Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrede en liefde ná tyd van geweld in KZN

Stadig maar seker is normaliteit besig om terug te keer na die gebiede in veral KwaZulu-Natal wat lam gelê is deur die onlangse gewelddadige onluste en plundery.

Vrywilligers van die Dare to Love-veldtog laai vars kos af in die geweldgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

En dié vrede word gedryf deur mense van oral wat hulp verleen. “Dit is ’n nuwe revolusie wat met ’n oop hand en liefde gedryf word,” sê Herman Steynberg, ’n lid van die Dare to Love-veldtog.

Hy was deel van ’n groep vrywilligers wat sedert Maandag van die gebiede in die provinsie besoek het wat die ergste geraak is.

Hulle het 30 ton se vrugte, groente en mieliemeel afgelaai wat uitgedeel is aan ouetehuise, weeshuise en ander welsynsorganisasies.

“Daar was heelwat ouer mense wat maar net te dankbaar is om weer vars kos te hê,” sê Steynberg.

By sommige plekke was die rye mense wat gewag het vir kospakkies, meer as ’n kilometer lank.

Die groep het ook 60 000 saailinge afgelaai sodat mense ook kan begin om meer selfonderhoudend te wees.

Dare to Love het Saterdag by die Pretoria Mark opgedaag en teen 08:00 het hulle genoeg skenkings gekry vir 8 ton se voorraad. ’n Uur later het die boodskap vinnig versprei en het die groep 30 ton gehad.

Al wat oorgebly het, was om al dié liefde op ’n vragmotor te laai en die pad van Pretoria aan te durf.

“Ons wil brûe bou. Dit is ’n tyd vir Suid-Afrika om saam te staan,” sê Steynberg.

Sarah Raatgever, eienaar van ’n CrossFit-gimnasium in Durban, staan in haar leeg geplunderde gimnasium. Dit het haar byna sewe jaar geneem om die plek op te bou. Foto: Isabel Venter

Sarah Raatgever, eienaar van die CrossFit in die weste van Durban, is nog moedeloos. Sy sê egter sy sal haar onderneming herbou, maar die onluste laat ’n wrang smaak in die mond.

“Ja, ’n mens het versekering, maar ons is nie ’n groot maatskappy nie. Dié plek is met sweet en trane van die grond af opgebou,” sê sy terwyl sy in haar geplunderde gimnasium rondkyk.

“Toe die plundering begin, het ’n buurman oorkant die straat gesien wat gebeur. Dié moes homself toesluit in sy kantoor uit vrees vir sy lewe,” sê Raatgever.

Haar buurman het oorbluf toegekyk hoe gespesialiseerde oefenfietse en ander toerusting weggedra word deur booswigte. Die gimnasium se yskas, klankstelsel en selfs hul handelsnaam-klere is gebuit.

Te midde van al die chaos en plundering het die landelike dorpie Kwanyuswa hande gevat met die gemeenskap van Hillcrest om hul bates te beskerm.

Nick Nzama, ’n oudleerling van die Kearsney College, was die stem wat vir kalmte gevra het te midde van die storm.

Dinge het amper lelik skeefgeloop verlede Dinsdag, met nuus dat plunderaars ’n aanval op die woongebiede beplan. Nzama het gevrees vir moord en doodslag soos wat in Phoenix aangemeld is.

Netwerk24 het vroeër berig oor sommige inwoners wat klaarblyklik midde die geweld private beskermingsgroepe saam met veiligheidsmaatskappye gestig het en mense van buite Phoenix toegang tot woonbuurte geweier het en in sommige gevalle aangerand het.

Christiaan Ngcobo van die taxivereniging Qadi-Nyuswa het dadelik op Nick Nzama se hulpkreet reageer om te verseker geen plunderaars slaan toe op Kwanyuswa nie. Foto: Isabel Venter

Nzama het die hulp ingeroep van Christiaan Ngcobo van die Qadi-Nyuswa taxivereniging. Dié het alles gelos en dadelik ingestem om saam met die gemeenskapspolisiëringsforum hande te vat.

“Gewoonlik dink mense sleg van taxi’s, maar ons is eintlik goed,” sê Ngcobo.

In die stadium het plaaslike veiligheidsgroepe glo die Kwanyuswa-gemeenskap toegang geweier.

Nzama het gevra vir ’n wapenstilstand en ’n vergadering is gehou met die taxi-eienaars, prominente sakelui en veiligheidsmagte.

Daar is gereël vir die taxi-eienaars om terug te gaan na hul onderskeie woonbuurte om die kalmte te bewaar en te keer dat daar geplunder word.

“Dit het ’n groot katalisator soos die dreigende onluste geneem om ons as gemeenskap vorentoe te dryf,” sê Steaphan MacDonald, besturende direkteur van Container Solutions SA.

Hy is een van die sakelui wat Nzama se plan sonder skroom ondersteun het om vrede te verseker.

MacDonald, Nzama en Ngcobo hoop hul storie kan as voorbeeld dien vir ander gemeenskappe oor wat kan gebeur as mense saamstaan.

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Plundery En Geweld  |  Crossfit  |  Kzn-Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.