Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voortrekkermonument stuk-stuk ‘verkoop’

Die hoekfiguur van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter by die Voortrekkermonument “behoort” nou aan sy nasate.

Die Voortrekkermonument se hoekfiguur van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter. Foto: Verskaf

Sarel Venter (79) van Bloemfontein het ’n plan gemaak om die hoekfiguur van sy oorgrootjie by die monument te “koop” as deel van ’n poging om dié baken in Pretoria se geldnood te verlig.

Hy het sy familie genader en in ’n japtrap is R15 000 bymekaargemaak met bydraes wat selfs uit Amerika, Australië en Mosambiek ontvang is.

Die Voortrekkermonument is onder groot finansiële druk weens die nasionale staat van inperking en word tans stukkie vir stukkie “verkoop” om hom te red.

Mense wat ’n deel van die monument koop, ontvang ’n sertifikaat wat aandui watter deel van die gebou aan hulle behoort en word daarmee ’n “ere-eienaar” van die monument. Dit word ook in die monument se argief opgeteken.

“Dit is ’n mooi veldtog. Die Voortrekkermonument het ’n spesiale plek in my hart,” sê Venter.

Hy was ’n seuntjie van so agt of nege jaar oud toe hy die inwyding van die monument in 1949 bygewoon het. Latere jare het hy ’n Vriend van die Voortrekkermonument geword.

Die Voortrekkermonument se hoekfiguur van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter. Foto: Verskaf

“Ek was altyd lief vir geskiedenis. Hier op my boekrakke staan baie geskiedenisboeke oor onder meer die Voortrekkers en die Anglo-Boereoorlog,” sê Venter.

Hy het die nuus dat die Voortrekkermonument “te koop” is by sy dogter, Lidia Hendriks, gehoor. Sy het in ’n stadium by die monument gewerk.

“Toe stuur sy die pryslys en daar sien ek die hoekfigure kos R15 000 elk. Dit is toe nou vir my aanloklik en ek dog maar my kinders is ook mos nasate van oorgrootjie Potgieter – die kleinkinders ook, al is dit nou ver(-langs),” sê Venter.

So almal het ’n bydrae gemaak en dis nou ons beeld daai. Ons het ’n sentimentele band met die oorgrootjie.

Hy het vir Hendriks gevra of die kinders en kleinkinders sou belangstel om ’n bydrae te maak. Binne twee dae is die volle R15 000 bymekaargemaak. Vrydag is die geld vir die Andries Hendrik Potgieter-hoekfiguur aan die monument oorbetaal.

“My een kleindogter is in Amerika – sy het geld gestuur. My seun is in Australië – hulle het geld gestuur. My een skoonseun is in Mosambiek waar hy werk – hy het ook geld gestuur,” sê Venter.

“So almal het ’n bydrae gemaak en dis nou ons beeld daai. Ons het ’n sentimentele band met die oorgrootjie.”

Venter het ook sowat ses jaar gelede ’n nis vir hom en sy vrou, Liesbeth, se as in die Gedenktuin by die monument gekoop.

Herbou-veldtog vorder goed

Sedert die Voortrekkermonument se bestuur verlede Woensdag met die virtuele herbou-veldtog begin het, is hulle oorval deur belangstellendes.

“Binne ’n week is meer as die helfte van die items op die lys opgeraap. Ons wil graag mense aanmoedig om nou die 60 000 granietstene waaruit die gebou bestaan teen R100 per steen te koop. Hierdie stene is elkeen met die hand gekap en is daarom uitsonderlik spesiaal,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur.

“Ons het ook ’n geval gehad waar ’n kleingroep van ’n kerk saamgespan het, R5 000 ingesamel het en een van die Ringmuur-waens se kante gekoop het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.