Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vroedvrou voor tugpaneel: 4 vroue vertel van trauma

Vier vroue wat voel hul lewe is onherroeplik verander nadat hulle van Yolande Maritz, vroedvrou van Pretoria, se dienste gebruik gemaak het, het hul stories met Netwerk24 gedeel.

Maritz verskyn in Mei voor ’n tugpaneel van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV). Dit is nie in hierdie stadium duidelik wat die klagtes teen Maritz is nie.

Die verhoor is die gevolg van klagtes wat teen Maritz ingedien is nadat sy hulle tydens swangerskap en gedurende die geboorte van hul baba bygestaan het.

Daar is in hierdie stadium geen bevestiging dat Maritz se optrede in enige van die gevalle wel die oorsaak van enige mediese komplikasies of die babas se dood was of dat sy enigsins nalatig was nie.

Verskeie pogings om Maritz te kontak vir kommentaar, was onsuksesvol.

Baba Mila-Skye

Yolanda Polson, ’n 40-jarige ma van Mooikloof in Pretoria-Oos, vertel sy moes enkele weke nadat sy by die You & Me Birth Centre, Maritz se praktyk, die lewe geskenk het aan haar laatlam, Mila-Skye, ’n noodoperasie ondergaan om die plasenta, wat ná die geboorte agtergebly het, te verwyder.

Die geboorte het twee uur geduur.

Sy is twee uur ná die geboorte op 28 Augustus 2020 huis toe gestuur.

Polson beweer sy het verskeie kere vir Maritz gekontak omdat sy ná die geboorte verskriklik gebloei het en Maritz het haar verskeie kere gerusgestel dat die geboorteproses goed verloop het en het dit ook aan haar ouderdom toegeskryf.

Polson beweer Maritz het ook glo drie of vier keer ’n verlossingstang gebruik en dat Maritz ’n middel in haar Energade gegooi het wat die geboorteproses versnel.

“Sy het my Energade gevat. Toe sy dit teruggee, het sy die prop toegedraai en my aangesê om ’n draai te loop en seker te maak dat ek al die Energade drink, want ek gaan dit nodig kry.”

Polson het minute nadat sy die drankie gedrink het geboortepyne ervaar.

“Dit was verskriklik pynlik en het abnormaal gevoel. Daar was geen tyd tussen die pyne nie. Ek het geweet iets is fout. Ek het aanhou vra wat is fout. Sy was baie geïrriteerd en het gesê ek druk nie en my baba sit vas. Sy het gesê ek moet uit die bad klim en op die bed gaan lê, want sy wil tange gebruik,” sê Polson.

Polson het reeds verlede jaar klagte by die SARV ingedien en die raad het in Maart kennis van ontvangs daarvan bevestig.

Baba Denieke Roux

Madelein Roux van Mokopane, Limpopo, is een van die vroue wat gedagvaar is om in Mei voor die SARV te getuig. Haar babadogter, Denieke Roux, is op 12 Augustus verlede jaar doodgebore.

“Ons weet nie wie om kwalik te neem nie. Almal is hartseer oor Denieke. Die skuld word soms op my gepak en ek neem niemand daaroor kwalik nie,” sê Roux.

Madelein Roux en haar man, René, tydens haar swangerskap.

Baba Tatum Levi

Tanita en Andries Brown, ’n oud-Bloemfonteise egpaar wat nou in Ierland woon, wil graag nog ’n baba hê, maar vertel hulle is te bang nadat hulle amper hul eersteling, Tatum Levi, met geboorte verloor het.

Die egpaar het op 23 Oktober 2020 klagtes by die SARV ingedien, maar nog niks weer gehoor nie.

Brown sê sy het steeds nagmerries oor haar ervaring met Maritz tydens die geboorte van hul seun sowat vier jaar gelede.

Volgens haar was haar ervaring met Maritz tot op 29 weke goed, totdat sy gesê het haar baba is ’n bietjie klein, maar dat dit niks is om oor bekommerd te wees nie aangesien dit beter is om aan ’n klein baba as ’n groter baba die lewe te skenk.

“Ek het niks gehad om oor te stres nie, het sy gesê.”

Nadat sy op 34 weke met bloeding wakker geword het en Maritz verskeie kere deur die dag gebel het oor krampe wat sy ervaar het, is sy glo aangesê om onder meer Buscopan-medisyne en Panado-pille te drink.

Ná ure en nog erger krampe en bloeding is sy deur Maritz aangesê om na ’n hospitaal te gaan, want sy is in kraam.

Tatum het met geboorte 1,29 kg geweeg, was blou, het reeds ’n suurstoftekort gehad en verskeie mediese toestande is by hom gediagnoseer.

Tanita en Andries Brown, ’n oud-Bloemfonteise egpaar wat deesdae in Ierland woon, saam met hul seun, Tatum Levi.

Baba Noah

Maandag was dit twee jaar sedert Brendon en Alysia von Kloëg van Middelburg, Mpumalanga, se baba Noah sy engelvlerkies gekry het, vertel Von Kloëg.

Noah is op 3 April 2019 omstreeks 08:14 gebore en was met geboorte blou, verskriklik klein en het nie gehuil nie, al is hy agter die blad geklop. Hy is glo eers ná drie uur na ’n hospitaal vir behandeling geneem. Hier is hy dadelik in die neonatale-eenheid opgeneem.

Die egpaar is later in kennis gestel dat hy vir die res van sy lewe in ’n koma sou wees en nooit op sy eie sou asemhaal nie. Hy het ook geen breinfunksie getoon nie.

Nadat Von Kloëg se plasenta vir verdere toetse gestuur is, is bevind daar was bloedklonte in die plasenta en koord, wat na Noah se brein versprei het.

Die egpaar het destyds klagte by die SARV ingedien, maar sekere dokumentasie moes nog ingedien word. Von Kloëg het intussen weer swanger geraak.

“Ek het nog altyd in my hart geweet ek wil ’n mamma wees en my man is so ’n goeie pappa dat ons intussen ’n dogtertjie ryker geword het. Sy gee weer vir my en my man moed om aan te gaan en harder te veg. Ons baba Lilly is al ouer en steeds slaap ons nie in die aande nie – nie oor sy enigsins ’n moeilike of sieklike baba is nie, maar oor ons so bang is om nog ’n kind aan die dood af te staan,” sê Von Kloëg.

Sy sê om Noah se goed weg te pak, sonder dat hy dit gebruik het en met ’n leë karstoeltjie terug van Pretoria te reis, was alles net te veel om te verwerk.

“Ek en my man het in ’n diep donker gat geval en sommige dae bevind ons onsself steeds in die donker gat – veral op sy geboortedag en die dag toe hy oorlede is.”

Von Kloëg sê hulle het met tyd geleer om uit die gat uit te klim.

Die SARV het by navraag bevestig Maritz se verhoor begin op 12 Mei. Die raad sê hulle kan nie die klagtes lys nie omdat die saak nog hangend is, maar het wel bevestig dat daar meer as een saak teen Maritz is.

Meer oor:  Yolande Maritz  |  Verhoor  |  Babasterftes  |  Vroedvrou  |  Swangerskap  |  Kraam  |  Geboorte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.