Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Vrou ‘gebroke’ nadat DBV haar 60 honde vat

Die vrou van Springfontein in die Suid-Vrystaat by wie se huis die Dierebeskermingsvereniging (DBV) 60 honde weggeneem het, se hart is stukkend omdat haar “kinders” weg is.

Die vrou het dié foto aangestuur van sommige van die honde wat op haar erf in Springfontein was. Foto: Verskaf

Die DBV in Bloemfontein het ’n week gelede met ’n lasbrief op dié 46-jarige senior administratiewe klerk se huis toegeslaan. Hulle sê die diere is in “haglike” omstandighede aangetref. Haar naam word verswyg omdat sy nog nie in die hof verskyn het nie. Die DBV is in die proses om ’n klag van dieremishandeling teen haar in te dien.

Duán Matthee, DBV-inspekteur wat op die toneel was, het vroeër aan Netwerk24 gesê die honde is in vuil omstandighede aangetref, met mis en urine oral.

Van die honde was onder meer brandsiek en het die parvovirus (katgriep) gehad. Ander was weens inteling misvormd, het hy vertel.

Van die 52 honde wat aanvanklik oorleef het en by die DBV in Bloemfontein gehuisves word, is intussen nog ’n paar dood. Matthee kon nie die getalle bevestig nie en wag nog vir die veearts se verslag.

Die erg ontstelde vrou sê haar honde was goed versorg.

“As ek in die aand my deure gesluit het, het elke hond ’n kombers en ’n bed gehad,” sê sy.

Die komberse is elke dag uitgehang en met ontsmettingsmiddels gespuit.

Een van die 60 honde wat saam met die vrou in haar huis gewoon het. Foto: Verskaf
Nog een van die vrou se “kinders”. Foto: Verskaf

Sy ontken dat daar oral mis en urine was. Die honde het goeie toiletgewoontes en indien een ’n glips gehad het, is dit dadelik opgevee en die vloer ontsmet, sê sy.

Die honde het ’n “dagmoeder” gehad, terwyl die klerk by die werk was. Dié vrou was die dag dat die honde verwyder is weens ’n krisis laat vir werk. As sy vroeër ingekom het, was die huis skoon, sê sy.

Sy het eers sewe honde ingeneem. Die honde se eienaars het getrek en hulle net daar gelos, sê sy. Later het mense begin om diere wat nie huise het nie oor haar muur te sit.

“Ek het mense vir hulp met sterilisasie gevra, want ek het nie vervoer nie. Ek kon nie my honde altyd by die veeartse kry dat hulle gesteriliseer word nie.”

Volgens haar het van die honde wat by haar aangekom het, reeds ekstra tone gehad.

“Ek kon nie vir die inteling help nie.”

Wat katgriep betref, sê sy dié virus het die omgewing getref.

Die vrou erken egter die erf was in ’n haglike toestand, omdat dit skoongemaak moes word. Sy sê wel die foto wat die DBV verskaf het van bottels en tydskrifte wat in ’n gebou gestrooi is, is in ’n motorhuis geneem. Die honde is nie daar toegelaat nie.

Een van die honde wat ekstra tone gehad het. Die vrou sê egter van die honde het reeds met ekstra tone by haar aangekom. Foto: Verskaf
Duan Matthee van die DBV sê dié hondjie se gesig is weens inteling misvormd en hy sukkel om asem te haal. Foto: Verskaf

Die klerk is kinderloos en het nooit getrou nie. Sy sê sy sien reeds van kleins af na diere om. Sy het ses jaar gelede meer diere begin inneem ná die dood van haar ma aan wie sy haar lewe toegewy het.

“Mense verstaan nie, hulle dink jy is mal om 60 honde te hê. Maar as jy een mens is wat tussen daardie honde bly, is jy ’n familie. Bring vir my ’n mens wat 60 honde se name uit haar kop ken . . .”

Die honde het haar gewoonlik 04:00 wakker gemaak. Dan het sy vir hulle kos gegee, met hulle gespeel en godsdiens gehou voor sy werk toe is.

Volgens haar het die honde hul eie voorkeure vir TV-programme gehad.

“Die televisie moes altyd op cartoons of Keeping up with the Kardashians wees.”

Haar honde het nie honger gely nie, sê sy. Sy het ’n slaghuisrekening vir hulle gehad. Benewens hondepille het hulle ook pap, longe en slukderms gekry en sommige van hulle hoenderlewers.

’n Foto wat die DBV by die huis geneem het. Die vrou sê dit is in ’n motorhuis geneem. Volgens haar was dit altyd toe en het die honde nooit daar gekom nie. Foto: Verskaf

Oor die DBV se bewering dat honde in klein kamers toegemaak is, sê sy “hulle het self die deure agter hulle toegemaak”. Die huis se deure was altyd oop sodat die honde vrylik na buite kon gaan.

Matthee het intussen laat weet dat dit “oukei, maar nog nie goed met die honde gaan nie”.

Hy sê die inspekteurs het ook littekens aan die honde opgemerk. Die honde het vermoedelik onder mekaar baklei.

Meer oor:  Dbv  |  Bloemfontein  |  Mishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.