Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrae oor man wat 2 op sypaadjie amper omry, kar tref
Jacques le Roux van Worcester wil by die polisie weet hoekom die man wat op die grond sit nie aangekla is nie, nadat hy hom en ’n kollega glo amper met die bakkie omgery het. Le Roux het Woensdag beweer dit was duidelik dat die man onder die invloed van ‘iets’ was. Foto: Verskaf

’n Inwoner van Worcester in die Boland soek antwoorde nadat die seun van ’n polisiebeampte op die dorp hom en ’n kollega Dinsdag amper glo omgery het en dit nou blyk asof die polisie nie die man gaan aankla nie.

Jacques le Roux en sy kollega was besig om veselkabels in Heller Boulevard in Worcester-Wes te lê toe die voorval plaasgevind het.

Dit was volgens Le Roux kort ná 13:00 en hulle het op die sypaadjie gesit en hul middagetes geniet toe ’n Nissan Navara-bakkie teen ’n stink spoed op hulle afgepyl het. “Ek het koeldrank gedrink toe ek die bakkie op ons sien afkom het.” Hy en sy kollega het alles net so laat val en probeer om van die aankomende voertuig weg te kom.

Sy kollega het volgens hom letterlik in ’n boom vasgeduik om uit die bakkie se pad te kom. Hy het in die proses sy nek seergemaak.

’n Toyota Tazz van ’n inwoner wat op die sypaadjie agter hulle gestaan het en deur die bakkie getref is, is volgens Le Roux heeltemal “afgeskryf”. Die Toyota Tazz is deur die slag van die bakkie teen ’n boom vasgedruk.

Le Roux het Dinsdagmiddag op sy Facebook-blad geskryf dat hulle ná die voorval die polisie vir amper ’n uur gebel het. “Ons het naderhand maar veiligheidsmaatskappye in die omgewing, sowel as die ambulansdienste, gebel.”

Hy het gesê toe die polisie uiteindelik daar opdaag, was hulle meer besorg oor die toestand van die man wat die bakkie bestuur het as oor hom en sy kollega. Volgens hom het hulle eintlik ook nie belang gestel om te hoor wat gebeur het nie.

“Toe ek vir hulle vra of hulle hom nie gaan laat toets en kyk of hy onder die invloed van drank is nie, het die konstabel vir my gesê ‘nee’. Volgens die konstabel, ene Bruwer, is dit net ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur.”

Die Toyota Tazz van ’n inwoner van Worcester wat volgens Jacques le Roux heeltemal afgeskryf is. Foto: Verskaf
Die skade aan die Toyota Tazz kan hier duidelik gesien word. Foto: Verskaf

Le Roux het Woensdag gesê hy het die polisiekantoor gekontak en is toe meegedeel dat daar net ’n voorval-verslag vir versekeringsdoeleindes aangeteken is.

“Ek was nie daarmee tevrede nie en het die stasiebevelvoerder gebel. Dié het ene kol. Smith na my gestuur, wat ook vir my gesê het dat hulle die voorval net vir versekeringsdoeleindes gaan aanmeld.”

Le Roux het gesê hy het dit aan Smith duidelik gemaak hy is nie tevrede met die stand van die saak nie en dat hy dit verder gaan voer as die man nie aangekla word nie.

“Hulle beskerm hom nou omdat hy die seun van een van hul kollegas is,” beweer hy.

Intussen het sers. Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder op Worcester, die voorval bevestig. Sy het egter ontken dat die man spesiale behandeling op die toneel ontvang het. Sy het ook gesê dat die man nie deur die polisie van die toneel weggeneem is nie, maar dat hy daar gebly het totdat die voertuig weggesleep is. Volgens Jacobs was die man ook nie dronk nie.

Sy het gesê die man het ’n geldige rybewys en ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur is aanhangig gemaak.

Intussen het kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, gesê dat Le Roux welkom is om die bestuur van die Worcester-polisie te nader en die voorval by hulle aan te meld sodat die baie ernstige beweringe teen hul lede ondersoek kan word.

Meer oor:  Worcester  |  Jacques Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.