
Annalea van Niekerk en een van haar beeste. Foto: Verskaf
’n Jong vrou van Reitz wat ’n stoetteler is, is een van vanjaar se vyf finaliste in die 25ste Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die finaliste is Annalea van Niekerk (26), ’n Sussex-beesteler, Douglas Osler (39), ’n appelboer van Fouriesburg, Louis de Jager (39), ’n veeboer van Wepener, Jimmy Roberts (27), wat by Hertzogville met vee, gesaaides en wild boer, en Nant Yzel (40), ’n saaiboer van Marquad.
Van Niekerk, wat slegs die tweede vrou is wat as finalis in die kompetisie se geskiedenis aangewys is, het gesê die algehele passie wat sy vir landbou het, is onbeskryflik.
Elana Bester, kommunikasiebeampte vir VL, het gesê vanjaar se deelnemers is van ’n uiterse hoë gehalte.
“Ons het regtig uitstekende inskrywings gehad en het ook vanjaar vyf finaliste in plaas van die vorige jare se drie gekies.”
“Hulle is ambisieus, talentvol en hardwerkend. Dit gaan interessant wees om te sien wie die beoordelaars vanjaar met die titel gaan bekroon,” het Bester gesê.

Annalea van Niekerk Foto: Verskaf

Douglas Osler Foto: Verskaf

Louis de Jager Foto: Verskaf

Jimmy Roberts Foto: Verskaf

Nant Yzel Foto: Verskaf
Die boere praat almal uit een mond wanneer hulle sê dat daar beslis ’n toekoms vir landbou in Suid-Afrika is, mits jy bereid is om hard te werk en uitdagings te trotseer. Dit is dinge waarvoor nie een van hierdie boere terugstaan nie.
Van Niekerk strewe daarna om ’n verskil in mense se lewens te maak en ander jongmense hoop in landbou te gee.
Osler en Roberts glo dat jy letterlik maai wat jy saai, en dat jy elke geleentheid met albei hande moet hande aangegryp.
De Jager glo jongboere se rol in Suid-Afrika is om die ontwikkeling van mense in die landbou volhoubaar te maak. Yzel beaam dit en beklemtoon die rol wat jongboere vervul om voedsel te voorsien, werkgeleenthede te skep en welvaart in die platteland te verseker.
Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se departement van landbou, is dit sterk kandidate wat sake sal uitspook om as die 25ste wenner aangewys te word.
“Die beoordelaarspaneel het reeds die finaliste in Februarie 2020 op hul plase besoek.”
Weens die Covid-19-pandemie was VL genoodsaak om die aanwysing van die wenner uit te stel en die jongboere gaan nou op 13 April om dié gesogte titel meeding.