haar gesin. Foto: Werner Beukes

“Dit gee my steeds hoendervleis as die sonstraal op die gedenkteken val,” sê Lienta Roelofse van Pretoria-Noord, wat die Voortrekkermonument die afgelope tien jaar saam met haar gesin besoek.

Roelofse het vanjaar selfs haar dogter Cara se verloofde, Barnie, oorreed om saam te kom “om die dag te vier”.

Elke jaar op 16 Desember val ’n sonstraal deur die opening in die monument se koepel op die senotaaf, die fokuspunt van die monument en simboliese rusplek van Piet Retief en die ander Voortrekkers wat in die Groot Trek dood is.

“Elke jaar is hier net meer en meer mense en daar is geen ander plek waar ’n mens so ’n gevoel van samehorigheid onder veral Afrikaners beleef nie,” sê Roelofse.

Geloftedag is voorheen jaarliks op 16 Desember gevier nadat die Voortrekkers tydens die Slag van Bloedrivier in 1838 ’n gelofte afgelê het om dié dag jaarliks as ’n Sabbatdag te vier.

Vir die Pretorianer Louis Peens is ’n besoek aan die Voortrekkermonument ’n ervaring wat hy nog altyd met sy kleinseun, Reinhard (5), wou meemaak. Foto: Werner Beukes

Vir Louis Peens van Pretoria is ’n besoek aan die Voortrekkermonument ’n ervaring wat hy nog altyd saam met sy kleinseun, Reinhard (5), wou meemaak. “Hy was voorheen net te klein om enigiets in te neem. Ek het vanjaar seker gemaak ek vertel hom van die kakebeenwaens, die vroue met die kappies en die voorlaaiers. Ek voel dit is deel van die land se geskiedenis wat nie verlore moet gaan nie, maar aan die nageslag oorgedra moet word,” verduidelik Peens.

Armand (27) en sy suster Coenette (24) Fourie van Benoni het douvoordag gewag om toegang tot die monument te kry. Foto: Werner Beukes

Armand (27) en sy suster Coenette (24) Fourie van Benoni het al douvoordag in die ry motors gestaan en wag om toegang tot die monument te kry. “Ons was al 06:30 hier en een van die eerste motors wat deur die hek is. Al die ander jare het ons kerk toe gegaan, maar vanjaar wou ons die monument die eerste keer besoek en dit was beslis die moeite werd,” sê Armand.

Volgens Coenette is die monument ’n trekpleister vir jonk en oud.

“Dit is ’n spesiale dag vir almal, ongeag jou ouderdom of waar jy vandaan kom. Ek het veral van die boodskap gehou wat deur dr. Danie Langner gebring is. Dit gee ’n mens weer hoop vir die toekoms,” sê Coenette.

“Ek pak dié tog met liefde aan om my seun, PJ, die geleentheid te gee om ’n stukkie van die land se geskiedenis te beleef,” sê Stephane Smit, wat al die pad van Marble Hall in Limpopo na Pretoria gery het.

Die Moerbei-orkes het vanjaar die agtergrondmusiek by die Voortrekkermonument verskaf. Van links is Nico Blom, orkesleier, Oubaas van der Walt, Pierre Grobler, Hennie Strydom, JR Olivier en Herman van Vuuren. Foto: Werner Beukes

Vir Nico Blom (61) van Pretoria, leier van die Moerbei-orkes, was vanjaar se saamtrek “besonders” omdat hy en sy orkes die agtergrondmusiek kon verskaf.

“Ek droom al lank om aan die voet van dié baken musiek te maak. Nou het my droom waar geword,” sê Blom, ’n baskitaar- en konsertina-speler wat saam met vyf musikante boeremusiek speel.

“Ek pak dié tog met liefde aan om my seun, PJ, die geleentheid te gee om ’n stukkie van die land se geskiedenis te beleef,” sê Stephane Smit, wat al die pad van Marble Hall in Limpopo na Pretoria gery het. Foto: Werner Beukes

Dries en Rika Lubbe van Germiston, wat gereeld die Voortrekkermonument besoek, het met die aanhoor van die Moerbei-orkes nie op hul laat wag nie en tot almal se vermaak begin dans.

“As trotse Afrikaners kom ons elke jaar hierheen om ons kultuur en erfenis te herdenk en uit te leef. Jou kultuur is nie iets waaroor ’n mens skaam moet wees nie,” sê Lubbe.

Dries en Rika Lubbe van Germiston het met die aanhoor van die Moerbei-orkes nie op hul laat wag nie en heerlik gedans. Foto: Werner Beukes
Duisende mense het Maandag op Versoeningsdag die Voortrekkermonument in Pretoria besoek as deel van ’n jaarlikse herdenkingsfees.Foto: Werner Beukes
Die Voortrekkermonument bly ’n gewilde trekpleister vir jonk en oud. Foto: Werner Beukes
Een keer ’n jaar, op 16 Desember, skyn ’n sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument op die simboliese rusplek van Piet Retief en ander Voortrekkers wat in die Groot Trek dood is. Foto: Felix Dlangamandla
’n Sonstraal val op die senotaaf in die Voortrekkermonument. Foto: Felix Dlangamandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.