Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vriendelike stad, Port Elizabeth, oftewel Gqeberha

Sommige inwoners van Port Elizabeth sal dalk binnekort hul Xhosa moet opskerp om die stad se moontlike nuwe naam te kan uitspreek.

Die Donkin Reserve-piramide en -ligtoring in Port Elizabeth. Foto: Argief

Ná verskeie openbare vergaderings wat verlede jaar in die Nelson Mandelabaai-metro deur die Oos-Kaapse komitee vir geografiese name (ECPGNC) gehou is, het Gqeberha as die voorgestelde naam vir die stad uitgekom.

Die ander twee keuses was I-Bhayi en Nelson Mandela City.

Benewens ’n nuwe naam vir die stad was die doel van die openbare vergaderings ook om nuwe name vir die buurdorpe Uitenhage en Rosedale, asook die stad se lughawe te bespreek.

Die ECPGNC het onlangs die voorgestelde name as volg bekend gemaak:

* Port Elizabeth Internasionale Lughawe - Chief David Stuurman-lughawe

* Uitenhage - Kariga

* Rosedale - Kamesh.

Maar dit sal minstens nog twee jaar wees voordat enige nuwe name op padborde sal verskyn, sê Zukile Jodwana, adjunkvoorsitter van die ECPGNC, ge.

Volgens hom het inwoners nog tot 30 November om op die voorgestelde name kommentaar te lewer of beswaar aan te teken.

Hierna sal ’n subkomitee van die ECPGNC deur die besware en kommentaar werk, waarna hulle op elke beswaar sal reageer.

Die subkomitee sal hul kommentaar vir oorweging aan die ECPGNC oordra, waarna hulle die finale aanbeveling aan die provinsiale regering sal deurgee, wat dit op hul beurt aan die nasionale komitee sal oorhanding. Die nasionale komitee sal eers ondersoek instel om te bepaal of die wetlike stappe gevolg is, voordat die aanbeveling aan die minister van sport, kuns en kultuur voorgelê word.

“Die minister sal dan die voorstel aanvaar of verwerp,” sê Jodwana.

Dié proses kan nog ses tot 12 maande duur.

Die minister sal dan die voorstel aanvaar of verwerp.

Indien die minister die voorstel vir die betrokke naamsveranderings sou aanvaar, sal die volgende stap begin waar instansies en organisasies, wat met die bestaande dorpsname geassosieer word, genader sal word om ook moontlik hul name na die nuwe name te verander.

Google Maps en drukkers van padkaarte sal ook in dié tydperk van die verandering in kennis gestel word.

Indien die proses sonder probleme verloop, sal dit minstens nog ’n jaar duur.

Intussen het Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, onlangs aangedui dat hy ook daartoe verbind is om die provinsie se naam te verander.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, Mabuyane se woordvoerder, sê die rede hiervoor is omdat die naam van die provinsie nie in Engels of Xhosa aanklank vind by die inwoners van die provinsie nie.

“Die ‘kolonie’, wat byvoorbeeld in Xhosa as die naam gebruik word (iMpuma-Koloni of net Koloni), verwys na ons as ’n kolonie, terwyl ons niemand se kolonie is nie.

“Die doelwit is om die provinsie se naam te kan verbind met dit waarna ons as provinsie streef,” sê Sicwetsha.

’n Nuwe naam sal nie water na die mense se huise bring en voer vir die honger diere nie.

Die premier het reeds opdrag gegee aan die Oos-Kaapse LUR vir sport, kuns en kultuur om saam met die ECPGNC te werk om die proses aan die gang te sit.

Sicwetsha het egter benadruk dat die premier nie die naamsverandering as prioriteit bo die lewering van basiese dienste plaas nie.

John Steenhuisen, nuutverkose parlementêre leier van die DA, het Woensdag op sy besoek aan Somerset-Oos die premier gekritiseer oor die voorstel van ’n naamsverandering vir die provinsie. Hy meen droogtehulp moet ’n veel groter prioriteit wees.

“Terwyl die krane leegloop en boere vee en oeste verloor, moet hy (Mabuyane) weet dit kan geensins nou ’n prioriteit vir die provinsie wees nie.

“ ’n Nuwe naam sal nie water na die mense se huise bring en voer vir die honger diere nie,” sê Steenhuisen in ’n verklaring.

Hy het na Makhanda (Grahamstad) as ’n voorbeeld verwys en gesê dié naamsverandering het niks gedoen om die probleem met watertekorte in die dorp te verlig nie.

“Vir nou behoort die enigste prioriteit te wees om ’n ramp te voorkom met droë krane en die ineenstorting van die landbou.”

* Inwoners kan hul besware of kommentaar oor die voorgestelde naamsveranderings vir Port Elizabeth, die stad se lughawe, Uitenhage en Rosedale indien by:

  • Linda Zileni, 043 492 0088 / Linda.Zileni@ecsrac.gov.za,
  • Chuma Mfikill, 043 492 0087 / Chuima.mfikill@ecsrac.gov.za
  • Mark Mandita, 043 492 0056 / mark.mandita@ecsrae.gov.za.
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Gqeberha  |  Naamsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.