Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou dood; hysbak het dak van gebou getref
Die 120 End Street High Rise-gebou in Doornfontein in Johannesburg.

Drie hysbakke is glo stukkend in ’n woonstelgebou in Johannesburg waar ’n vrou Sondag dood is toe ’n kabel van ’n hysbak gebreek en dit 26 verdiepings opgeskiet het.

Bea Campbell-Cloete, wat in ’n woonstel op die 26ste verdieping van die 120 End Street High Rise-gebou in Doornfontein in Johannesburg gebly het, sê inwoners kla al lank by die bestuur van die gebou oor stukkende hysbakke.

’n Vrou in haar veertigs is Sondag dood nadat ’n kabel van ’n hysbak gebreek en die hysbak 26 vloere opgeskiet het.

Shawn Herbst van Netcare911 sê die hysbak het opgeskiet en die dak van die gebou getref.

Die vrou het ernstige kopbeserings opgedoen. “Nooddienswerkers het alles moontlik gedoen om haar te red, maar sy is aan haar beserings dood.”

Volgens Herbst was daar ook ’n man in die hysbak. Hy kon daarin slaag om op ’n manier uit die hysbak te kom.

ER24 het ook gehelp met die reddingspoging.

Die beseerde man is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal gevat.

Die woonstelgebou is 109 m hoog en het 28 vloere. Dit bestaan meestal uit woonstelle.

Campbell-Cloete het aan News24 gesê die hysbakke gee die afgelope twee jaar probleme.

“Die hysbakke is ’n voortdurende probleem. Dit stop in die middel van vloere, of haak vas en dan begin dit weer beweeg. Soms hou die hysbakke op beweeg tussen twee vloere. Van die hysbakke het ook al vasgehaak in die kelder van die gebou.”

Campbell-Cloete was Sondagoggend kort voor 11:00 op pad na die gebou toe sy ambulanse en die brandweer gesien het. “Ek het gehoop niemand is beseer of dalk beroof nie. Ek het in ’n ander hysbak tot op die 26ste vloer gegaan en toe mense oral gesien.”

“Almal was geskok en kon nie glo wat gebeur het nie. Baie van die mense het gesê hulle gaan uit die gebou trek.”

Volgens haar is daar ses hysbakke in die gebou, maar die afgelope paar weke werk slegs drie van hulle.

“Dit wys mos daar is ’n probleem. Partykeer sal die hysbakke op en af beweeg en nie stop op enige vloer nie.

News24 het met ’n opsigter van die gebou, wat slegs as Solly bekend is, gepraat. Hy wou nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Johannesburg  |  Hysbak  |  Dood  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.