Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrae oor veiligheid ná skietvoorval in parlementsgebou

Die selfdood-skietvoorval van ’n 57-jarige senior amptenaar in die parlement het Vrydag ernstige vrae oor die veiligheidsmaatreëls en -stelsels in dié nasionale sleutelpunt laat ontstaan.

Die voorval, wat Vrydag kort ná 12:00 in ’n kantoor op die tweede verdieping van die Pleinstraat 90-gebou op die parlementêre perseel gebeur het, is wyd met skok en hartseer begroet.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep in die parlement. Foto: Felix Dlangamandla

Talle van die oorledene se kollegas was glo so erg getraumatiseer dat hulle huis toe gestuur moes word.

Die man se identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, en Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het gesê verder besonderhede hieroor sal verskaf word sodra die oorledene se naasbestaandes amptelik van sy dood in kennis gestel is. Hulle sal ook die naasbestaandes besoek.

Die voorval het gebeur terwyl Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, en verskeie LP’s in die aangrensende Marks-gebou was, waar Zokwana oor sy departement se werksaamhede voor ’n portefeuljekomitee gepraat het.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep wat ook die ANC se medelye teenoor die man se naasbestaandes uitgespreek het, was egter die eerste hooggeplaastes wat die parlement se veiligheidsmaatreëls en -stelsels ná die voorval bevraagteken het.

“Die voorval skep kommer oor die veiligheid in die parlement, veral oor hoe die vuurwapen wat gebruik is, op die parlementêre perseel beland het en die veiligheidsmaatreëls wat daarmee omseil is. Dié kwessie word ondersoek om seker te maak dat dit nie weer gebeur nie,” het hy gesê.

Dit word as so ernstig beskou dat Francois Beukman, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor die polisie, Vrydag in ’n verklaring aangedui het dat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, geroep sal word om oor die gebrek aan behoorlike veiligheidsmaatreëls asook oor die betrokke omseiling van die maatreëls by die parlement verantwoording te doen.

“Die voorval laat ernstige vrae ontstaan oor die teenwoordigheid van die polisie en die prosedures wat by die parlement geld.”

Volgens Beukman plaas dit ook die swak toegangsbeheer tot ’n nasionale sleutelpunt in die kollig.

Hy sê die veiligheidsmaatreëls in die parlement moet op dieselfde standaard as by ander parlemente in die wêreld wees.

Die man se kollegas, polisiebeamptes en kontrakteurs het ná die voorval buite die gebou in die gietende reën saamgedrom.

Daar word verneem dat hy hom glo eers in sy kantoor met glasmure toegesluit het voordat hy sy eie lewe geneem het. Die rede daarvoor is onbekend.

Die nodige bystand word gereël om hulle te help om die tragedie te verwerk.

Stembiso Tembe, woordvoerder vir die vakbond Nehawu in die parlement, het gesê die ander werkers is erg getraumatiseer.

“Die meeste het vroeg huis toe gegaan. Onthou, sommige van hulle het naby sy kantoor gewerk en het natuurlik die skoot gehoor. Sommige het ná die skoot nog na sy kantoor gehardloop om te gaan kyk wat aangaan.”

Mbete en Modise het gesê die voorval het ooglopende trauma en angs by parlementêre werknemers, sowel in die instelling self, veroorsaak.

“Die nodige bystand word gereël om hulle te help om die tragedie te verwerk.”

Intussen is vertroulik verneem dat die werknemer gewoonlik geparkeer het in die kelderverdieping van die betrokke gebou, waar die veiligheidsmaatreëls glo nie deurentyd streng toegepas word nie.

’n Bron wat daagliks met die veiligheid in die parlement gemoeid is, het gesê LP’s en senior amptenare intimideer glo soms polisiebeamptes by die ingange wat streng veiligheidsprosedures wil handhaaf.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het ook sy party se medelye met die man se naasbestaandes uitgespreek.

Meer oor:  Thandi Modise  |  John Steenhuisen  |  Baleka Mbete  |  Skiet  |  Selfdood  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.