Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou gedreig ná sy wapen op EFF rig
Diane Attwell Donderdag in die hof. Foto: Malibongwe Dayimani/News24

Die vrou wat Dinsdag in Port Elizabeth haar vuurwapen op ’n groep EFF-lede gerig het wat haar uitgejou het tydens ’n protesoptrede voor Clicks, word sedertdien met die dood gedreig.

Diane Attwell (52) se regsverteenwoordiger, Tiaan Labuschagne, het Vrydag aan Rapport gesê die dreigemente is van só ’n aard dat sy ’n interdikaansoek teen die party oorweeg.

Attwell was Dinsdag in die Clicks by die Walmer Park-winkelsentrum toe sy die EFF-betogers teëkom.

Die EFF het van Maandag tot Donderdag buite Clicks-winkels landwyd betoog nadat ’n sjampoe-advertensie van TRESemmé, ’n produkreeks van Unilever, alom as rassisties beskryf is. Die party het geëis dat alle Clicks-winkels sluit totdat “geregtigheid geskied”.

In die Clicks in Walmer Park het EFF-lede aan Attwell begin stamp en haar omsingel om haar uit die winkel te kry. Buite die winkel het EFF-lede weer aan haar gestamp en gesê “f****f terug Europa toe”, waarna sy gedreig het om haar 7,65 mm-pistool uit te haal. In ’n video van die voorval kan gehoor word hoe die betogers haar koggel met: “Take out your gun, take out your gun.”

Toe Attwell dit uithaal en op die betogers rig, het hulle geskreeu: “Shoot, shoot, shoot!”

Die videogreep waarin Attwell haar wapen op betogers rig.

Sy is deur veiligheidspersoneel weggeneem en Woensdag by die Walmer Park-polisiekantoor aangekla weens die rig van ’n vuurwapen. Sy is op waarskuwing vrygelaat en het Donderdag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn. Haar saak is uitgestel tot 6 November.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het gister die doodsdreigemente teen Attwell bevestig.

“Ons het aangebied om haar te help en het haar laat weet as sy onveilig voel, sal AfriForum se buurtwagte ekstra patrollies aktiveer om haar veilig te hou,” sê Kamfer.

“Wat die EFF-leiers nie verstaan nie, is dat dit hul optrede is wat lei tot ’n direkte invloed onder hul volgelinge en partylede.”

Altesame 37 Clicks-winkels is Maandag en Dinsdag weens die betogings gesluit en Woensdag was al die groep se meer as 720 winkels landwyd gesluit. Sewe winkels is beskadig, waaronder twee in brande.

In eMalahleni is ’n Clicks-tak Dinsdag met ’n petrolbom bestook, terwyl die winkel in die Lemon Tree-winkelsentrum in Alberton erg beskadig is toe toiletpapier aan die brand gesteek en vensters stukkend gegooi is.

Die EFF het by monde van sy voorsitter, Veronica Mente, aan News24 gesê ’n “derde mag” sit agter die vandalisme.

“Hierdie derde mag kan sy haat vir die EFF sover voer as om aan mense EFF-hemde te gee en dan eiendom te beskadig.”

Die EFF en Clicks se bestuur ná hul vergadering. Links van Julius Malema staan Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van Clicks, en regs Sedick Arendse, Clicks se bedryfsbeampte. Foto: EFF

In ’n verklaring ná die party se vergadering Donderdagmiddag met Clicks se uitvoerende hoof, Vikesh Ramsunder, het die EFF gesê hy is voornemens om saam met wetstoepassers te werk om “agents provocateurs” vas te trek wat winkels beskadig het.

Terwyl die EFF sy hande in onskuld was, is talle EFF-lede die afgelope week in hegtenis geneem:

Tien lede is Dinsdag volgens die polisie oor die land heen in hegtenis geneem weens die beskadiging van eiendom by Clicks-winkels.

Onder hulle is die EFF-LP Kenny Motsamai, wat in Evaton in Emfuleni aangekeer is nadat hy ’n Clicks beskadig en ’n polisiebeampte aangerand het. Motsamai, wat op parool is weens sy aandeel in die moord op ’n verkeersbeampte in 1989, is Woensdag op borgtog vrygelaat;

Donderdag is 16 EFF-lede in Stellenbosch in hegtenis geneem omdat hulle voor die Clicks in die Eikestad Mall-winkelsentrum betoog het, ondanks ’n interdik wat Clicks bekom het wat “gewelddadige protesoptrede” verbied. Die 16 sou gister in die hof verskyn het.

Die EFF het nie op ’n navraag gereageer oor of hy hierdie lede met regshulp gaan bystaan nie.

Daarbenewens het EFF-lede ook oor die land heen met lede van die publiek gebots.

Maandag is die eNCA-verslaggewer Nobesuthu Hejana en haar kameraman, Crescendo Low, by die Clicks in Goodwood, Kaapstad, deur EFF-lede, waaronder Mente, verjaag.

Dinsdag het EFF-betogers gedreig om die Netcare Cuyler-hospitaal in Uitenhage af te brand omdat die hospitaal ’n Clicks-apteek het. Die EFF-streekvoorsitter Hector Peter het sy optrede geregverdig deur te sê hy voer slegs die opdrag van sy leier, Julius Malema, uit.

Julius Malema se twiet, wat sedertdien verwyder is.

Malema het verlede Sondag op Twitter geskryf: “@Clicks_SA see you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”

Die twiet is later verwyder toe Clicks met litigasie gedreig het en Maandagaand vervang deur: “Ours is a peaceful protest to help @Clicks_SA close all their stores in SA.”

Peter se gedrag is Vrydag deur die EFF se provinsiale leiers in die Oos-Kaap veroordeel.

Die advertensie wat die onmin veroorsaak het.
Die advertensie wat die onmin veroorsaak het.

Woensdag by die N1 Stad-winkelsentrum in Parow, Kaapstad, het EFF-lede gegil “f** julle wit mense” nadat hulle uit die sentrum verwyder is.

Regskenners sê Malema se oorspronklike twiet was aanhitsing tot geweld en dat hy deur eisers aanspreeklik gehou kan word. Dit het teen druktyd onwaarskynlik gelyk dat Clicks of Unilever sou litigeer.

Die twee firmas het Donderdag by die EFF se hoofkwartier in Johannesburg met die party se leiers, onder wie Malema, vergader en aangedui hulle sal aan verskeie EFF-ultimatums voldoen.

Dit sluit in dat Clicks en Unilever sanitêre doekies uitdeel in plakkerskampe wat deur die EFF geïdentifiseer word en hul indiensnemingsbeleid met die party bespreek.

Ramsunder het die afgelope week aan die Financial Mail gesê die bemarkingspan wat die gewraakte advertensie afgeteken het, het bestaan uit twee wit mense, twee swart mense en ’n bruin bestuurder.

“Ek kon nie glo dis afgeteken nie. Ek bedoel, ons is ’n getransformeerde organisasie en tog mis ons dit toe as ’n span.”

Meer oor:  Diane Attwell  |  Port Elizabeth  |  Hof  |  Eff  |  Gedreig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.