Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vriende kyk saam na hulde-dokkie oor Johann Botha

Al was hy nie daar om dit te sien nie, weet mense na aan die ontslape televisieaanbieder en radiopersoonlikheid Johann Botha dat hy ongelooflik trots op die dokumentêr oor sy lewe sou wees.

Johann Botha.

Vriende en familielede van Botha het Woensdagaand, op sy 55ste verjaardag, by Danie van der Walt, sy boesemvriend en skepper van die natuurprogram 50/50, se huis in Northcliff, Johannesburg, saamgekom om eerste na die dokumentêre rolprent Ons Botha te kyk voordat dit later vandeesmaand uitgesaai word.

“Dit het my ontstel om dit weer te sien, want ek weet hy is nie hier nie, maar dit is regtig goed gedoen. In 55 jaar kan ’n mens honderde stories maak oor ’n ou, is dit nie, maar die manier waarop hulle dit saamgevat het en hoe hulle die verskillende dele van sy lewe ten toon stel, wys dat hulle hom goed geken het. Johann sou baie trots gewees het,” sê Rudolph Botha, Johann se broer.

Shaun Botha, Johann se broerskind, sê al was dit vir hom ook ontstellend om die dokumentêr te sien, weet hy dit vat sy oom se persoonlikheid perfek vas.

“Sy liefde en kennis – dit is wonderlik om te sien hoe dit vasgevang is.

“Die realiteit is dat hy nie meer hier is vir ontbyt op ’n Sondagoggend nie en ek kan hom ook nie meer bel en oor enigiets gesels nie. Dit is weg,” het Shaun bewoë gesê.

Prof. Erik Holm, entomoloog, natuurkenner en ’n vriend van Botha, sê om die fliek te sien het die wonde van Botha se dood weer oopgekrap.

“Ek is natuurlik weer rou, want dit is so ’n hartseer storie. Ek is ook so ontroer en dankbaar dat daar so ’n rolprent aanmekaar gesit is, wat amper ’n bomenslike taak is as dit gaan oor ’n mens soos Johann Botha, wat ’n uitblinker in alles was. Van die natuur tot musiek tot you name it.”

Dirk Smit en Alti Fouché, die vervaardigers van Ons Botha, sê hulle is verlig dat almal daarvan gehou het.

Almal het vir my ná die tyd kom sê die dokkie is só Johann, so dit beteken ons het ’n goeie job gedoen.

“Almal het ’n bietjie van ’n traan weggepink, maar mense was in die algemeen bly om Johann weer vir oulaas te sien,” sê Fouché.

“Almal het vir my ná die tyd kom sê die dokkie is só Johann, so dit beteken ons het ’n goeie job gedoen,” sê Smit.

“Die een ding wat ek gevra het, is dat die produksie nie oor sy dood gaan nie. Daar is ’n deel oor sy dood, maar dit het nie die storie oorheers nie. Sy lewe is mooi saamgevat en dit het gewys hoe spesiaal hy was. Ons sal hom verewig mis. Dit is maar net hoe dit is,” sê Rudolph Botha.

* Ons Botha word op 19 Augustus om 14:30 op kykNET uitgesaai.

Meer oor:  Johann Botha  |  Dokumentêr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.