Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou dog eers dis mier toe spinnekop byt

Clarissa Steenkamp het eers gedink ’n mier het haar gebyt, moet toe haar man, Theunis, die bruin knopiespinnekop op haar rug kry, het hulle besef dis hospitaalsake.

Die Steenkamps woon op ’n plaas naby Mooketsi, sowat 50 km van Tzaneen in Limpopo, waar Theunis met hoenders boer.

Clarissa Steenkamp Sondagmiddag in die Mediclinic Tzaneen kort voordat sy ontslaan is.

Clarissa (27) vertel sy, Theunis, haar pa, Jan Basson, en stiefma, Elise, het Saterdag omstreeks 14:30 onder die lapa op die plaas gesit. Sy het haar drie weke oue dogter, Lea-Eloana, gevoed, toe sy voel hoe iets haar tussen haar blaaie aan die regterkant van haar rug byt.

“Ek het vir Theunis gevra om te kyk of dit ’n mier is, maar toe sien hy die bruin knopiespinnekop op my rug. My pa het dadelik gesê ons moenie speel hiermee nie en ons is dadelik hospitaal toe.”

Theunis het die spinnekop nie vrekgemaak nie, maar in ’n botteltjie saamgeneem hospitaal toe.

Die bytplek.

“Die bytplek het eers soos ’n kool vuur begin brand. Toe begin ek ’n naalde-en-speldegevoel kry. Kwaai klop- en steekpyne het van my regterarm afbeweeg tot in my regterbeen. My hele regterkant het lammerig gevoel, maar ek kon darem nog loop.”

Clarissa het gehoop sy sou net ’n inspuiting kry, maar is dadelik in die hospitaal opgeneem.

“Die dokter het gesê ek sal nie die pyn kan verduur nie en dat dit omtrent 24 uur sal aanhou. Die pyne was erger as toe ek wakker geword het ná my keisersnit toe Lea-Eloana gebore is. Hulle het dadelik vir my pynmedikasie gegee wat gehelp het.”

Die knopiespinnekop wat Clarissa gebyt het.
Die knopiespinnekop wat Clarissa gebyt het.

Clarissa het Saterdagnag in die Mediclinic Tzaneen oornag, terwyl sy pyn- en anti-inflammatoriese medikasie deur ’n drup gekry het.

“Die dokter het gesê die gif tas die senuweestelsel aan. Hulle kan net die simptome behandel. Toe ek vanoggend wakker word, was my oë en neus toegeswel. Ek het kortisoonbehandeling daarvoor gekry,” het sy Sondag gesê.

Teen Sondagmiddag was die pyn en swelling iets van die verlede en is Clarissa ontslaan. Selfs die bytplek is nie

meer sigbaar nie.

“Ek mag Lea-Eloana nou eers vanaf Donderdag borsvoed om seker te maak die gif is heeltemal uit my liggaam. Ek het groot geskrik,” het Clarissa Sondagmiddag gesê.

Die Steenkamps het ook ’n tweejarige seuntjie, Jan-Theunis.

Meer oor:  Limpopo  |  Tzaneen  |  Byt  |  Plaas  |  Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.