Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrae oor jongste uitspattige Gupta-troue

Terwyl die omstrede Guptas nóg ’n uitspattige troue van bykans R100 miljoen in Abu Dhabi beplan, het vrae weer opnuut in Suid-Afrika opgevlam oor presies wanneer hulle uitgelewer sal word om vir hul beweerde staatskaping en korrupsie rekenskap te kom gee.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sowel as die ANC se alliansievennote, die SAKP en Cosatu, wou dít Maandag weet nadat amaBhungane Vrydag volgens News24 die nuutste Gupta-bruilofplanne by die superluukse Emirates Palace-hotel onthul het.

’n Afskrif van die bruilofsuitnodiging van nege bladsye beskryf volgens amaBhungane ’n vyf dae lange geleentheid wat met ’n verwelkomingsmiddagete op 19 Februarie sal begin en op 23 Februarie met ’n huweliksonthaal sal eindig.

’n Afskrif van die bruilofsuitnodiging van nege bladsye beskryf volgens amaBhungane ’n vyf dae lange geleentheid wat met ’n verwelkomingsmiddagete op 19 Februarie sal begin en op 23 Februarie met ’n huweliksonthaal sal eindig.

Dit is ’n dubbele bruilof vir Shubhangi Singhala, Rajesh “Tony” Gupta se dogter, en haar aanstaande man, sowel as vir Srikant Singhala, Atul Gupta se seun, en sy aanstaande vrou. Hoëprofielgaste van oor die wêreld heen sal dit glo bywoon.

Luidens die hotel se webwerf het dit die “perfekte” Indiese troue-ervaring ontwerp “wat jou verwagtinge van weelderige en intuïtiewe diens sal herdefinieer”.

Twee verskillende nommers wat op die uitnodiging verskyn, was nie Maandag bereikbaar vir kommentaar nie.

Die uitnodig lui ook dat die bruilofte met komplimente van die Guptas, sowel as hul maatskappye soos Oakbay Investments, die Optimum-steenkoolmyn, Shiva Uranium, Koornfontein-myne en Tegeta aangebied word.

Van die maatskappye staan sentraal in beweringe van staatskaping

Dit sal die derde openbare en uitspattige bruilof wees wat die familie finansier.

Die Guptas se 2013-bruilof by Sun City was in omstredenheid gedompel nadat ’n passasierstraler met hul gaste op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland het.

Die Emirates Palace-hotel in Abu Dhabi waar die Guptas hul nuutste bruilof beplan. Foto: www.kempinski.com

Die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse het volgens amaBhungane glo later bewys hoe R30 miljoen van die Estina-suiwelprojek vir daardie bruilof betaal het.

Die tweede was in April 2016 by die Mardan Palace in Antalya, Turkye, waar R154 miljoen volgens amaBhungane spandeer is vir dié drie dae lange bruilof van Ajay Gupta se seun Kamal Singhala. Dit was twee weke nadat die meeste Guptas Suid-Afrika inderhaas verlaat het.

Die Guptas, wat op die uitnodiging aangedui word as “inwoners van Johannesburg, Suid-Afrika”, weier om persoonlik voor die Zondo-kommissie na staatskaping te verskyn omdat hulle glo die nasionale vervolgingsgesag en die Valke te veel wantrou.

Wayne Duvenage, Outa se uitvoerende hoof, het Maandag gesê die Guptas kan bruilof hou soos hulle wil, maar dat Outa net wil weet “hoekom hulle nog nie terug in Suid-Afrika is om rekenskap oor staatskaping te gee nie. Hoekom laat die Valke hulle nie uitlewer nie?”

Foto: www.kempinski.com

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, meen as die regering ernstig is om staatskaping vas te vat, moet hulle op die “voortvlugtige” Guptas se bates beslag lê.

“Dit is totaal onaanvaarbaar. Veral omdat die Gupta-maatskappye se werkers in Suid-Afrika tans swaar kry.

“Ons is baie teleurgestel omdat daar nie teen hulle opgetree word nie. Wat ons as werkers verder irriteer, is dat hul geld en bates nie bevries word nie en hulle uitspattig lewe.”

Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, het gesê hoewel die Zondo-kommissie toegelaat moet word om sy werk af te handel, wil Suid-Afrikaners egter sien dat die reg sy gang gaan.

“Alle gesteelde geld moet verhaal word. As dit nie gebeur nie, het ons regstelsel misluk. Daar is egter geen sigbare vordering in die sake teen die Guptas nie.”

Foto: www.kempinski.com
Foto: www.kempinski.com
Foto: www.kempinski.com

Meer oor:  Sun City
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.