Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou ‘met goeie hart’ help buurvrou se baba vang

’n Bloemfonteinse kinderpartytjie-beplanner het die rol van vroedvrou ingeneem toe haar buurvrou op Nuwejaarsdag begin kraam het.

Vivian Makhele het inderhaas by Marzanne Nel aangeklop toe Kagisho, haar skoonsus, erge geboortepyne begin kry.

“Kom help, jy is mos ’n verpleegster!” het Vivian vir haar gesê.

Nel, wat nie ’n verpleegster is nie, het nie twee keer gedink om te gaan help nie en sê die geboorte het baie vinnig en maklik verloop.

“Ek het nooit gedink ek sal so iets ervaar nie.”

Sy het ná die geboorte die ambulans gebel en hulle het gevra hoe die baba lyk.

“Ek het gelukkig geweet ek moenie die naelstring knip nie. Ek het die baba net laat drink.”

Violet en Kagisho Makhele sê hulle sou nie reggekom het sonder die hulp van hul buurvrou Marzanne Nel nie. Nel het ingespring toe Kagisho op Nuwejaarsdag begin kraam het. Foto: André Damons

Kagisho sê sy is veronderstel om te weet hoe geboortepyne voel, want sy het reeds twee seuntjies.

“Maar Woensdag het ek ’n ander soort pyn gevoel en besef die baba kom.”

Sy kon skaars op die bed klim en die kop van die baba was reeds uit toe Nel by haar bed kom.

Nel het eers by die Makheles se huis gesê sy is nie ’n verpleegster nie, maar Vivian het steeds geglo Nel sal kan help.

Sy sê Nel het op ’n keer ’n man gehelp wat voor hul huis in ’n motorfietsongeluk was. Dit is hoekom sy geglo het sy is ’n verpleegster.

“Sy het ’n baie goeie hart.”

Ouma Violet Makhele met Kagisho, haar skoondogter, en hul buurvrou Marzanne Nel. Olerato, wat ’n skamele 1,89 kg weeg, lê op Kagisho se skoot. Foto: André Damons

Kagisho en die kleine Olerato het twee dae in die Pelonomi-hospitaal deurgebring en kon Vrydag huis toe gaan.

Olerato weeg ’n skamele 1,89 kg, maar is blakend gesond en volmaak, sê Violet, haar ouma en Kagisho se skoonma.

Violet sê die band wat hul familie met die Nels het, is die kosbaarste wat daar tussen bure kan bestaan.

Hulle woon reeds nege jaar langs mekaar in Pellissier en skryf die bande toe aan die goeie verhouding tussen Thabo, Violet se oorlede man, en Hanru, Nel se man. Hulle was vriende en deur hulle het die vroue mekaar leer ken en mekaar deurentyd bygestaan.

“Olerato is ’n simbool van mure wat afgebreek word,” sê Violet.

“In hierdie land is daar ’n muur tussen wit en swart mense met al hul verskille, maar met Marzanne en Hanru het ek dit nog nooit ervaar nie.”

Die Makheles het ook die Nels vroeër vanjaar bygestaan toe Hanru ’n hartoorplanting gekry het.

Die Bybelse gebod van liefde vir jou naaste word hier in Besemboslaan vervul, sê Violet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.