Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vroedvrou-sage: Ek het my ma afgeskryf en begrawe

Die jong vrou wat beweer sy is in haar ma se kraampraktyk beveel om “die aborsiepil” in drinkwater vir swanger vroue te gee om die geboorteproses te versnel, het haar ma in ’n “begrafnis” afgeskryf.

Estuné Maritz (regs) en Elsa Swart van Centurion buite die gebou van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging voordat Estuné teen haar ma, Yolande Maritz, getuig het. Foto: Deon Raath

Estuné Maritz (21) het haar ma, die vroedvrou Yolande Maritz, die afgelope week vir die eerste keer in ’n jaar en ’n half gesien by laasgenoemde se verhoor voor die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) se beroepsgedragskomitee. Dit was nie om te versoen nie. Estuné het Woensdag teen haar ma getuig.

“Ek het lankal begrafnis gehou (oor Yolande),” het Estuné by die verhoor in Pretoria aan Rapport gesê.

Yolande, van Murrayfield in die stad, word van onprofessionele gedrag aangekla. Sy het op alle klagte skuld ontken behalwe een. Van Yolande se voormalige pasiënte beweer sy het as hul vroedvrou tot die dood of gestremdheid van hul babas bygedra.

Estuné het aan Rapport gesê: “Ek is rustig. Die Here gee my baie krag vandag. Ek moet net sterk staan en die waarheid praat. Ek het gedink dit gaan my pla om haar weer te sien, maar dit het nie.”

Dit was toe eintlik ’n aborsiepil.

Hulle het buite die verhoor­lokaal na mekaar gekyk, maar nie gegroet nie.

Volgens Estuné het sy van 15-jarige ouderdom ’n paar jaar vir haar ma gewerk voordat sy by die praktyk “weggeloop” het.

Sy was Woensdagoggend onder sowat 20 mense wat buite die SARV-gebou plakkate omhoog gehou het uit protes teen Yolande se beweerde praktyke.

Estuné het in haar getuienis na haar ma as “me. Maritz” verwys.

Sy het getuig sy het as haar skoolopleiding tuisonderrig ontvang en as doula in haar ma se praktyk gewerk. Sy moes die middel Cytotec in die vroue se waterbottels gooi en seker maak hulle drink dit. Die vroue was onder die indruk hulle kry Rescue Remedy (’n homeopatiese kalmeermiddel), het Estuné getuig. Toe sy later haar “eie ondersoek” doen oor Cytotec het sy ontdek dis in werklikheid die aborsiepil Misoprostol, wat gebruik word om kraam te induseer. Sy het getuig oor die “Rescue Remedy” wat sy in Carien Möller van Pretoria-Oos se waterbottel moes sit.

Möller was in die geboortebad.

Haar ongebore baba se hartklop het op fetale nood gedui.

“Die atmosfeer was frantic, maar niks is gesê nie. Geen ambulans is gebel nie.”

Carien Möller kom saam met haar dogtertjie, Sophia, by Yolande Maritz se tugverhoor in Pretoria aan. Foto: Deon Raath

Die baba, Sophia, was “floppy” en blou by geboorte. Dit het 30 minute geneem om haar by te bring.

Möller het die 22 maande oue Sophia, wat breinskade het, Woensdag saamgebring na die verhoor. Sy is een van vyf voormalige pasiënte van Yolande wat klaers in die saak is.

Bongani Mazibuko van die vakbond Denosa het namens Yolande aan die komitee gesê hulle is “verbaas” dat ’n ou Bloemfontein-saak waarin geen nalatigheid teen Yolande bewys kon word nie, voor die komitee is. Die klaer in dié saak is Venetia Pretorius, wat in Bloemfontein Yolande se pasiënt was.

Litha Swartbooi, pro forma-aanklaer, het gesê die klag is hersien en ’n besluit is geneem dat Yolande aangekla moet word. Die brief waarin sy daarvan ingelig word, is egter na haar ou adres gestuur.

Mazibuko het gesê omdat die klag sonder Yolande se medewete heropen is, kon sy nie voorleggings doen ter verdediging nie.

Die raad het dus nie in goeder trou opgetree nie. Die komitee het bevind die klag bly staan totdat ’n hof dit uitgooi.

Pretorius het getuig sy het baie pynlike kontraksies gekry “en half buite beheer gevoel” nadat sy ’n bottel water moes drink.

Yolande Maritz Foto: Facebook

Sy het herhaaldelik gevra wanneer besluit word op ’n keisersnee in die hospitaal, “want dit voel of ek vir ewig druk”.

Yolande het drie keer ’n verlostang gebruik om die baba te probeer uitkry. “Ek het die vierde keer oorgegee.”

Haar baba, Janco, is gebore, maar is 12 dae later in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein aan veelvuldige orgaanversaking dood, het sy getuig.

Aliki Livanis, ’n doula, het getuig ouers het van haar dienste gebruik gemaak wanneer hulle na Yolande se kraamsentrum is.

“Ek het opgemerk die Rescue Remedy word gegee wanneer die ma by die sentrum ingaan.”

Dinelle Oosthuizen van Pretoria-Oos het getuig sy het deur die nag gekraam. Yolande het volgens haar gesê as die baba teen 07:00 nie uitkom nie, sal sy ’n ginekoloog by ’n private hospitaal bel vir ’n keisersnee.

Yolande het dié dokter gebel, maar nie antwoord gekry nie.

“Toe sê sy ek moet (na die) Steve Biko (Akademiese Hospitaal) toe gaan.”

Die geboorte was gejaagd, want Yolande-hulle moes na ’n vliegles gaan.

Volgens Oosthuizen het sy geweier om na Steve Biko, ’n staatshospitaal, te gaan en haar baba is toe met ’n noodkeisersnee by die private Life Wilgers-hospitaal gebore. Sy het getuig sy het Yolande om verskeie redes verkla, soos dat Yolande “beloof het om ’n ginekoloog as back-up te hê” en dat ’n ambulans op die perseel sou wees. “Ons moes wag vir die ambulans.

“Ek voel die geboorte was gejaagd, want (Yolande-) hulle moes na ’n vliegles toe gaan.”

Madelein Roux van Mokopane se baba, Denieke, is in die geboortesentrum deur paramedici dood verklaar.

Sy het getuig daar was ’n fotograaf in die vertrek wat nie deur haar bespreek is nie. Sy wou nie die fotograaf daar hê nie. Die fotograaf het haar een been teruggetrek terwyl sy op die bed gekraam het.

Swartbooi gaan ’n deskundige laat getuig wanneer die saak na verwagting in Julie hervat word.

Vroedvrou beken én ontken

Yolande Maritz het as volg gepleit op die klagte teen haar:

Skuldig op een klag dat sy buite haar praktykgebied opgetree het deur die tablette Clopamon en Cytotec (Misoprostol) aan Mar-Doreth Grobler van Rayton, oos van Pretoria, voor te skryf;

Onskuldig op vier klagte dat sy opsetlik of nalatig daarin misluk het om vier pasiënte (hieronder) se toestand te bepaal, te monitor en te evalueer; en

Onskuldig op die subklagte

– dat sy buite haar praktykgebied opgetree het deur ’n verlostang buite die hospitaal te gebruik op die baba van Venetia Pretorius van Bloemfontein; en nie mediese bystand vir haar gekry het toe dit geregverdig was nie;

– dat sy nie mediese ingryping gesoek het toe Madelein Roux van Mokopane se toestand dit regverdig het nie;

– dat sy daarin misluk het om duidelik en akkuraat boek te hou van alle stappe tydens die bevalling van Dinelle Oosthuizen van Pretoria-Oos; en

– dat sy nie vir Carien Möller van Pretoria-Oos hospitaal toe verwys het toe haar toestand dit regverdig het nie. Die beroepsgedragskomitee van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging gaan eers al die getuienis aanhoor voordat hy ’n bevinding maak oor die klag waarop Maritz skuld beken het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.