Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrae oor 2 skote wat lid van die Valke eis

Dis nog duister wat daartoe gelei het dat ’n senior lid van die Valke verlede Sondag dood in haar huis in Kaapstad aangetref is – en wie die twee skote geskiet het.

Kol. Christelle Stemmet

Dit was nie in kol. Christelle Stemmet (47) se aard om haar eie lewe te neem nie, het haar suster Lana aan Rapport gesê. Lana sê Christelle was ’n uitstekende skut en sou nie ’n “toetsskoot” skiet nie.

Lana, hul ma, Aletta (74), en suster Adrie Nel, asook dié se twee kinders, het verlede naweek uit Vredendal vir Christelle in haar dubbelverdiepinghuis in Table View kom kuier.

Lana sê sy en Christelle het die Sondagoggend vroeg nog saam plante geplant. “Wie sou, as sy beplan om selfmoord te pleeg, so iets doen?”

Die familie het omstreeks 09:00 vertrek, en om 19:45 is Christelle se lyk op haar bed aangetref. Sy het haar glo in die slaapkamer toegesluit en kort daarna is ’n skoot gehoor. Toe die butler, net bekend as Zoey, gaan kyk, het hy Leon Dietrich, Christelle se vriend, glo by die telefoon gesien, besig om die nooddienste te bel. Kort hierna het die mans glo ’n tweede skoot gehoor. Die twee, wat albei op die erf woon, moes die deur afskop om in te kom.

In die muur was ’n gat waar ’n koeël die sement getref het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, sê die motief vir die voorval word nog ondersoek, maar ’n voorlopige ondersoek skakel die moontlikheid uit dat dit verband hou met sake wat die oorledene ten tyde van haar dood gehanteer het.

Christelle het in 2001 as ondersoeker by die destydse Skerpioene begin en was getroud met ’n kollega. Sy is in 2009 tot die rang van kolonel bevorder en het as spesialis-ondersoeker in die teenkorrupsie-eenheid gewerk.

Ten tyde van haar dood het sy beweerde korrupsie by die petrochemiese staatsmaatskappy PetroSA ondersoek.

Volgens Lana was Dietrich nie haar suster se lewensmaat nie. Dietrich, oorspronklik van Zimbabwe, was glo werkloos en Christelle het hom ’n dak oor sy kop gegee. Hulle het mekaar vyf jaar lank geken.

Sy beskryf die verhouding tussen Christelle en Dietrich as stormagtig en sê haar suster wou dit baie keer beëindig weens sy humeur.

Dietrich is kort ná die voorval in die Blaauwberg-hospitaal opgeneem en is na verneem word tans in ’n psigiatriese inrigting.

Bronne na aan Christelle se vriendekring vertel sy het onlangs ’n verhouding met ’n polisiebeampte gehad, wat die diens intussen verlaat het. Hy is glo “in ’n toestand oor Christelle se dood”. Daaroor sê Lana: “Stella sou nie ’n verhouding gehad het nie. Die polisieman wat ek weet sy ’n goeie verhouding mee het, ken sy al van kleins af.”

Die familie het nog baie vrae, maar min antwoorde. “Daar is oral kameras in die huis. Ons verneem nou die kameras was nie aan nie!

“Nog iets. Die vensters van die kamer was almal loop. Hoekom die deur afskop?

“Christelle is ’n vrolike mens, vol grappies en lewenslustig en so was sy ook die naweek. Ons het absoluut niks vreemd opgelet nie!”

’n Gedenkdiens is Saterdag op Vredendal gehou.

Meer oor:  Christelle Stemmet  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.