Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bestuurders van vragmotors se staking duur voort

Te midde van die Covid-19-pandemie wat al hoe hewiger woed, kan vragmotorbestuurders steeds Maandag landwyd staak uit protes teen vragmotormaatskappye wat die dienste van buitelandse bestuurders gebruik.

Teen verlede week het meer as 1 500 vragmotorbestuurders aan die staking deelgeneem. Die staking is voorafgegaan deur sporadiese aanvalle op vragmotors landwyd.

Die polisie in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal ondersoek klagte van saakbeskadiging en brandstigting nadat verskeie vragmotors in dié provinsies onder betogers deurgeloop het.

Van die vragmotors is met petrolbomme en klippe bestook.

Die stakings het glo daartoe begin lei dat plaaslike bestuurders mekaar opstook om buitelandse bestuurders se vragmotors te kaap, paaie te versper, die sleutels te steel en weg te hardloop of om die vragmotor aan die brand te steek.

Verskeie paaie in die Kaapstadse metrogebied is versper. Op dieselfde dag is skote naby Heidelberg in Gauteng geskiet op ’n vragmotor wat op die N3 van Johannesburg na Durban op pad was.

’n Taakspan van die regering, onder leiding van Thulas Nxesi, minister van arbeid, probeer intussen steeds om die geskil te beëindig.

’n Vragmotor van Pick n Pay wat verlede Woensdag buite Kaapstad voorgekeer en aan die brand gesteek is. Foto: Jaco Marais

Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (Natjoints) hou die situasie dop.

City Press het Sondag berig die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) monitor die stygende vlak van ontevredenheid onder die land se werkersklas oor buitelanders in poste wat nie skaars vaardighede vereis nie.

Op sy beurt het Rapport berig die regering gaan voort met wetgewing wat die indiensneming van buitelanders in sekere sektore van die ekonomie sal verbied.

Die nuwe wetgewing sal nie net beperk wees tot die pad- en vragvervoersektor nie, maar ander bedrywe insluit wat groot getalle buitelandse werkers in diens neem. Dit sluit in die gasvryheidsbedryf, restaurante, veiligheidsmaatskappye en die boerdery- en landbousektore.

Intussen het die Kaapstadse metroraad in ’n verklaring gewaarsku die Kaapse ekonomie kan beswaarlik die aanvalle bekostig.

Groot getalle werkgeleenthede is weens die staking in die gedrang.

Die DA het die aanvalle op die vragmotors vroeër beskryf as niks anders nie as “ekonomiese sabotasie”.

Die party sê hy is bang die aanvalle het ondertone van vreemdelingehaat.

Suid-Afrika was verlede jaar onder kwaai druk van ander Afrikalande nadat hul burgers in Suid-Afrika aangeval is. Dit het onder meer gelei tot aanvalle op die eiendom van Suid-Afrikaanse maatskappye elders in Afrika.

Pres. Cyril Ramaphosa het spesiale gesante na Afrikalande gestuur om hulle te paai en te verseker sulke aanvalle sal nie weer voorkom nie.

Meer oor:  Vragmotors  |  Staking  |  Vragmotorbestuurders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.