Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vriende, kollegas onthou Ian Wessels se ‘lag, talent, omgee’
Ian Wessels (links voor) in 2018 saam met sy RSG-kollegas: Van links agter is Ettienne Ludick, Jacqui January, Janine Kerspuy, Jody Hendricks, Wouter de Wet en Fritz Klaaste. Voor langs Wessels is Muriel Janse van Rensburg en Ilse Salzwedel. Foto: Verskaf

Kollegas en vriende sal Ian Wessels (61) onthou as iemand wat die wêreld wou laat lag.

Wessels, bekende RSG-omroeper, is Maandag in Johannesburg oorlede. Pankreaskanker is in 2019 by hom gediagnoseer. Hy was tot drie weke gelede nog op sy pos agter die mikrofoon as aanbieder van die regsprogram Regsake.

Fritz Klaaste, RSG-omroeper, sê hy het sowat ’n maand gelede gesien Wessels sukkel en het hom gevra hoekom hy nog werk.

“Toe sê hy: ‘Hierdie mikrofoon maak my sterk. Die luisteraars gee my hoop, hulle maak dat ek aangaan.’ Ian het agteruitgegaan, maar hy het homself nie verloor nie,” sê Klaaste.

“Ons het veral die laaste klompie jare baie gedeel. Hy het anders na die lewe gekyk, seker maar weens sy regsagtergrond. Hy kon situasies opsom en die snaaksste goed in doodeenvoudige gebeure raaksien.”

Jody Hendricks, nog ’n RSG-kollega, onthou hoe lekker Wessels kon lag.

“Iets wat ek altyd sal onthou, is as hy ’n grappie vertel het, het hy meer gelag vir die grappie as wat hy hom vertel het,” sê Hendricks.

“Sy sterfte is ’n groot verlies vir die radiogemeenskap van Suid-Afrika. Ek onthou toe ek na Johannesburg getrek het, was hy een van die eerste mense wat my laat welkom voel het.”

Ilse Salzwedel, ook ’n RSG-kollega en ’n goeie vriendin van Wessels, sê hy en sy vrou, Liesel, was onafskeidbaar sedert hulle mekaar 25 jaar gelede by Radio Helderberg ontmoet het. Hulle was 18 jaar getroud.

“As ek aan Ian dink, dink ek noodwendig ook aan Liesel. Liesel het haar eie loopbaan, maar as sy kon, het sy Ian vergesel na geleenthede om sy klank te behartig. Op sy beurt het hy haar op sy hande gedra. Hul liefde was beslis ’n liefde waarvan die meeste van ons net kan droom,” sê sy.

Ian WesselsFoto: Verskaf

Vir Wessels was dit belangrik om positief te bly en voluit te leef.

“Hy het nooit oor sy siekte gekla nie en nooit hoop verloor nie. So ’n maand gelede het hy vir die eerste keer in ’n WhatsApp-boodskap genoem dat hy swak voel, en toe het ek geweet hy is regtig baie, baie siek,” sê Salzwedel.

Wessels het die bemarkingsteks vir Salzwedel se nuwe boek, Floreer, geskryf. In dié skrywe sê hy binne die bestek van ’n paar maande het sy huis afgebrand en die huisinhoud is verwoes, terminale kanker is by hom gediagnoseer en weens die koronaviruspandemie is al sy optredes gekanselleer.

“Tog is ek vandag gelukkiger, met meer vrede in my lewe as ooit voorheen – en dit is nié omdat ek 60 kg verloor het nie! Die ‘terugslae’ was eintlik ’n bedekte seën,” skryf hy.

“Ek waardeer elke oomblik van elke dag nou soveel meer. Dit het my ook die geleentheid gebied om my lewe letterlik en figuurlik te spring-clean en dit wat ek in my motiveringspraatjies aanbeveel, prakties op myself toe te pas om te sien of dit regtig werk. Nou kan niemand weer vir my sê ek kan maklik praat nie!”

Veronique van Heyningen, RSG-regisseur wat inbellers se oproepe tydens Wessels se vorige program, Loslip, hanteer het, sê hy was altyd gereed met ’n geselsie of grappie.

“Hy het so hard gewerk. Hy het verlede week nog vir my sy reklame vir sy regsprogram gestuur. Hy het tot aan die einde gewerk,” sê sy.

“Hy het ontsettend baie omgegee vir sy vrou en vir sy vriende. Ek dink as hy jou gekies het as ’n vriend, was daar geen omdraaikans nie.”

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, sal Wessels se besonderse talent, sy spitsvondigheid en sy gesonde moedswilligheid om mense uit te lok oor ’n onderwerp, onthou.

“Jy het gehoor as hy by die werk in die gange was; iemand was altyd aan die lag oor ’n Ian-uitlating of skerpsinnige en soms sinies-snaakse opmerkings oor mense en dinge. Hy was ’n besondere, inspirerende mens, veral toe hy siek geword het. Ian kon ook soms ’n moeilike kalant wees, maar dit was wanneer hy sterk geglo het in sy standpunt en sy werk,” sê Kruger.

Hy het so hard gewerk. Hy het verlede week nog vir my sy reklame vir sy regsprogram gestuur. Hy het tot aan die einde gewerk.

Wessels het in 1996 ’n onderhoud met die sangeres Nádine gevoer en hulle het ’n later vriende geword. Nádine sê hy was vir haar sinoniem met merkwaardigheid.

“Sy naam dra gewig en dwing respek af. Hy was hardwerkend, pligsgetrou en hy het geglo God help dié wat hulself wil help. Hy het ’n aansteeklike lag gehad, met ’n skerp sin vir humor en die mooiste Afrikaanse uitspraak wat eie aan hom was. Pretensie en drama kon hy van ver af raaksien en systap,” sê sy.

“Ek sal my eerste wynproe saam met Ian en Liesel by die Vrede en Lust-wynplaas koester, sy heerlike steak en stories onthou, en sy gemoedelike gesels en sy stem mis.”

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck sê in ’n boodskap aan Wessels sy sal sy warmte, omgee, sy lag uit sy maag en sy mooi stem mis.

“Jy was bigger than life op ’n goeie manier. Jy was bang vir niks en alles was ’n uitdaging en ’n avontuur. Ek wou nog ’n kans kry om weer saam met jou ’n goeie glas rooiwyn te drink en die lewe te bepeins, maar tyd het ons ingehaal. Nou sal ek maar my glasie op jou klink,” skryf sy.

Meer oor:  Ian Wessels  |  Rsg  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.