Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou heelnag in yskoue motorwrak vasgekeer
Kim Barnard van Deneysville in die Vrystaat se motor lê op sy dak nadat sy van die pad afgery en die motor teen ’n helling afgerol het.

’n Vrou van Deneysville in die Vrystaat was Sondagaand die hele nag in die koue in haar motorwrak vasgekeer nadat sy vroeër die aand in ’n ongeluk buite die dorp was.

Kim Barnard (58), eienaar van die Deneysville News, is eers Maandagoggend omstreeks 07:15 gered en na ’n hospitaal vervoer.

“Ek het my veiligheidsgordel aangehad en was vasgekeer. Daar was nie ’n selfoonsein nie en ek kon niemand bel nie. Niemand het my kom haal nie,” het Barnard Woensdag gesê.

“Ek wou net doodgaan. Ek het gebid dat God my moet kom haal, want niemand anders het my kom haal nie. Hy kon my toe kom haal, maar Hy het ook nie.”

Volgens haar was sy omstreeks 20:00 op pad na Oranjeville, sowat 25 km van haar, om by ’n vriend te gaan kuier toe sy beheer oor haar Ford Laser verloor.

Haar motor het sowat 12 m teen ’n helling langs die pad afgerol en op sy dak te lande gekom. Verbygaande motors kon nie die motorwrak sien nie en het verby die ongelukstoneel gery sonder dat hulle dit besef het.

Die son was al Maandagoggend op toe Isaac Mofokeng op haar afkom. Hy het dadelik die ambulans gebel. Sy is eers na ’n hospitaal in Sasolburg geneem voordat sy later na ’n hospitaal in Kroonstad oorgeplaas is.

Benewens sy naam, weet sy nie wie Mofokeng is nie. Sy weet wel dat hy nie alleen op die toneel was nie en dat daar ander mense saam met hom was toe hy op haar afkom.

“Ek weet nie hoe hy my gekry het nie. Ek is net baie, baie dankbaar. Almal het verby my gery sonder om te weet ek is daar,” sê sy.

“My arm is gebreek en my borskas voel ook asof dit gebreek is. Ek het ernstige beserings opgedoen. Dit was baie koud deur die nag.”

Sy het Woensdag almal bedank wat vir haar in die hospitaal kom kuier en of gebel het.

Meer oor:  Deneysville  |  Vasgekeer  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.