Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrede en vriende

Sestien maande nadat chaos in Coligny uitgebreek het oor die dood van Matlhomola Moshoeu, ’n 16-jarige seun wat glo sonneblomsade gesteel het, heers vrede deesdae op dié Noordwes-dorp.

Bella Lemotlo en Lebo Senatla, lede van die vredeskomitee, by ds. Tewie Pieterse, voorsitter van die komitee (middel).Foto: Wikus de Wet
Cobus van Tonder: “Ek help maar net weer.” Foto: Wikus de Wet

Nadat die voorval verlede April ’n rasseherrie ontketen het met verwoestende gevolge, het bemiddeling danksy kerkleiers uiteindelik tot vriendskappe oor kleurgrense heen gelei. Swart en wit staan nou saam om die dorp op te knap.

“Coligny is nou in vreedsame harmonie,” sê Bella Lemotlo, ’n lid van die vredesforum op die dorp, lid van die ANC-vroueliga en ’n pastoor.

Tewie Pieterse, predikant van die NG gemeente Coligny-Oos en voorsitter van die vredeskomitee, het kort ná die voorvalle met eerw. Paul Verryn van die Metodistekerk vergader om die situasie te beredder. Verryn is bekend vir sy betrokkenheid by onder meer vlugtelingkrisisse. Die stigting van die vredeskomitee verlede September het gevolg ná vergaderings tussen inwoners, Pieterse en Verryn. Dit is gevorm uit ’n komitee van versoening, genesing en die vernuwing wat die voormalige Noordwes-premier Supra Mahumapelo vroeër in die lewe geroep het. Slegs die vredeskomitee is nog aktief.

Deesdae is Verryn ’n mentor vir die Coligny-gemeenskap.

Die eerste stap was deur Pieterse, wat bome by die ingang van die dorp geplant het.

Die Coligny-hotel is een van die geboue wat die afgelope maande as deel van die opknappingsproses geverf is. Foto: Wikus de Wet
Coligny se strate is skoon en netjies en inwoners sien self om na die instandhouding van sypaadjies. Randstene is ook onlangs geverf.Foto: Wikus de Wet
Lebogang Setshwaelo (27) in die gemeenskapsentrum in Coligny.: “Wat verlede jaar gebeur het, moes nooit gebeur het nie.” Foto: Wikus de Wet
Verlede jaar se tonele van chaos.

“Eendag het ’n man gestop en gevra of hy die plante kan water gee.” Een goeie daad het op ’n ander gevolg. Deesdae knap mense uit hul eie sakke die dorp op. Rommel word opgetel, gras word gesny en plante geplant, geboue word geverf en slaggate word gevul. Die EFF het aangedui hulle wil bome plant. Lebo Senatla, lid van die vredeskomitee en ’n jeugleier in die gemeenskap, sê byna geen instandhoudingswerk word deur die munisipaliteit verrig nie.

“90% van die werk word deur die gemeenskap gedoen.”

Cobus van Tonder, ’n sakeman wat reeds 18 jaar in Coligny woon, het miljoene rande se skade gely in verlede jaar se betogings. Ten spyte daarvan help Van Tonder met die opknappingsproses. Hy het randstene in die dorp laat verf en drie weke lank drie mense betaal om strate skoon te maak. Naamborde uit sement staan reeds gereed om geplant te word. Hy kan nie verklaar hoekom hy ten spyte van sy reuseskade steeds help nie.

“Ek help maar net weer.”

Lebogang Setshwaelo (27), wat verlede jaar een van dié was wat meegedoen het aan die plundering, sê verhoudinge tussen verskillende rassegroepe is nou “rustig”.

“Ons was deel van die afbreek (van die dorp), maar ons het besef ons het soveel verloor en om af te breek neem ons nêrens nie – inteendeel, dit sit ons verder terug,” sê hy.

Sedert die onrus het inwoners van die dorp verskeie vergaderings gehou. Setshwaelo sê onenigheid tussen rasse skep ongelukkigheid. Maar vanjaar het groot veranderinge plaasgevind. Hy sê hulle het gesien dat wit mense hulle liefhet en dat hulle almal op dieselfde vlak is. “Wat verlede jaar gebeur het, moes nooit gebeur het nie,” sê hy oor die onrus op die dorp. “Nou gaan ons vorentoe.”

Senatla sê die trotsste oomblik op die dorp was om te sien hoe mense se houdings verander. “Ek het nooit gedink ek sou so ’n hegte verhouding met wit mense hê nie. Maar swart én wit mense het seergekry.”

Senatla het die afgelope maande aanskou hoe mense bymekaarkom en mekaar ondersteun.

“Toe ek boere van die gemeenskap ontmoet het, het ek gesien hoe plat-op-die-aarde en toeganklik hulle is. Ons het vriende geraak en nou is ons familie.”

Die komitee en ander inwoners aanvaar ook verantwoordelikheid vir die opknapping van die dorp.

“Mense was so negatief ná die aanvalle,” sê Pieterse.

Barend le Grange, bedryfshoof van SA Day, ’n organisasie wat hom beywer om die land se kulture, diversiteit en oorwinnings met die wêreld te deel, sê Coligny is nou ’n gemeenskap wat verantwoordelikheid aanvaar. In ’n samewerkingsooreenkoms tussen SA Day en die vredeskomitee is die munisipale geboue, polisiekantoor, biblioteek en sypaadjies reeds geverf.

In Coligny en Tlhabologang-township is daar nêrens rommel in sig nie.

Pieterse sê die vredeskomitee het oor die afgelope paar maande “die proses geword”. “Langs die pad het ons die politici verloor, maar die bemiddelaars, die vredemakers, het voortgegaan. Ons sal nooit die vredeskomitee ontbind nie,” sê hy.

Lemotlo sê die komitee praat deurentyd met mense oor hul verwagtinge. Verryn sê Lemotlo het reuseveranderinge teweeg gebring deur veral met bendeleiers te gesels. “Nou kom vra die bendes my om met hulle te kom werk.”

Meer oor:  Matlhomola Moshoeu  |  Coligny  |  Chaos  |  Dood  |  Gesteel  |  Vrede  |  Rasseherrie  |  Sonneblomsade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.