’n Man van Worcester is dood nadat hy glo deur ’n vragmotor getref is terwyl die bestuurder na bewering nie besef het dat hy iemand omgery het nie.
Die voorval het Dinsdag omstreeks 16:30 in Hoogstraat gebeur.
Die man (58) se identiteit is nie bekend gemaak nie. Na verneem word, was die man ’n bekende in die gebied en het hy altyd mense om kos gevra.
Sers. Annelize October, polisiewoordvoerder, sê by navraag die man is na bewering deur ’n vragmotor omgery. Iemand het toe glo die bestuurder gestop omdat dié na bewering nie besef het dat hy die man omgery het nie.
Debonairs, voor wie se perseel die ongeluk plaasgevind het, wou nie Sondag kommentaar lewer nie.
October sê dit kan nie bevestig word of die man voor die vragmotor ingeloop het nie omdat dit deel uitmaak van die polisie se ondersoek.
Die Worcester Standard, ’n plaaslike koerant, het berig op die ongelukstoneel kon die man se ingewande buite sy liggaam gesien word en sy bene was erg gebreek.
Volgens ’n insleepdiens wat op die ongelukstoneel was, is die man nie deur die vragmotor gesleep nie, maar het hy glo onder die vragmotor beland. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.