Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou in hospitaal ná foefieslaaid-ongeluk

’n Inwoner van Secunda in Mpumalanga is steeds in die hoësorgeenheid van die George MediClinic nadat sy beseer is in ’n foefieslaaidongeluk by Tsitsikamma Falls.

Marenthia Cronjé (32), haar man, Jaco (37), en hul kinders was op ’n uitstappie saam met familie. Dit het egter in ’n nagmerrie ontaard.

Marenthia het ’n rugbesering opgedoen en het ’n operasie ondergaan.

Die bestuur het die voorval as ’n “uiters ongelukkige fratsongeluk” bestempel en gesê dit word deur die “betrokke owerhede ondersoek”.

Die gesin gaan nou regstappe doen omdat hulle meen veiligheidsprotokolle was nie op standaard nie.

Dihan, Luhandré, Marenthia en Janco Cronjé.Foto: Verskaf

Die ongeluk het in die lug gebeur tussen twee platforms. Drie kabels loop parallel en drie volwassenes van die Cronjé-gesin het beplan om gelyktydig daar af te gly.

“Ek het ons seun Luhandré (2) op my skoot gehad en Marenthia het ons ander seun, Janco (4), by haar gehad,” het Jaco Dinsdag in die hospitaal gesê waar sy vrou behandel word.

“My skoonma het Janco se tweelingboetie, Dihan, op haar skoot gehad. Hulle twee het eerste afgegly en die oorkant veilig bereik.

“Maar toe ek en my vrou afgly, sien ek die toue is baie pap en lyk nie lekker nie. Ek het vir haar geskree om haar bene op te lig, maar dit was te laat.”

’n Vierde kabel, wat sowat 4 m dwars onder die ander drie gespan was, het Jaco en Marenthia met die kinders op hul skote getref.

“Ek kan nie sê presies wat gebeur het nie, want ek was vir ’n oomblik bewusteloos,” sê Jaco.

So lyk die kabels wat die Cronjé-gesin getref het. Die drie kabels bo is dié waarop hulle afgegly het na onder en die een wat dwars gespan is het hulle getref. Daar is sowat 4 m tussen die kabels.Foto: Verskaf
Die kabels van onder gesien.Foto: Verskaf

“Toe ek bykom, sien ek Marenthia is ook bewusteloos en haar kop hang agteroor. Janco was steeds op haar skoot en baie bang. Hy het gevra hoekom sy ma nie reageer nie.”

Jaco het homself tot op die onderste platform gebring waar hy die personeel, wat volgens hom stomgeslaan rondgestaan het, gevra het om sy vrou te gaan help.

“Iemand het haar uiteindelik gaan haal, maar sy het nie asemgehaal nie. Ek het dadelik kunsmatige asemhaling toegepas en op haar bors gedruk, maar weens my beserings kon ek dit nie lank volhou nie.

“Iemand anders het oorgeneem en nadat ek dit later weer gedoen het, het sy begin asemhaal. Iemand het intussen nooddienste ontbied. Hoewel ’n paramedikus van Doctors Without Borders ons ’n rukkie gehelp het, het ons omtrent anderhalf uur op ’n ambulans gewag.

“Intussen was my vrou net nou en dan by haar bewussyn en het gekreun van die pyn. My seun wat op haar skoot was, het skaafmerke aan sy bene, maar die kinders is andersins oukei.

Marenthia en Jaco Cronje.Foto: Verskaf
Van die beserings aan Jaco Cronje se bene.Foto: Verskaf
Die beserings aan Janco Cronje (4) se bene.Foto: Verskaf

“Ek sidder om te dink wat kon gebeur het as hulle net ’n klein bietjie groter was, of as daai kabel hul bene getref het,” sê Jaco.

Hulle is uiteindelik in ’n hospitaal opgeneem en die kinders is saam met Marenthia se ma huis toe.

Marenthia het drie gebreekte ribbes en ’n rugwerwel bo haar stuitjie is erg beskadig.

“Sy het op die oomblik byna geen gevoel in haar onderlyf nie. Daar is dreineringspype in een van haar longe, maar dit sal hopelik binnekort uitkom. Sy is op sterk pynmedikasie.”

Sy het ook ’n hou teen die kop gekry wat tot harsingskudding gelei het. Jaco het ernstige wonde aan sy bene waar die kabel sy vel afgeskraap het. Dit is verbind.

Hy sê hy is bekommerd dat dieselfde ding met ander mense kan gebeur en wil ander teen die trauma beskerm. Daarom het hy reeds ’n prokureur se dienste gekry wat ’n siviele eis gaan instel.

Tiaan le Roux, ’n bestuurslid van Tstisikamma Falls, sê die bestuur van Tsitsikamma Falls se “opregte wens” is dat almal wat beseer is, binnekort sal herstel.

“Ongelukkig is kommunikasie met hulle deur hul prokureur verbied.

“Tsitsikamma Falls het ’n veiligheidsrekord waarop hy trots is en beskou die voorval in ’n baie ernstige lig. Ons probeer altyd om die veiligheid te verseker van elkeen wat die geriewe gebruik.

“Dit is te vroeg om te bespiegel oor wat gelei het tot die voorval, en inligting sal beskikbaar gestel word sodra die ondersoek afgehandel is,” sê hy.

Meer oor:  Secunda  |  Mpumalanga  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.