Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vreugde toe pa dae ná wrede aanval bykom

Bennie Joubert het Saterdag vir ’n oomblik ophou asemhaal toe mediese personeel die ventilator wou verwyder.

Amanda Joubert se arm, wat met verskeie steke geheg moes word nadat sy in die aanval ’n venster gebreek het om alarm te maak, begin ook stadigaan genees. Foto: Verskaf

Sondagmiddag toe sy oudste dogter vir haar “twee-minute-kuiertjie” om die gordyn van haar erg beseerde pa se bed loer, is sy begroet met: “Hallo, Carries!”

“Ek moes kwaai agter my masker aan my trane sluk. My pa, wat tot netnou nog in ’n koma was en nie self kon asemhaal nie, het bygekom! Dit was die beste gevoel,” sê Carmen Esterhuizen stralend.

Joubert (60) was wel nog deurmekaar en kan nie die voorval onthou waarin hy en sy vrou, Amanda, op 13 Februarie nog donker oggend in hul huis in Centurion aangeval is nie. Die aanvallers het ’n graaf of ’n soort kapmes gebruik.

“Maar hy kon met die personeel se hulp al ’n tree gee. Een wonderlike eerste tree. Dit is so simbolies,” sê Esterhuizen.

Nadat sy hom Sondag in breë trekke vertel het hoekom hy in die Milpark-hospitaal se hoësorg-trauma-eenheid is, was sy eerste reaksie: “Is Amanda oukei?” En toe: “En Sylvester?”

Sylvester is die egpaar se stokoue en dowe hond wat by hulle in die kamer slaap. Niemand kan verklaar hoe hy in die aanval uit die swaaiende wapens of die vegtende mense se pad gebly het nie.

Joubert het tans ook geen herinnering aan hoe hy herhaaldelik so geslaan en gekap is dat sy bloed die kamermure, die vloer en die dak bevlek het nie.

Byna elke been in sy gesig is gebreek en moes verlede week in ’n operasie van verskeie ure stukkie vir stukkie geheg word.

Sy een oog, wat byna halfpad uit die oogkas gehang het, word nou binne gehou met die hulp van ’n soort “bakkie” totdat die oogspiere weer werk.

’n Model van ’n skedel waarop die herstelwerk aan Bennie Joubert se gesig beplan en uiteengesit is. Byna elke been in sy gesig is gebreek toe hy op 13 Februarie met ’n graaf of ’n soort kapmes aangeval is. Foto: Verskaf

Daar was ook bloeding op sy brein.

Amanda, wie se arm, hand en voete stukkend gesny is toe sy die kamervenster stormgeloop het om alarm te maak, en Esterhuizen is ná Joubert se opname in die hospitaal toegelaat om hom om die beurt letterlik vir twee minute per dag te sien.

Amanda het haar eerste twee minute gebruik om haar bewustelose man te bedank dat hy so vir haar lewe geveg het.

Met haar besoek die volgende dag het Esterhuizen ook ’n stemboodskap van haar suster in Nieu-Seeland, Veronica Sealie, vir haar pa gespeel. Joubert het telkens in sy verdoofde toestand reaksie getoon.

Die afgelope Saterdag, presies ’n week ná die aanval, het sake so byna ’n noodlottige wending geneem toe hy opgehou het om asem te haal.

“Ek was dus baie bekommerd toe ek Sondag by die hospitaal aankom. Ek het vir die suster gesê ek is hier vir my twee-minute-besoek. Toe antwoord sy dat ek maar langer kan kuier.”

Sy het omgekyk na haar pa se bed. Sy voete het beweeg.

Ek besef daar lê nog ’n baie lang pad en operasies voor. My man het báie seergekry.

“Toe ek om die gordyn (rondom die bed) stap, sit hy regop en groet my met ‘Hallo, Carries!’ Sonder ’n ventilator. Hoe wonderbaarlik is dit nie!

“Dit was net die wonderlikstegevoel toe ek hom so sien regop sit.

“Hy is ons Iron Man, en nie net oor al die plate in hom nie!”

Sy was oorweldig en in trane van dankbaarheid toe sy haar ma met die nuus van die hospitaal af gebel het. Haar ma het eers gedink die ergste het gebeur, totdat sy kon uitmaak wat haar dogter sê.

“Dit is ’n absolute wonderwerk hoe Bennie na alles wat gebeur het, net self bygekom het en self kan asemhaal,” het Amanda gesê.

“Die dokters het nog Saterdag vir my gesê hulle sal eers weer aan die einde van die week probeer om hom by te bring, en hom dan stelselmatig van die ventilator speen.

“Ek besef daar lê nog ’n baie lang pad en operasies voor. My man het báie seergekry.

“Maar sy brownie-points het sommer nog gestyg toe ek hoor hy het na Sylvester ook gevra,” het sy geskerts.

• Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n saak van huisroof, asook van poging tot moord ondersoek. Niemand is nog aangekeer nie.

Meer oor:  Bennie Joubert  |  Centurion  |  Ventilator  |  Herstel  |  Huisroof  |  Poging Tot Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.