Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vraagtekens hang oor spoedboetes ná 1 April

Indien die spertyd nie verleng word nie, sal geen van die land se spoedmeters of toerusting by weegbrûe ná middernag op 31 Maart 2021 meer wettig wees nie.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, moes kragtens die Wet op Wettige Metrologie voor 31 Maart vanjaar regulasies ingestel het waarvolgens laboratoriums hierdie toerusting kan verifieer en kalibreer. Hy het dit egter nie gedoen nie.

Netwerk24 het die afgelope week verneem om sulke laboratoriums op die been te bring, kan maklik nog ’n jaar duur.

Die onus om te sorg dat die tipe toerusting gekalibreer is, rus op die departement van handel en nywerheid.

Daar heers onsekerheid oor wat die situasie ná 31 Maart sal wees, maar daar is glo planne om die spertyd uit te stel.

Chris Hunsinger, DA-LP, het Dinsdag gesê hulle het aan Fikile Mbalula, minister van vervoer, geskryf en hom gevra om dringend vir Patel te vra dat die spertyd verleng word.

“Indien die kalibrasie en verifikasie nie betyds plaasvind nie, kan dit in lig van die Paasnaweek wat op hande is, ’n grootskaalse invloed op padveiligheid en die patrollering van die land se paaie hê,” sê Hunsinger.

“Paasnaweek is gewoonlik een van die bloedigste naweke op die land se paaie.”

Ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is bekommerd oor die uitwerking wat nienakoming van die regulasies op die land se howe kan hê.

Adv. Christhénus van der Vijver, ’n senior advokaat van die NVG in die Wes-Kaap, het Dinsdag gesê indien die spertyd nie verleng of verwyder word nie, sal alle spoed- en oorladingswetstoepassing van 1 April af onwettig wees.

Indien die datum verleng word, moet dit in die Staatskoerant gepubliseer word.

Hy sê alle staatsaanklaers in die Wes-Kaap is versoek om dit onder die aandag van verkeersdepartemente in hul gebied te bring. “Die NVG vertrou dat die nodige aanpassing voor 1 April gedoen sal word om wetteloosheid op paaie te voorkom,” sê Van der Vijver.

Simon Swane van die Padverkeersbestuurskorporasie sê egter hulle is in gesprek met die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) en hoop dat die spertyd van 31 Maart 2021 verleng sal word.

Jandré Bakker, hoof van kommunikasie van die Wes-Kaapse vervoerdepartement, sê hulle is deur die Padverkeersbestuurskorporasie ingelig dat die NRVS ’n kennisgewing ontvang het dat die spertyd verleng is.

“Ons wag nog vir geskrewe bevestiging.”

Bakker sê hulle is ingelig dat hulle dit op Woensdag 31 Maart sal kry.

“Dit beteken daar sal geen onderbreking in wetstoepassing wees nie.”

Navrae is ook gerig aan Sidwell Medupe, Patel se woordvoerder, asook Ayanda-Allie Paine, Mbalula se woordvoerder.

Medupe en Paine het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Verkeersbeampte  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.