Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou hou op asemhaal ná hoewe-aanval

Esmé Venter (72), wat Maandag ernstige kopbeserings in ’n hoewe-aanval in Limpopo opgedoen het, het Woensdagaand opgehou asemhaal.

“Sy is na die waakeenheid gehaas, waar sy aan lewensondersteunende masjiene gekoppel is,” het haar kleinseun JP Barnard Donderdagmiddag gesê.

“Sy sou vanoggend geopereer word, maar nadat sy opgehou het om asem te haal en die dokters gesukkel het om haar bloeddruk te stabiliseer, moes dit uitgestel word. Hulle doen nou eers skanderings om seker te maak haar hart is sterk genoeg vir ’n operasie.”

Esmé en Priscilla Venter.

Hy sê sy ouma en gestremde tannie, Priscilla Venter (52), se kop was “so groot soos sokkerballe geswel en dit het gelyk of hul oë gaan uitval” nadat die aanvaller hulle herhaaldelik met ’n graaf aangerand het.

Priscilla en Esmé is albei in die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg, Noordwes. “My tannie het Woensdagaand darem haar oë oopgemaak en familielede herken. Sy kon ook sinvol praat, maar het gou weer haar oë toegemaak nadat sy wakker geword het,” het Barnard gesê. Sy is reeds na ’n gewone saal verskuif. “Sy sal nog geopereer moet word om los skedelbeentjies en skade van die ses snywonde aan haar kop te herstel.”

Die graaf waarmee die twee vroue aangeval is nadat hulle inkopies gaan doen het.

Hulle is met soveel geweld geslaan dat albei se wangbene gebreek het.

Marietie-Louw Carstens het vroeër berig die twee vroue is Maandag op die Wildebeeslaagte-kleinhoewe naby Northam in Limpopo oorval toe hulle laatmiddag teruggekeer het huis toe nadat hulle inkopies gaan doen het.

Hulle is eers herhaaldelik met ’n graaf en toe met ’n besemstok geslaan. ’n Bebloede mes is later in die bloedbesmeerde kombuis gekry.

Esmé het ná die aanval bygekom en by die hoewe se hoofhek om hulp geskree. ’n Man wat op ’n nabygeleë hoewe aan ’n watertenk gewerk het, het haar noodkrete gehoor en hulp ontbied. Priscilla was bewusteloos ná die aanval.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het Donderdag gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek “verskeie leidrade”.

Volgens Barnard is daar ’n verdagte wat op die hoewe gewerk het. Ngoepe het egter gesê die polisie kan nie nou meer inligting bekend maak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.